Fitty skep miljoene uit 'konsultasie'

Fishrot-skandaal

11 January 2021 | Howe
Mathias Haufiku – Drie maatskappye onder beheer van Yslanders het N$14 miljoen vir konsultasiedienste betaal aan Erongo Clearing and Forwarding, 'n klaringsagentskap waarvan Tamson 'Fitty' Hatuikulipi die eienaar is. Hy is die skoonseun van die voormalige minister van visserye, mnr. Bernard Esau.

Die betalings, gedoen deur Katla Seafood Namibia en Mermaria Seafood Namibia tussen 21 Julie 2014 en 26 Mei 2016, is deel van duisende dokumente wat deur Johannes Stefansson (die vismaatskappy Samherji se voormalige baas in Namibië) uitgelap en in 2019 op Wikileaks gepubliseer is.

Gedurende 'n mislukte aansoek om borgtog in die Windhoekse landdroshof verlede jaar, het die Teenkorrupsiekommissie (ACC) ook onthul dat Esja Fishing, 'n filiaal van die Samherji-maatskappyegroep in Ysland, N$29 miljoen aan Hatuikulipi se klaringsagentskap betaal het. Dit is nie duidelik of hierdie bedrag ook vir konsultasiefooie is nie.

'n Ondersoek deur Namibian Sun het bevind dat Katla Seafood en Mermaria inderdaad dieselfde entiteit is. Katla Seafood is in 2011 geregistreer en is in 2014 tot Mermaria Seafood herdoop.

Die maatskappy is tans deel van 'n groep maatskappye verweef in die hoëprofiel Fishrot-hofsaak waarin die beskuldigdes op geldwassery, bedrog en belastingontduiking tereg staan.

Sedert die aanvang van die hofsaak is daar spekulasie oor Hatuikulipi se rol in die Fishrot-skandaal.

Nou, vir die eerste keer, het 'n wyer stel feite aan die lig gekom oor hoe Hatuikulipi sy miljoene in die donker hoeke van die Fishrot-skandaal gemaak het.

Hatuikulipi het na bewering miljoene deur sy klaringsagentskap ingewin deur konsultasiefooie aan maatskappye betrokke by die Fishrot-sindikaat.

As 'n volgende stap sou hy dan hierdie konsultasie-inkomste oorplaas na maatskappye in die besit van ander beskuldigde individue in die Fishrot-skandaal.

Hofdokumente dui aan dat Hatuikulipi altesame 22 vaste eiendomme landswyd besit (gesamentlike waarde N$40 miljoen) asook voertuie ter waarde van N$12 miljoen.



BETALINGS

Namibian Sun is in besit van verskeie dokumente waarin Erongo Clearing and Forwarding miljoene in konsultasiefooie van Katla Seafood en Mermaria Seafood faktureer.

Op 21 Julie 2014 het sy klaringsagentskap N$5 miljoen van Katla Seafood ontvang; in November daardie jaar is nog 'n betaling van N$2.1 miljoen van Katla ontvang.

Op 2 November 2014 het die agent­skap 'n faktuur vir N$2.1 miljoen vir konsultasiefooie aan Katla Seafood Namibia gestuur. Op 6 April 2016 het die agentskap N$3 miljoen van Mermaria Seafood Namibia ingevorder. Die beskrywing vir die betaling was “ekstra werk”.

In nog 'n faktuur, gedateer 26 Mei 2016, het Hatuikulipi se agentskap N$500 000 van Mermaria geëis. Hierdie was ook 'n konsultasiefooi. Op dieselfde dag het die agentskap nog 'n faktuur vir N$3 miljoen aan Mermaria ingedien, ook vir konsultasiedienste.

Namgomar Pesca (Pty) Limited, wat miljoene van verskeie filiale van Samherji ontvang het, was ook een van die begunstigdes van Erongo Clearing and Forwarding, met oorplasings van N$20 miljoen.

Die agentskap het N$3.2 miljoen na JTH Investments oorgeplaas ('n maatskappy in besit van Tamson Hatuikulipi); N$5.5 miljoen na Fitty Entertainment; N$1.8 miljoen aan die gewese Fishcor-raadsvoorsitter James Hatuikulipi, asook N$300 000 aan AL Investments ('n maatskappy waarvan Tamson en sy vrou die eienaars is).

Terwyl Erongo Clearing and Forwarding fakture aan Esja Fishing vir konsultasiedienste gestuur het, sê bronne met kennis van die Fishrot-hofsaak daar is geen bewys dat eersgenoemde enige konsultasiewerk vir Esja Fishing verrig het nie.

“Daar is geen dokumentêre bewys dat sy maatskappy konsultasiewerk vir Esja gedoen het nie.

“Om die waarheid te sê, wys my enige vismaatskappy wat sulke bedrae vir konsultasiedienste opdok. Dit moet 'n wegstekery wees vir ander dinge wat hulle nie wil hê aan die lig moet kom nie,” sê die bron.

Die ACC-ondersoeker Willem Olivier het aan die hof gesê Erongo Forwarding and Clearing het die geld wat dit van Esja Fishing ontvang het, van sy bankrekening oorgeplaas na maatskappye verbonde aan sommige van sy medebeskuldigdes in die Fishrot-saak.



BEWERINGS VAN OMKOPERY

In 'n beëdigde verklaring deur Stefansson op 4 Junie 2019 het hy onthul dat Katla Seafood 'n konsultasie-ooreenkoms met Erongo Clearing and Forwarding aangegaan het.

“Die ooreenkoms is aangegaan om die betalings/omkoopgeld aan hom en andere te verdoesel, insluitende (destydse) minister (Bernard) Esau deur Erongo Clearing and Forwarding terwyl hulle gewerk het om viskwotas vir Samherji te verkry tot hul eie voordeel,” sê hy in sy beëdigde verklaring.

Hy voeg by: “Die fakture wys 'konsultasiefooi', maar dit was bloot 'n beskrywing om dit wettig te laat lyk. Geen konsultasiediens is aan Katla Seafood Namibia gelewer nie.”

Stefansson het ook getuig hoedat James Hatuikulipi in Maart 2014 ontevrede was oor die onbetaalde kwotabetalings aan Angolese beamptes.

Volgens die beëdigde verklaring het James aan Stefansson gesê: “Beide die ministers (van visserye) in Angola en Namibia werk daaraan om te verseker dat ons toegang tot hierdie visvanggebiede verkry. Die ministers het die staat se masjinerie ingespan om te verseker dat die samewerkingsooreenkoms in plek is.”

Die bilaterale ooreenkoms is op 18 Junie 2014 en op 1 Julie 2014 onderteken waarvolgens aan Namgomar Pesca Namibia 'n viskwota vir 7 000 ton toegeken is.

Ná die ondertekening van die ooreenkoms, sê Stefansson, het James Hatuikulipi aangedui dat N$5 miljoen nodig was vir betalings aan “hoër politici” in Namibië.

“Hierdie bedrag is uiteindelik vanaf die First National Bank rekening (van Katla) na die rekening van Erongo Clearing and Forwarding oorbetaal,” het hy gesê.

Die genoemde betaling is op 21 Julie 2014 gedoen, net meer as 'n maand nadat die Namibies-Angolese bilaterale ooreenkoms onderteken is.

In sy aansoek om borgtog het 'Fitty' Hatuikulipi deurgaans volgehou dat die geld wat sy maatskappye ontvang het nie omkoopgeld was nie, maar deur wettige werk verdien is.

Soortgelyk

 

Gesondheidswerkers, leerlinge en onderwysers deel van 343 nuwe gevalle

46 minute gelede | Gesondheid

Sewe Covid-19-verwante sterftes is vandag aangekondig en wel vier in Windhoek, twee in Swakopmund en een in Grootfontein. Die sterftes in Windhoek sluit 'n 63-jarige...

Moller, Hatuikulipi se belange onder vergrootglas

16 ure gelede | Misdaad

Hoofredaksie – Een van die transaksies wat deur die Teenkorrupsie-kommissie (ACC) as deel van die Fishrot-ondersoek gefynkam word, is 'n bedrag van N$8 miljoen wat...

Rekening van N$151 000 bly toe 'jakkals' gly

16 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – 'n Vermeende glyjakkals wat vir 'n maand saam met sy gesin in 'n gastehuis op Swakopmund gebly en glo nie betaal het...

Mans vas oor vervalsing van Covid-19-toetsuitslae

16 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerTwee Zimbabwiese mans is Saterdag omstreeks 12:00 op Katima Mulilo in hegtenis geneem vir die besit was vervalste Covid-19 laboratoriumtoetsverslae van PathCare Namibië.Die mans...

Reënweer bring groot skade

16 ure gelede | Weer

Kristien Kruger – Terwyl Namibië die derde week van swaar neerslae binnegaan, is groot skade reeds aan paaie, landerye en ander infrastruktuur aangerig. Windhoekers is...

Weer vir 11 Januarie 2021

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Noordweste, verre Weste en dele van die //Kharasstreek. Elders sal dit bewolk en warm tot baie...

Regering slaan toe op klaringsagente

16 ure gelede | Regering

Phillepus Uusiku – Die regering is in die finale fase van die instelling van strenger maatreëls vir die lisensiëring van klaringsagente.Die instellings beoog om die...

Nafau wen in hof teen Shoprite

16 ure gelede | Arbeid

Kristien Kruger en Adolf Kaure – Stakende Shoprite-werknemers was Vrydagmiddag verjuig toe die hoërhof in Windhoek beslis het dat ’n interdik teen die Shoprite-winkelgroep uitgereik...

Op die spoor van Hardapdam se opvangsgebiede

16 ure gelede | Infrastruktuur

Kallie Pauw (gasskrywer)Die onlangse wonderlike reën in groot dele van Namibië en verslae daaroor en foto's van vol riviere en dansende boere het mense (soos...