Gerhard van Wyk ter ruste gelê

Noordwes-gemeenskap in rou

18 March 2021 | Gemeenskap
Francoise Steynberg op Outjo

Wyle Gerhard van Wyk (54) is gister deur ds. Lukas Coetzer van die NG gemeente Outjo as 'n besonderse "impakspeler in die gemeenskap en natuurbewaring" beskryf.

Van Wyk is gister op Outjo begrawe nadat hy op 27 Februarie noodlottig op die plaas Kaross in die Kamanjab-distrik, waar hy die plaasbestuurder was, gewond is.

Hy is na bewering die aand tydens 'n argument deur sy werkgewer en die eienaar van die plaas, die alombekende Britse sakeman, mnr. Harvey Boulter (51), in die maag gewond.

Van Wyk is op pad hospitaal toe dood. Boulter, wat permanente verblyfreg in Namibië het aangesien hy as ’n "reusebelegger" beskou word, het volgens die polisie homself in die hand gewond. Hy is in 'n Windhoekse private hospitaal opgeneem nadat hy in die Outjo-landdroshof op 'n klag van moord verskyn het.

"Gerhard was oral geliefd: As jy kyk hoeveel natuurbewaarders vandag hier is, het hul vriendskappe ná 30 jaar saam in natuurbewaring blywend gebly. Hy het baie vir die natuur gedoen," het Coetzer gesê.

Van Wyk was as natuurbewaarder by Namutoni in die Etosha Nasionale Park gestasioneer, waarna hy by Epache Lodge gewerk het voordat hy Kaross vir Boulter tot 'n spogwildplaas opgebou het.

Die voormalige parkhoof van Etosha, mnr. Pierre du Preez, het bewoë by die begrafnis gesê hulle het saam as natuurbewaarders begin werk.

By die begrafnisdiens was nie net natuurbewaarders nie, maar ook boere, leiers in die landbougemeenskap en plaaswerkers wat Van Wyk as 'n baie goeie man beskryf het.

"Ons harte en ons lewens is stukkend, ons is ontspoor en erg deurmekaar. Ons het intense hartseer en is in 'n emosionele gemors," het Coetzer gesê, wat die diens uit Efesiërs 1, vers 3-14 gelei het.

"Ons is geruk deur hoe vinnig Gerhard gegaan het. Ons weet nie hoe lank ons nog gaan lewe nie; maak dus 'n verskil in die lewe, soos Gerhard."

Coetzer het die gemeenskap gevra om vir sy vrou, Alta, seun Gerhard, dogter Michelle en familie te bid vir wysheid vir die pad vorentoe en 'n helpende hand uit te reik: "Gee om vir hulle en help hulle in hierdie tyd van onreg. Iets slegs wat gebeur het, is nie 'n straf van God nie. Help hulle om 'n skoon, nuwe lewe te begin."

Sy vrou Alta het in die begrafnisbrief geskryf Gerhard se liefde vir God was tasbaar en vir sy kinders onmeetbaar groot.

"Jou liefde vir my sal nêrens gevind word nie. Jy is te vroeg weggeruk. My hoekoms en vrae sal vir ewig bly. Jy het dit nie verdien nie. Jy was my alles.

"Ons het almal 'n doel in die lewe en dit is om 'n robvelliespoor te los. Soos jy."

Volgens Van Wyk seun, Gerhard, sal sy pa se menswees en nalatenskap in die lewe "nooit deur hierdie gebeure oorskadu word nie".

Met die wolke in die lug as belofte van reën is Van Wyk se kis in die Outjo-begraafplaas laat sak met die rou snikke van plaaswerkers in die agtergrond en 'n atmosfeer van verlies en verslaentheid.

Die draers van Van Wyk se kis was sy seun, Gerhard, dogter Michelle, broer mnr. Rudi van Wyk, skoonpa mnr. Jaap de Jager en swaers mnre. Marius Biermann, Jakob de Jager, Arra de Beer en Jaco Pieterse.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Robberts bly in aanhouding

10 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die 36-jarige mnr. Daniel (Danie) Robberts bly in aanhouding nadat hy na bewering sy vriend, mnr. Thomas Frederick (Frikkie) van Schalkwyk (69),...

Inentings: Namibiërs wag en kyk

10 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – ’n Wag-en-kyk-benadering en voorkeur vir spesifieke entstowwe is van die redes vir die trae reaksie tot die ministerie van gesondheid en maatskaplike...

Living a purposeful life

10 ure gelede | Mense

Rivaldo Kavanga“I would advise the youth to relentlessly go after whatever they desire unlimited. In pursuit of long-term gains and not short term rather.” Ndakondja...

Weer vir 30 Maart 2021

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die verre suide en die Zambezi-streek. Elders gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie. Wyd verspreide donderbuie in die...

Huishoudelike geweld gedy in Kavango-Wes

10 ure gelede | Misdaad

Die naweek is drie sake van huishoudelike geweld in die Kavango-Wesstreek by die polisie aanhangig gemaak. Vrydag om 05:00 het ’n 36-jarige man in die...

Running for those who can’t

10 ure gelede | Skole

In honour of cerebral palsy awareness month and as part of a school project, four learners from Windhoek Afrikaanse Privaatskool ran with children, parents and...

Windhoek kry eie ekonomiese plan

10 ure gelede | Regering

Augetto Graig – Die burgemeester van Windhoek, dr. Job Amupanda, sê die regering moenie terugstaan sodat die private sektor die nasie tot werkskepping en ekonomiese...

Ending the double shift system at schools

10 ure gelede | Onderwys

Rivaldo KavangaBet-el Primary School on Friday, 26 March 2021 received three classroom blocks and a storeroom from The Craton Foundation. The classrooms were donated to...

Mej. Namibië: Hier is die top-16

10 ure gelede | Gebeure

Die eerste ronde van die 2021 Mej. Namibië-skoonheidskompetisie het Saterdag in Windhoek plaasgevind waar die top-16-finaliste bekend gestel is.Die finaliste is Andeline Wieland, Shahida van...