Geingob bak mooi broodjies
Geingob bak mooi broodjies

Geingob bak mooi broodjies

Die staatshoof se Nuwejaars­rede word met gemengde reaksie deur opposisiepolitici en ontleders ontvang.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat, dr. Panduleni Itula, sê hy stel nie in pres. Hage Geingob se Nuwejaarsboodskap belang nie.

Pres. Geingob het op Oujaarsaand onder meer aangekondig die kabinet sal kleiner wees wanneer lede op 21 Maart ingehuldig word.

“Ek het dit tydens 2019 se laaste kabinetsvergadering duidelik gemaak ons kan nie langer sake soos gewoonlik bedryf nie. Die kabinet sal verklein word en 'n poging tot 50/50-verteenwoordiging sal aangewend word.”

Die president het nie gesê hoeveel ministeries geskrap of saamgesmelt gaan word om die kabinet te verklein nie.

Itula het die afgelope week gesê: “Ek lees nooit kameraad Hage se bood­skappe nie.” Dit is baie onwaarskynlik dat hy Geingob se Nuwejaarsrede sal lees, het hy gesê. “Ek het ook nie sy Kerfees(rede) gekyk nie.”

Op 'n vraag oor of die inhoud van Geingob se toespraak nie op hom as Namibiër en sy toekoms van toepassing is nie, het Itula gesê: “Nie 'n goeie rede nie. Enigiemand wat bereid is om die verloop van geregtigheid te verraai, kan nie met die uitvoering van 'n regverdige saak vertrou word nie.”

Dit gaan meer as mooi beloftes verg om die lot van inwoners te verander, sê Itula.

“Ek en jy ken die diepte van ons mense se ellende en geen hoeveelheid soet woorde kan dit verander nie,” meen hy. Hy sê van sy ondersteuners en volgelinge reken Geingob se Nuwejaarsrede is 'n “kopieer-en-plak”-oefening van dit wat hy in sy verkiesingsmanifes belowe het.

Itula daag die uitslae van die afgelope presidensiële verkiesings tans uit. Die aansoek word op 17 Januarie deur 'n volbank in die hooggeregshof gehoor.

Die tandarts veg tans ook verbete teen pogings om hom uit Swapo geskop te kry.

Die politieke ontleder en uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), mnr. Graham Hopwood, sê Geingob se vyf bladsy lange rede is “niks nuuts nie behalwe die kommentaar oor die kabinetgrootte”. Volgens hom is dié wending 'n teken dat die president eindelik ag slaan op “'n punt wat die opposisie al jare maak”.

Hopwood sê hy twyfel of die kabinet beduidend kleiner sal word.

“Hy sal regtig met 'n plan vorendag moet kom om die hele staatsdiens kleiner te maak.”

Die politieke ontleder, dosent en rubriekskrywer dr. Ndumba Kamwanya sê in 'n aanlyn plasing oor Geingob se Nuwejaarsrede: “Krediet waar dit toekom: Die president se Nuwejaarsboodskap het die regte toon aangegee om 2020 'n oorwinningsjaar te maak. Alles begin en eindig met leierskap.”

Mnr. McHenry Venaani, leier van die Popular Democratic Movement (PDM), het gesê hy het die president se boodskap reeds deurgegaan en sal in 'n stadium daarop reageer.

Volgens Geingob het hy en die regering Namibiërs se wekroepe gehoor.

“Julle het areas van verbetering aan ons uitgewys. Oor werkloosheid het ons julle gehoor. Oor die ekonomiese situasie het ons julle gehoor. Oor die gebrek aan ordentlike huisvesting het ons julle gehoor,” sê hy.

Die pleidooie van vissermanne wat hul werk kwyt is weens wanbestuur is gehoor, sê Geingob.

“Ons sal alle viskwotas hersien om te verseker toekennings geskied regverdig teenoor dié wat tasbare beleggings in die noodsaaklike bedryf vir ons ekonomiese ontwikkeling gestort het. Oorblywende kwotas sal aan ons 14 streke toegeken word om versnelde ontwikkeling te verseker.”

Die pleidooi van hordes studente wat in ellende gedompel is weens die swak implementering van die Finan­siële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) is ook gehoor, sê Geingob.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Crystal Palace 4 vs 0 Manchester United SerieA: Udinese 1 vs 1 Napoli | Salernitana 1 vs 2 Atalanta Katima Mulilo: 13° | 33° Rundu: 14° | 33° Eenhana: 15° | 34° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 17° | 32° Otjiwarongo: 15° | 31° Omaruru: 19° | 33° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 16° | 30° Henties Bay: 15° | 18° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 10:06, High tide: 04:02, Low Tide: 22:18, High tide: 16:30 Swakopmund: 15° | 17° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 04:00, Low Tide: 22:16, High tide: 16:28 Walvis Bay: 15° | 21° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 03:59, Low Tide: 22:16, High tide: 16:27 Rehoboth: 18° | 30° Mariental: 22° | 32° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 12° | 22° Ariamsvlei: 16° | 31° Oranjemund: 10° | 18° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 14° | 29° Lubumbashi: 15° | 28° Mbabane: 14° | 30° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 11° | 22° Lilongwe: 16° | 27° Maputo: 17° | 31° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 13° | 16° Durban: 20° | 33° Johannesburg: 17° | 25° Dar es Salaam: 23° | 30° Lusaka: 15° | 28° Harare: 13° | 27° #N/A #N/A