Goedkoop erwe vir Oshakati en Okahao
Goedkoop erwe vir Oshakati en Okahao

Goedkoop erwe vir Oshakati en Okahao

Ingevolge ’n nuwe vennootskap word titelaktes met gedeeltelik gedienste erwe verkoop.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) en Development Workshop Namibia (DWN), ’n nieregeringsorganisasie wat op stedelike ontwikkeling fokus, het gister hul laekoste-grondprogram van stapel gestuur.

Op Oshakati en Okahao sal dié vennootskap vandeesweek meer as 400 erwe uitmerk, wat ná dit gedeeltelik gediens is teen tussen N$10 000 en N$15 000 elk verkoop sal word.

Volgens dr. Beat Weber, stigter van die Development Workshop Namibia, word sowat 12 000 sinkhuisies jaarliks in Namibië opgerig.

“Om die groei van informele nedersettings doeltreffend aan te spreek, word ’n grootskaalse program vereis waardeur grond gelewer word,” sê Weber.

“Op Oshakati ontwikkel die program tans 120 erwe en 300 op Okahao. Sodra die eerste projeksiklus voltooi is, sal die volgende fase begin. Een siklus neem sowat agt maande.”

Volgens Weber sluit die diens van dié erwe toegang tot water, paaie en hulp om tydelike toilette aan te bring in, terwyl die plaaslike owerhede die betrokke dorp se rioolstelsel ontwikkel.

Volle titelaktes word by die erfbedrag ingesluit, en daar word aan die wetlike vereistes vir dorpstigting voldoen, sê hy.

“Een van die voorwaardes vir die eiendomsbewyse is ’n verkoopsmoratorium van sewe jaar, wat beteken die nuwe eienaars kan hul persele vir dié tydperk nie verkoop nie. Dit is om spekulering met grond te vermy,” sê Weber.

“Sodra mense die erf betaal het, kan hulle dit beset. Omdat die kopers aan laeinkomstegroepe behoort, word hulle toegelaat om eers ’n tydelike struktuur te bou, maar hulle moet binne een jaar met stene begin bou.”

Volgens hom maak dié betekenisvolle afname in koopbedrag die grond vir arm Namibiërs meer toeganklik.

“Die munisipaliteit voorsien die grond verniet, en die diensverskaffers werk nie vir ’n wins nie,” sê hy.

“Bouriglyne word deur die projek verskaf. In teenstelling met die onbeplande ontwikkeling van informele nedersettings is die nuwe laeinkomste-woonbuurte goed beplan en kan dit maklik mettertyd met rioolstelsels en elektrisiteitsnetwerke opgeknap word. Die hoofdoel van die program is om die grondslag vir beplande stedelike uitbreiding te lê,” sê Weber.

“Die skema is uitsluitlik vir laeinkomste-kopers wat vir die eerste keer grond koop, en alle aansoeke word noukeurig nagegaan. Begunstigdes het tussen 8 en 12 maande om die erwe af te betaal. Die projek is tans op Oshakati, Okahao, Karibib en Tsandi geïmplementeer. Verskeie ander plaaslike owerhede het hul belangstelling uitgespreek om aan die program deel te neem,” sê Weber.

Die vennootskap bestaan sedert 2018 en geniet die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling, in samewerking met plaaslike owerhede, se ondersteuning.

“Ons ontwikkel woonbuurte vir ’n gesamentlike toekoms,” sê Weber.

“Die doel is om jaarliks voldoende bekostigbare grond vir behuising te ontwikkel sodat die informele huismark oorbodig is. Die projekte word in leë gebiede aan dorpe se buitewyke geïmplementeer. Daar is dus geen bestaande inwoners in dié projekgebiede nie,” sê hy.

DWN voorsien die program van tegniese kundigheid en bestuursvernuf, terwyl die Kamer van die Omgewing die programfonds bestuur.

Die fonds word deur die Duitse samewerkingsorganisasie GIZ, die Kamer van Mynbou, B2Gold, RMB Namibia en Air Namibia ondersteun.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!