Geen toetse vir ingeëntes

Ten volle ingeënte Namibiërs, permanente inwoners en vragmotorbestuurders hoef voortaan nie ’n negatiewe PCR-toetsuitslag by aankoms in die land te hê nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Namibië het gister ’n reusetree gegee om in pas te kom met die nuwe wêreldneiging waar reise deur inentingstatus eerder as ’n negatiewe toetsuitslag moontlik gemaak word.
Dié besluit is gister deur veral die vervoersektor verwelkom wat die afgelope 20 maande miljoene Namibiese dollars aan PCR-toetse vir lorriedrywers bestee wat noodsaaklike vrag vanuit Suid-Afrika en ander lande hierheen vervoer.
Mnr. Stephan Terblanche, uitvoerende hoof van die FP du Toitgroep, het dié “brawe, prysenswaardige besluit” verwelkom. Volgens hom gaan dit egter nog nie besparings teweeg bring nie, omdat lorriedrywers steeds PCR-toetsuitslae in Botswana en Suid-Afrika moet toon.
“Die toon van inentingsertifikate moet ’n inisiatief en vereiste van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) word om enigsins vir ons voordelig te wees.
Dit sal handel tussen SADC-lande drasties stimuleer en ’n voorbeeld vir die res van die wêreld stel,” het hy gesê.
Terblanche het in ’n vroeër onderhoud gesê die maatskappy het verlede jaar meer as N$90 miljoen op Covid-toetse bestee, selfs nadat ’n ooreenkoms vir ’n spesiale tarief met Pathcare aangegaan is.
Vanaf Sondag (16 Januarie) hoef Namibiërs, permanente inwoners en vragmotorbestuurders wat ten volle ingeënt is, nie meer ’n negatiewe PCR-toetsuitslag met hul aankoms in die land te toon nie, maar bloot ’n geldige en goedgekeurde inentingsertifikaat.
Vir dié wat nie ten volle ingeënt is nie, geld ’n negatiewe PCR-uitslag van nie ouer nie as 72 uur, steeds.
Pres. Hage Geingob het tydens die maandelikse hersiening van die Covid-19-regulasies wat tot 15 Februarie sal geld, opnuut ’n sterk boodskap gehad aan diegene wat nog nie ingeënt is nie.
“Hoekom moet ek jou smeek? Dis vir jou eie veiligheid; ons lewens. Ons begrawe ons eie mense, wat het jy nog meer as bewys nodig?”
Op ’n vraag of die regering inenting verpligtend gaan maak, het Geingob geantwoord: “Hoekom moet dit afgedwing word wanneer dit jóú mense, jóú geliefdes raak? Moenie die regering dwing nie, dis in jou eie en die land se belang.”
Volgens Geingob is dit in Europa verpligtend om ’n inentingsertifikaat by sekere plekke te toon om toegang te verkry. “Vra ons dit by Staatshuis? Dis die probleem met Namibië – hulle hou daarvan om die regering se motiewe te bevraagteken,” het hy gesê.
Die minister van justisie, me. Yvonne Dausab, het op haar beurt erken verpligte inenting is ’n komplekse kwessie en sy stel voor die regering se standpunt van vrywillige inenting word as riglyn gevolg.
Volgens Dausab maak die wet voorsiening vir die kwessie van openbare belang (“public good”) en is daar wel ’n beperking op mense se individuele regte.
“Die keuse word beperk deur die keuse van ander. Dis ’n kwessie van mededigende belange en regte.”
Volgens Geingob is die inentingskoers veral laag in Zambezi (6%), Ohangwena, Omusati en Oshikoto (9%), asook Oshana (10). Net 17% van Khomas se inwoners is ten volle ingeënt, terwyl die hoogste koers (23%) tans in Hardap is.
Geingob sê inenting is ’n “persoonlike mediese besluit wat in die groter belang van die beskerming van die kollektief oorweeg moet word”.
Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het 411 163 mense (22,7% van die geskikte lede van die bevolking) hul eerste dosis entstof ontvang, terwyl 348 522 mense ten volle ingeënt is (22% van die bevolking).
Hy het sy tevredenheid daarmee uitgespreek dat die daaglikse getal inentings van 2 112 op 13 Desember tot 4 466 op 11 Januarie gestyg het. Dis ’n styging van 52,7%. Tot nou toe het 8 290 mense skragingsdosisse (“booster shots”) ontvang.
Shangula sê die ministerie merk met “volslae walging” die voortgesette en volgehoue veldtogte teen inenting op wat “deurspek is met vals narratiewe dat dié wat sterf, ingeënt was”.
Volgens hom is 81% van nuwe infeksies, 97% van hospitaalopnames, 94% van opnames in die ICU en 91% van sterftes mense wat nie ingeënt is nie. “Statistieke lieg nie. Getalle lieg nie. Dis oneties en moreel weersinwekkend om ’n wetenskaplik beproefde voordeel vir ’n individu te ontken sonder om ’n lewensvatbare alternatief vir die bewese voordele te bied,” het Shangula gesê.
Hy het gemaan om inentingsertifikate op ’n bedrieglike wyse te bekom terwyl jy nie ingeënt is nie, is ’n kriminele oortreding.
Shangula het ook verwys na die getal herinfeksies onder inwoners wat reeds Covid-19 gehad het. Sedert 8 Desember is 1 876 herinfeksies in die land aangeteken.
“Daar is enkele ingeënte individue wat moontlik drie keer ernstig siek kan raak en as gevolg daarvan kan sterf. Dis grootliks te wyte aan bestaande mediese of onderliggende toestande,” het Shangula gesê.

FOTO’s
Die Covid-19-inentingspunt vir die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste wat deur Namibia Media Holdings (NMH) en die NG Kerk Eros in dié gemeente se kerksaal bedryf is, sal net nog Saterdag oop wees. Van Maandag af sal die Covid-inentings by die NMH Inentingsentrum op die NMH-perseel in Eros beskikbaar wees. Mense kan vanaf Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 14:00 en Saterdae van 09:00 tot 13:00 vir hul toedienings van Johnson & Johnson, Pfizer en Sinopharm kom. Foto Tanja Bause


NUUTSTE COVID-19-regulasies:

* Byeenkomste – nie meer as 200 mense

* Geen aandklokreël

* Skole open waar moontlik tot volle kapasiteit

* Regulasies vir verkoop van alkohol bly onveranderd

* Sport – nie meer as 200 toeskouers

* Regulasies vir openbare vervoer bly onveranderd

* Begrafnisse van Covid-19-sterfgevalle: Hantering van oorskot slegs deur persoon opgelei in infeksievoorkoming en -beheer.

* Buitelanders met ’n PCR-toetsuitslag ouer as 72 uur en wat nie in besit is van ’n sertifikaat wat toon hulle het van Covid-19 herstel nie, sal toegang tot die land geweier word.

* Namibiërs sonder ’n PCR-toetsuitslag of inentingsertikaat moet op eie koste toets en kwarantyn.

* Namibiërs en permanente inwoners met ’n positiewe toetsuitslag kan tot by hul finale bestemming reis, en op eie koste of tuis met die nodige ministeriële goedkeuring en toesig isoleer.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!