Harde woorde val by visvergadering

Maasbankerverwerkers soek eksklusiewe vangsones

08 March 2021 | Visserye
Ronelle Rademeyer



Harde woorde het Vrydag geval toe Namibië se aanlandige maasbankerverwerkers 'n twee uur lange noodvergadering met dr. Albert Kawana, minister van visserye en mariene hulpbronne, oor die krisis in dié segment van die ­visbedryf gehad het.

Dit volg nadat Kawana die Erongo­streek verlede week besoek het om met verskeie belanghebbendes in die visbedryf te vergader.

Die visbedryf bloei ná die regering se viskwotaveiling in 2020 misluk het en nie die ekonomiese oplewing gebring het waarop gehoop is nie.

Die eienaars van visfabrieke wat maasbanker vang en wal toe bring om aanlandig te verwerk, probeer reeds maande lank hul “komplekse en tegniese” uitdagings onder die regering se aandag bring en het vroeër vanjaar in briewe aan Kawana en pres. Hage Geingob gevra 'n uitvoerende taakspan bestaande uit kundiges moet aangestel word om aan hul dilemma aandag te gee.

Die aanlandige maasbankerverwerkers dring onder meer daarop aan dat eksklusiewe visvangsones vir hulle geskep word. As dit nie gebeur nie, staan hulle gevaar om binne die volgende twee maande onder te gaan, waarna meer as 2 000 werknemers op straat sal beland.

Hulle soek in pas met die gebruik elders in die wêreld 'n “voorgee­gebied” van 30 m tot 50 m waar dié maatskappye met groot fabrieksbote wat bevriesing op see doen, nie toe­gelaat word om saam met die aan­landige verwerkers se kleiner vissersbote vis te vang nie.

Alternatiewelik vra hulle dat net hul vissersbote tussen sekere breedte­grade langs die Namibiese ­noordkus toegelaat word.

Dié verwerkers het aanvanklik gevra die isobar-beperking wat hul vangste tot 'n diepte van 200 m beperk, moet opgeskort word.

Kawana het verduidelik dit is nie moontlik nie aangesien Namibië een van 14 lande is wat die Blou Ekonomie-beleid aanvaar het.

Die isobar-beperking is 'n meganisme om visbronne te beskerm.

'n Bron in die visbedryf wat verkies om anoniem te bly, het egter gister by navraag aan Republikein verduidelik dat maasbankervangste in Suid-Afrika, waar aansienlik meer wetenskaplike navorsing gedoen word, tot op 300 m toegelaat word.

Volgens mnr. Jason Angala, voorsitter van die Vereniging vir Aanlandige Maasbankerverwerkers, maak die 200 m-beperking dit vir die vissersbote van aanlandige verwerkers onmoontlik om vanaf einde Julie tot vroeg in November vis te vang.

“Hoewel die aanlandige maasbankeraanlegte jaarliks meer as 155 000 ton maasbanker kan verwerk, is ons vir ten minste die helfte van die jaar nie operasioneel nie,” sê Angala.

Dit is teen dié agtergrond dat die aanlandige verwerkers op 'n eksklusiewe voorgeegebied aandring waar hulle nie met die groot fabrieksbote vir maasbankervangste hoef mee te ding nie.

Mnr. AJ Louw, voorsitter van Seaflower Pelagic Processing (SPP), het Vrydagmiddag in 'n stemnota aan ander aanlandige maasbankerverwerkers gesê dít was die boodskap wat hy tydens die vergadering aan Kawana wou oordra.

Die ander maatskappye naas SPP wat aanlandige verwerking doen, is Gendev Fishing Group en Tunacor.

Die visseryeminister het Louw egter ná drie minute in die rede geval en wou hom nie kans gee om klaar te praat nie.

'n Klankgreep van die woordewisseling tussen Louw en Kawana sirkuleer tans op WhatsApp onder belanghebbendes in die visbedryf.

Louw het Kawana daarop gewys dat hy deel was van die kabinet se besluit in 2011 om die maasbankerbedryf tot voordeel van alle Namibiërs te hervorm, en gesê dit het misluk.

Die maasbankerverwerkers het in 'n voorlegging aan Kawana gesê hulle het meer as N$2 miljard belê en meer as 2 000 werksgeleenthede geskep, maar word nie oor dieselfde kam geskeer as die stokvisbedryf nie.

“In die stokvisbedryf het 100% van die kwotas aanvanklik aan die fabrieksbote gegaan, maar dit is mettertyd aangepas en nou kry die aanlandige stokvisverwerkers 70% van die kwota en verskaf werk aan 10 000 Namibiërs,” sê Louw.

In die maasbankerbedryf is die kwotaratio tussen die fabrieksbote en die aanlandige verwerkers 60:40, terwyl net sowat 400 werksgeleenthede deur die fabrieksbote geskep word waar vis aan boord gevries en uitgevoer word. - [email protected]

Soortgelyk

 

Uitstel van eksamens: Integriteit van eksamen, kwalifikasie moet beskerm...

6 ure gelede | Onderwys

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur sê dit het 'n wettige kontrak met Cambridge International om te verseker dat kredietwaardige eksamens geskryf word wat...

Styging van 56% in nuwe gevalle, 184 gister aangemeld

11 ure gelede | Gesondheid

Gister is 184 nuwe gevalle aangemeld, 'n positiewe koers van 3,9% en 56% meer as die vorige dag. Die meeste gevalle is in Windhoek en...

Veldbrande woed al tien dae

1 dag gelede | Ongelukke

Tanja Bause’n Groot aantal beeste loop langs distrikspaaie noordoos van Windhoek waar verwoestende veldbrande boere tussen Steinhausen en Omitara genoop het om grensdrade te knip...

‘Voltooi vanjaar se eksamen’

1 dag gelede | Ministeries

Henriette LamprechtSkryf die vraestelle wat moontlik is vóór die einde van die jaar met nuwe vraestelle in die plek van dié wat uitgelek het, identifiseer...

Oscar-benoeming dalk in ‘The White Line’ se visier

1 dag gelede | Byvoegsels

Die plaaslike rolprent The White Line is amptelik in die wedloop om oorweeg te word vir ’n moontlike Oscar-benoeming. Dit is die eerste Namibiese rolprent...

Voortrekkers trap vir renosters

1 dag gelede | Byvoegsels

Karli RudolphDie Voortrekkers vier vanjaar hul 90ste bestaansjaar met die tema “Voortrekkers gaan groot”. Die Namibiese Voortrekkers het daarom besluit om hul eie span vir...

V5 Digital a forerunner in digital solutions

1 dag gelede | Tegnologie

Iréne-Mari van der WaltMore than three years ago, Armin Wieland founded his business, V5 Digital, after noticing that there was a lack of companies in...

Do it with passion or not at all

1 dag gelede | Howe

Desiree Gases Ngeendina Angula, born and raised in Greenwell, Windhoek, moved to Cape Town, South Africa, when she was 13 years old and lived there...

A love for engineering and airplanes

1 dag gelede | Vervoer

Wetumwene Shikage Describing her journey at Fly Namibia, Gabriela Kamaahene says the experience has been surreal. She says the company continuously grows and she...