Helde red beseerde maats

27 August 2019 | Ongelukke
Ronelle Rademeyer op Mariental - Teen laat gistermiddag is ten minste drie van die 19 leerlinge van Windhoek Gymnasium se graad 7-toergroep wat Sondagoggend in die busongeluk buite Mariental beseer is, nog in die Lady Pohamba Privaat Hospitaal in die hoofstad behandel.

Min het dié leerlinge en hul klasmaats met sonsopkoms Sondag toe hulle opgewonde en vol afwagting in twee busse verby hierdie einste hospitaal gery het, geweet wat die dag vir hulle sou inhou. Angela Maiba en Jacques Venter het gesterf toe die Sunshine Tours-bus, waarin hulle saam met 53 ander klasmaats gereis het, sowat 40 km buite Mariental gerol en op sy dak te lande gekom het.

“Mienke Collard, die hoofmeisie, en Charl Marais was die helde wat die beseerdes gered het toe die bus nog wiele-in-die-lug op sy dak gelê het,” het me. Eileen Rakow, ’n skoolouer, gister vertel.

“Die bus het later gekantel en op sy sy beland.” Sy vertel hulle het dapper hul beseerde klasmaats een vir een deur oop ruite uitgehelp. “Mienke het hulle van binne af deur die ruit vir Charl aangegee, wat buite die bus gestaan het.” Die ongeluk het omstreeks 08:45 plaasgevind.

Altesaam 99 leerlinge was vir die skool se jaarlikse graad 7-toer na die Oranjerivier op pad om met kano’s op die rivier te gaan roei.

Rakow se seun, Hans-Dieter (13), en ’n ander klasmaat, Katalina Hilengwa, is tydens die ongeluk na buite geslinger. Katalina het beserings aan haar rug en hand opgedoen en Hans-Dieter moes 300 steke in sy gesig kry.

“Die ander seun met ernstige gesigbeserings is Clive Raines,” sê Rakow.

Die busbestuurder het sowat 80 tot 100 m voor die ongelukstoneel links van die pad af gery. Remmerke in die gruis op die padskouer wys hy het die bus teruggepluk pad toe en ’n stormwatersloot net-net gemis. Daarna het die bus oorbeweeg na die regterkant van die pad, met remmerke op die teer wat toon dit is weer links gepluk, waar dit toe die pad verlaat en gerol het.

Die busbestuurder sal na verwagting vandag in die landdroshof op Mariental verskyn, het adj.komm. Josef Gaeseb, waarnemende streekbevelvoerder van die polisie in die Hardapstreek, aan Republikein gesê.

Hy staan tereg op klagte van strafbare manslag, bestuur onder die invloed van alkohol en roekelose en nalatige bestuur. Volgens Gaeseb het die bestuurder se blaastoets op die toneel ’n lesing van 0,19 (mg alkohol per 1 000 ml asem) getoon. Dit is minder as die toelaatbare 0,37 vir padgebruikers. (Sien ook die berig hiernaas.)

BUSDIENS

Me. Colette Rieckert, uitvoerende hoof van Windhoek Gymnasium, het gister aan Republikein gesê Sunshine Tours “het nog altyd uitmuntende diens aan die skool gelewer”. “Ons het nog nooit getwyfel in hul standaard of die veiligheid wat hulle bied nie. Ons het al honderde toere deur hulle gedoen. ’n Mens kan nie die organisasie kruisig vir wat een mens gedoen het nie,” het sy gesê.

Volgens Rieckert word Curro Holdings, aan wie die skool behoort, se uitvoerende hoof, mnr. Andries Greyling, en die handelsmerkbestuurder, me. Marié Lategan, vandag uit Suid-Afrika in Namibië verwag. “Hulle sal die tegniese aspekte van die voorval verder met Sunshine Tours hanteer.”

Intussen word reëlings getref vir private gedenkdienste vir Jacques en Angela volgende Dinsdag en Woensdag in die skoolsaal. “Dit sal deur hul families hanteer word, terwyl ons as skool Donderdag ’n groot gedenkdiens sal hou om hul lewens te vier en van hulle afskeid te neem,” sê Rieckert.

