Hepatitis E: 5 309 gevalle, 45 dood
Hepatitis E: 5 309 gevalle, 45 dood

Hepatitis E: 5 309 gevalle, 45 dood

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



In die byna twee jaar wat 'n hepatitis E-uitbreking in Namibië woed, is meer as 5 300 gevalle landswyd aangeteken en is 45 mense aan die siekte dood.

Op 14 Desember 2017 is 'n uit­breking van die siekte in Windhoek, in die Khomasstreek, verklaar en tot 2 Junie vanjaar is 5 309 gevalle daarvan aangeteken. Van die 45 sterftes was 20 swanger vroue.

Die siekte het in April verlede jaar ook na ander streke versprei, waaronder Erongo, Kavango, Ohangwena, Omusati, Oshana, Oshikoto en Omaheke.

Volgens die jongste verslag deur die ministerie van gesondheid en maat­skaplike dienste (MoHSS) kom die meeste gevalle uit informele nedersettings soos Havana en Goreangab in Windhoek, die DRC by Swakopmund en soortgelyke gebiede in ander streke waar toegang tot veilige water, sanitasie en higiëne beperk is.

Die meeste gevalle uit streke wat minder deur die uitbreking geraak word, het 'n reisgeskiedenis na die genoemde informele nedersettings in Windhoek en Swakopmund.

Benewens die agt geraakte streke is sporadiese gevalle van die siekte ook in dié distrikte aangemeld: Khorixas (Kunene) – 6; Rehoboth (Hardap) – 4; Lüderitz (||Kharas) – 5.

In al vier distrikte in die Otjozondjupastreek is 11 sporadiese gevalle aangeteken.

Die meerderheid van die 5 309 gevalle was in die ouderdomsgroepe 20 tot 29 jaar en 30 tot 39 jaar.

Die siekte het die minste onder kinders jonger as 'n jaar voorgekom.

Meer mans (57% of 3 020 gevalle) is deur die siekte geraak as vroue (43% of 2 289).

Khomas is steeds die streek wat die meeste deur die uitbreking geraak word, waar 65% van bevestigde gevalle voorgekom het.

Dit word gevolg deur die Erongostreek met 24% van bevestigde gevalle.

Volgens die MoHSS het die Omusatistreek ook 'n toename in gevalle gehad met 'n totaal van 37.

In al die ander streke buiten Kavango en Kunene is slegs 'n paar sporadiese gevalle sedert 2018 aangemeld.

Volgens die ministerie is daar die afgelope twee weke 'n beduidende afname in die aantal gevalle wat aangemeld word.

Tussen 20 Mei en 2 Junie is 56 gevalle landswyd aangemeld.

Dit is laer as 96 in die vorige twee weke.

Uit dié 56 gevalle was 37 in Khomas, nege in Erongo, agt in Omaheke en twee in Hardap.

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer