Geen borgtog vir vier vermeende renosterstropers

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Vier vermeende renosterstropers - almal Namibiërs - het Dinsdag in die landdroshof op Okahandja verskyn en is borgtog geweier.

Mnre. Paulus Uuwanga (23), Paulus Paulus Moses (45), Sadrak Pendapala (23) en Nangolo Jonas (47) verskyn weer op 28 Februarie 2018 in die hof.

Volgens die hoofwoordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Edwin Kanguatjivi, is die vier beskuldigdes Saterdagaand in hegtenis geneem in verband met renosterstropery op 'n plaas in Sentraal-Namibië waartydens een witrenosterkoei met 'n jaggeweer afgemaai en haar horings verwyder is.

Ná 'n bulkalf se ma gewond is, het hy weens die stres van die verwydering van sy ma gevrek.

Vier renosters is gewond, naamlik twee koeie, een bul en een jong vers. Die twee koeie is deur 'n veearts behandel, maar intussen is een Dinsdagnamiddag vrek. Haar vyf maande ou verskalfie was vermis, maar is Dinsdagnamiddag met 'n helikopter gevind en met 'n pylgeweer vanuit die helikopter verdoof.

Sy is tans in die sorgsame en veilige hande van 'n veeartsverpleegster wat vir haar spesiale melk moet gee.

“Sy is 'n wonderlike vrou.

“Sy het die eerste aand wat ons die kalfie gevind het, reg langs die sleepwa waar die kalfie gehou is, in 'n slaapsak geslaap.

“Sy wou nie in 'n kamer slaap nie,” vertel mnr. Jaco Muller van die private renosterbewaringsorganisasie, Help our Rhinos Now Namibia (HoRn.nam).

Volgens die veeartsverpleegster gaan dit goed met die kalfie.

“Ek het die hele nag by haar geslaap. Sy was deur die nag en gisteroggend baie gestres nadat die medikasie uitgewerk het,” het die verpleegster gisteroggend gesê.

Later gisteroggend het die verpleegster laat weet dit gaan goed met die kalfie en sy drink al water en die spesiale melk uit 'n bak.

Dit kos sowat N$173 000 om een kalfie van vetvrye langlewemelk tot op 15 maande te voorsien.

Intussen is Republikein en HoRn.nam met oproepe en boodskappe oorval met maatskappye en die publiek wat dié wesie, asook 'n swartrenosterbulletjie, wat ook 'n paar maande gelede wees gelaat is ná sy ma gestroop is, wil help met spesiale melk. Muller het gistermiddag laat weet HoRn.nam het reeds skenkings van 4 500 liter melk asook finansiële bydraes ontvang.

Die organisasie bedank al die individue en maatskappye wat reeds skenkings gemaak het, naamlik The Roulhand Workshop in Windhoek, OK Foods Outjo, Namibia Dairies en Namibia Breweries Limited van die O&L Groep, Seapride Foods, Rachelle Duck, Anderson Transport, Camping Car Hire, Helmeringhausen Hotel en die Basler-familie, Please Wise, Simone A D Martin's, Windhoek Textile Distributors CC en Snyman Transport, wat een maand se melk vir een kalf geskenk het.

Die publiek is welkom om vetvrye langlewemelk te skenk of 'n finansiële bydrae te lewer by HoRN.nam, First National Bank se Otjiwarongo-tak met takkode 280 673 en rekeningnommer 622 518 113 55. Vir verdere navrae, stuur 'n e-pos aan [email protected].

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!