“’n Paar spanne beraders sal Maandagoggend wanneer die skool begin hier wees om met die kinders te werk en vir hulle traumaberading te gee. “So hartseer soos wat dit is, bied hierdie ’n amazing geleentheid vir inspraak in die kinders se lewe. Met die dood so na aan hulle kry die lewe vir hulle ander betekenis.” Sy sê dit is belangrik dat die kinders berusting kry en die tragedie verwerk.

ONDERSTEUNING

Ds. Christo Swarts, NG-leraar op Mariental, het leerlinge en ouers Sondag by die staatshospitaal op dié dorp saam met ds. Johan Dunn van die Gereformeerde Kerk op Keetmanshoop emosioneel ondersteun.

Rakow sê dit is “ongelooflik hoe die gemeenskap van Mariental dadelik ingegryp en bystand verleen het”.

“Clive se oupa en ouma (me. Elsa en mnr. Jan Augustyn) was van die eerste mense op die ongelukstoneel.

“Hulle het by die Wimpy op Mariental vir die bus gewag, want hulle wou vir hul kleinseun ’n pakkie saamgee. Toe die bus nie opdaag nie, het hulle gery om te gaan kyk wat aangaan,” vertel sy.

“Die mense van Mariental was só goed vir ons. Daar is kos, water en koeldrank afgelewer en die privaat dokters op die dorp het uit hul eie by die staatshospitaal kom hand bysit.”

Mnr. Danie Theunissen, skoolhoof, en sy adjunk, mnr. Mauritz Thirion, was ook vol lof vir die mense van Mariental, asook die ambulanspersoneel en nooddienswerkers.

“Die Namibia Marshall Rangers en die mense van OHS Emergency Response het wonderlike werk gedoen,” sê Theunissen.

[email protected]

Soortgelyk

 

Nuwe Psemas-kontrak (weer) uitgestel

1 uur gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Die staat se mediese fonds (Psemas) se nuwe kontrak met gesondheidsdiensverskaffers wat reeds sedert 2017 sloer, is weer uitgestel, die keer tot...

Beeste uit Botswana vul tekort aan

1 uur gelede | Byvoegsels

Ronelle Rademeyer - Sowat vier maande nadat Botswana sy grens vir die uitvoer van lewende slagbeeste na Namibië oopgestel het, kon Meatco op Dinsdag 18...

Boer skiet glo 'mieliedief'

1 uur gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - 'n Boer van Tsumeb het Maandag op ‘n klag van poging tot moord in die landdroshof verskyn nadat hy glo ‘n vermeende...

Weer, Woensdag 26 Februarie 2020

1 uur gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolkte en baie warm weer sal in die Kunene-Wesstreek heers. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees met geïsoleerde,...

Samherji-werkers afgelê

1 uur gelede | Misdaad

Leandrea Louw – Sowat 210 werknemers van die vaartuie MV Saga en MV Geysir gaan aanstaande maand afgelê word. Die werknemers is vroeër vandeesmaand gestrand...

Posisioneer jouself betyds vir groter wins

1 uur gelede | Landbou

Christo du Plessis, Dierevoedingskundige: Feedmaster – In hierdie artikel kyk ons na die sleutelkwessies in rooivleisproduksie wat wins dryf, en hoe fosforaanvulling produsente se winsgewendheid...

N$14 miljoen vir kragprojek bewillig

1 uur gelede | Regering

Yandi du Plessis - ’n Sooispitseremonie vir die voorsiening van krag aan die Otjomuise- en Havana informele nedersettings het Vrydag in Otjomuise in die hoofstad...

Houthandel: Bewerings van vuilspel

1 uur gelede | Omgewing

Catherine Sasman – Die ministerie van landbou, water en bosbou het onlangs erken gevalle van onwettige houtoeste het wel plaasgevind sedert ’n moratorium op oeste...

Lesersfoto's 26 Februarie 2020

1 uur gelede | Lesersfoto's

Lesersfoto's 26 Februarie 2020