Henties-herrie na aanklaer-generaal

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat 'n adjunkminister Sondag 'n strafklag aanhangig gemaak het nie.
Denver Kisting
Denver Kisting



Dae nadat hy en sy gesin glo tydens hul somerkusvakansie gekasty is, het die adjunkmi­nister van inligting en kommunika­sietegnologie, mnr. Engel !Nawatiseb, Sondagmiddag 'n klag van naamskending aanhangig gemaak.

AO Immanuel Iiduwa, 'n polisiewoordvoerder, het gister gesê !Nawatiseb is na bewering tussen Kersdag en verlede Vrydag by Solitude and Skubbe Bar op Hentiesbaai deur 'n onbekende aantal verdagtes beswadder.

Onder meer, sê Iiduwa, is die adjunkminister daarvan beskuldig dat hy 'n aandeel in die sogenaamde #Fishrot-skandaal het, wat die afgelope amper twee maande tot twee van sy eertydse kollegas se bedanking gelei het. Dié mans, mnre. Bernhard Esau, Sacky Shanghala en hul vermeende trawante, het glo reusebedrae omkoopgeld ontvang in ruil vir Namibiese viskwotas.

Hiernaas, sê Iiduwa, is !Nawatiseb na bewering by sy private woning geteister en is beweerde lasterlike video's oor hom in die sosiale media gedeel.

Die woordvoerder sê die klag is 16:00 Sondag aanhangig gemaak.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie, sê Iiduwa.

Mnr. Paul Smit, 'n inwoner van Hentiesbaai wat by die beweerde onderonsie met !Nawatiseb en sy familie betrek word, het gistermiddag telefonies sy weergawe met Republikein gedeel.

Volgens hom was hy en sy gesin rustig op Kersdag toe hulle “van 10:00 af irriterende musiek” gehoor het. Smit sê hy kon hoor die musiek speel nie by enige van hul bure nie.

Hy het omstreeks 14:00 'n draai gery om vas te stel uit watter oord die musiek gekom het. By sy aankoms by die eertydse kroeg het hy besef dís waar die musiek vandaan kom. “Toe loop ek in om vir die mense te vra om die musiek 'n bietjie sagter te maak.”

Behalwe dat die man wat die musiekstelsel beman het hom glo geïgnoreer het, het 'n vrou hom na bewering bestorm en op hom geskreeu, sê Smit.

'n Ander man het toe glo 'n bottel gebreek en gesê: “Ek jaag jou hier uit. Ek sny vir jou,” voer Smit aan.

Hy is deur angs oorval, sê Smit.

“Ek was bang. Ek was omring deur 'n klomp swartes. Ek het kar toe gehardloop.”

Volgens hom het hy toe by die polisie oor die geraas gaan kla. Hulle, sê hy, het gesê hulle het toe glo reeds talle klagtes hieroor ontvang en het onderneem om stappe te doen. Teen 17:00 of 18:00 was die musiek volgens Smit af.

Hy sê hy het geen klag by die polisie aanhangig gemaak nie – ook nie oor die beweerde dreigement met die gebreekte bottel nie. “Nee, ag man, dis onbenulligheid.”

Die dag ná Kersfees het hy ontdek die riool loop uit !Nawatiseb se huis “van die agterkant teen die duin af”. Hy het foto's geneem om met die gesondheidsowerhede te deel, vertel hy.

“Toe jaag sy mense my met so 'n wit karretjie met 'n Tsumeb-registrasie. Ek het dit geïgnoreer.”

Smit sê toe hy weer sy oë uitvee, sien hy !Nawatiseb se brief.

“Nooit was daar rassisme betrokke nie. Daar is nie rassisme op die dorp nie.”

Hy sê hy dink !Nawatiseb was óf kwaad toe hy die drie bladsy lange brief geskryf het óf iemand anders het dit geskryf, “want almal sê vir my dis nie in sy geaardheid nie”.

Volgens Smit, 'n makelaar, was die polisie teen gistermiddag nog nie by hom oor die strafregtelike klag wat die adjunkminister aanhangig gemaak het nie.

Hieroor sê hoofinsp. Kauna Shikwambi, ook 'n polisiewoordvoerder, die dossier sal direk na die aanklaer-generaal verwys word vir 'n beslissing oor moontlike vervolging.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!