Gróót klip uit rolstoelatleet se pad gerol

13 February 2020 | Sport
Roodly Gowaseb, Namibië se rolstoelatleet, het 'n gesament­like borgskap van N$25 060 van Hollard Insurance en Snyman Transport ontvang sodat hy Saterdag aan die negende Outeniqua-rolstoeluitdaging op George in die Suid-Kaap kan deelneem.

Die borgskap aan die Nasionale Paralimpiese Komitee van Namibië (NNPC) open die deur vir Gowaseb se deelname aan die jaarlikse wedren.

Gowaseb het aan Nampa gesê hy is verheug om die borgskap te ontvang om aan die 2020 Outeniqua-kampioenskap deel te neem.

“Ek het hard gewerk en is gereed vir Saterdag se 42 km. My doel is om te kwalifiseer vir die Londen-marathon, wat 'n regstreekse kwalifisering vir die 2020 Paralimpiese Spele kan beteken,” het hy gesê.

Michael Hamukwaya, sekretaris-generaal van die NNPC en afrigter, sê hul oefenprogram het goed verloop.

“Ons het regtig goed voorberei vir hierdie geleentheid, maar dit was 'n bietjie gevaarlik, want ons het op die snelweg gaan oefen, wat altyd baie besig en lewensgevaarlik is.

“Ons strewe is om eerder rollers te kry om binnenshuis te kan oefen, wat op die ou end meer doeltreffend sal wees, net soos wat ander jaers regoor die wêreld dit doen,” het Hamukwaya gesê. Hy het 'n beroep op die sakesektor gedoen om steeds aan boord te kom en Gowaseb te help met sulke oefentoerusting wat nog benodig word.

Hamukwaya is positief dat Gowaseb die naweek sy alles sal gee en moontlik 'n kwalifiserende plek vir Namibië na die komende Paralimpiese Spele sal behaal.

Die kwalifiserende tyd vir die Londen-marathon is een uur 30 minute oor die 42,2 kilometer. “As ons nog 'n vinniger tyd kan behaal, is dit 'n wonderlike prestasie, want as ons vir die Londen-marathon kwalifiseer, is ons op koers vir 'n plek by die Paralimpiese Spele,” het hy gesê.



MOTORBOTSING

Agtien jaar gelede was die jong Roodly Gowaseb op die agtersitplek van 'n voertuig, toe dit van die kant getref is deur 'n bestuurder wat oor 'n rooi lig gejaag het.

Roodly, destyds 'n sokkerspeler vir Nampol, is sedertdien verlam in sy onderlyf.

Gedurende die twee weke in intensiewesorg, gevolg deur nog tien weke van herstel, het die erns van sy beserings en die nuwe werklikheid begin insink. Depressie het gevolg en vir 'n lang tyd kon Roodly nie sy situasie hanteer nie en het hy selfs oorweeg om sy eie lewe te neem.

“Dit was die laagste punt van my lewe, maar deur geloof het ek volhard.”

Roodly, van nature 'n aktiewe persoon, het 'n nuwe passie in die lewe gesoek wat hom van die beperkinge van sy rolstoel kon bevry. Hy het eers in rolstoelbasketbal uitgeblink en het begin besef dat hy hom nie deur sy denke moet beperk nie.

Toe hy kort daarna aan rolstoelfietsry voorgestel is, was dit 'n keerpunt: “Ek het onmiddellik verlief geraak op die vryheid en die spoed.”

In die najaag van sy nuwe passie druk Roodly homself hard om sy volle potensiaal te bereik en hy oefen meedoënloos. Die vrees om iets aan te pak wat hy gedink het hy nooit sou kon doen nie, het hy reeds oorkom.

In 2016 het hy aan die Outeniqua-rolstoeluitdaging se 21 km wedren deelgeneem. Hy het tweede geëindig en die silwer huis toe gebring. Die volgende jaar, gemotiveerd en vasberade, takel hy dieselfde afstand en jaag eerste oor die wenstreep.

Koerantberigte het onlangs die storie gedeel oor Roodly se hoop om vanjaar aan die Outeniqua se 42 km afstand deel te neem, maar wat weens 'n geldtekort dalk 'n onvervulde droom sou moes bly.

Snyman Transport en Hollard Namibia het kennis geneem en het saam besluit om die N$25 060 te borg wat Roodly vir sy droomreis na Suid-Afrika nodig gehad het.

Hollard sê in 'n verklaring: “Vir iemand om so 'n trauma te verwerk en om steeds die ambisie te vind om iets so ongelooflik soos sukses as 'n atleet na te jaag en op die internasionale arena deel te neem, verdien al die ondersteuning en bewondering wat ons by Hollard en Snyman Transport kan gee.

“Ons is dus baie trots om vir Roodly te ondersteun, omdat hy met trots sy land, sy mense en elkeen wat deur dieselfde werklikheid in die gesig gestaar word, gaan verteenwoordig.

Gowaseb sê: “Die gedwonge verandering in my lewe was oorweldigend; die laagtepunte was nóg moeiliker om te oorkom, maar ek het bo dit uitgestyg. Met positiewe denke sal jy vind dat die krag wat jy nodig het, reeds binne jou is.

“Moet nooit moed opgee met jou lewe of moed verloor met jouself nie. Jy het die vermoë om absoluut enig­iets te bereik indien jy jou gedagtes reg inspan.”

- Nampa en nuusverklaring

Soortgelyk

 

Nuwe Psemas-kontrak (weer) uitgestel

3 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Die staat se mediese fonds (Psemas) se nuwe kontrak met gesondheidsdiensverskaffers wat reeds sedert 2017 sloer, is weer uitgestel, die keer tot...

Beeste uit Botswana vul tekort aan

3 ure gelede | Byvoegsels

Ronelle Rademeyer - Sowat vier maande nadat Botswana sy grens vir die uitvoer van lewende slagbeeste na Namibië oopgestel het, kon Meatco op Dinsdag 18...

Boer skiet glo 'mieliedief'

3 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - 'n Boer van Tsumeb het Maandag op ‘n klag van poging tot moord in die landdroshof verskyn nadat hy glo ‘n vermeende...

Weer, Woensdag 26 Februarie 2020

3 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolkte en baie warm weer sal in die Kunene-Wesstreek heers. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees met geïsoleerde,...

Samherji-werkers afgelê

3 ure gelede | Misdaad

Leandrea Louw – Sowat 210 werknemers van die vaartuie MV Saga en MV Geysir gaan aanstaande maand afgelê word. Die werknemers is vroeër vandeesmaand gestrand...

Posisioneer jouself betyds vir groter wins

3 ure gelede | Landbou

Christo du Plessis, Dierevoedingskundige: Feedmaster – In hierdie artikel kyk ons na die sleutelkwessies in rooivleisproduksie wat wins dryf, en hoe fosforaanvulling produsente se winsgewendheid...

N$14 miljoen vir kragprojek bewillig

3 ure gelede | Regering

Yandi du Plessis - ’n Sooispitseremonie vir die voorsiening van krag aan die Otjomuise- en Havana informele nedersettings het Vrydag in Otjomuise in die hoofstad...

Houthandel: Bewerings van vuilspel

3 ure gelede | Omgewing

Catherine Sasman – Die ministerie van landbou, water en bosbou het onlangs erken gevalle van onwettige houtoeste het wel plaasgevind sedert ’n moratorium op oeste...

Lesersfoto's 26 Februarie 2020

3 ure gelede | Lesersfoto's

Lesersfoto's 26 Februarie 2020