Finne herdenk 150 jaar in Namibië

Eerste vrouedokter bou Onandjokwe-hospitaal

20 December 2019 | Mense
Tanja Bause - Vir 150 jaar was daar altyd meer as een Finse sendeling in die Noorde, totdat die laaste sendeling, Sakari Löytty, verlede week Windhoek toe getrek het.

Die eerste ses sendelinge het destyds ná ‘n uitnodiging van koning Shikongo shKalulu in die land aangekom.

Die Rhenish-sendingsgenootskap het sedert die 1850’ in die suide en sentrale dele gewerk.

Volgens Sakari het die Duitse sendeling Karl Hugo Hahn verskeie reise na die Noorde onderneem.

“Hy kon Otjiherero praat en dus met die koning kommunikeer. Die koning het die verandering en ontwikkeling wat die Duitse sendelinge in ander dele van die land meegebring het, opgemerk en vir Hahn gesê hy sal ook sendelinge verwelkom.

“Die koning het besef sendelinge bring onder meer opleiding en ontwikkeling soos ossewaens en behuising,” het Löytty gesê.

Die Duitse sendelinge was egter besig in ander dele van die land en kon nie aan die Noorde ook aandag gee nie.

Die Finse Sendinggenootskap (FMS) is in 1859 gestig en die eerste sendelinge opgelei.

“Hahn was in Helsinki toe die eerste Finse sendeling reg was om die wêreld ingestuur te word. Hy het hulle van die koning se uitnodiging vertel. Die eerste ses sendelinge en twee bouers het na Duitsland vertrek om by die Duitse sendelinge te leer.

“Hulle is daarna per skip Kaapstad toe en van daar na Walvisbaai. Van die kusdorp af is hulle Otjimbingwe toe na die Duitse sendelingstasie. Op Otjimbingwe het hulle vir ’n jaar lank die taal en kultuur geleer van die gemeenskappe waarin hulle sou werk.

Hulle het toe van Omaruru af met ‘n ossewa na Omandongo in die Onayena-kiesafdeling in die Oshikotostreek vertrek en op 9 Julie 1870 daar aangekom.”

Die sendelinge het die Duitse sendelinge se strategie gevolg: Nie net het hulle die woord van die Here versprei nie, maar ook begin bou en plant om selfversorgend te wees.

Omandongo

Een van die bekendste sendelinge op Omandongo was Martti Rautanen.

Die plaaslike gemeenskap het hom Nakambale genoem. Nakambale beteken “iemand met ’n mandjie”. Rautenen het altyd ’n hoed gedra wat vir die plaaslike gemeenskap soos ’n mandjie gelyk het.

Op die plek waar die eerste sendelinge hulself gevestig en met hul werk begin het, staan ’n groot kruis en ’n bronsstandbeeld van Nakambale. Hy is op 19 Oktober 1926 op Olukonda dood en daar begrawe.

“Die sendelinge was so besig om skole en huise te bou, die plaaslike gemeenskap op te lei en te plant, dat hulle nie veel tyd gehad het om die Woord te versprei nie. Gevolglik is die eerste ses inwoners eers 13 jaar nadat die sendelinge op Omandongo aangekom het, eers gedoop,” het Sakari gesê.

Christian Iitope, ’n sakeman en die sekretaris van sendings in die oostelike bisdom wil Omandango ontwikkel.

“Ons wil dié plek wat die begin van ons Christenskap is in ’n toeriste- attraksie omskep. Ons wil ’n ordentlike kapel bou sodat ons Sondae nie meer in die sinkkerk byeen hoef te kom nie. Ons wil ook kampeerplekke en ablusiegeriewe oprig,” het hy gesê.

NAKAMBALE-MUSEUM

Die Nakambale-museum is by die voormalige Finse sendelingstasie op Olukunda naby Ondangwa geleë.

Dit is na Martti (Nakambale) Rautanen vernoem. Hy het die kerk in 1889 en die huis vier jaar later gebou. Die strukture staan vandag nog en is in 1992 deur die Namibiese regering as nasionale monumente verklaar.

Volgens Matti Namandje, die toergids van die museum, het Rautanen die sendelinghuis op die plek gebou omdat die koning se huis nie ver vandaar geleë was.

“Die koning het hom genooi en dus het hy die huis naby die koning se huis gebou vir beskerming,” het sy gesê.

Die huis het uit ’n kombuis, eetkamer, slaapkamers, stoorkamers, ontvangskamer, studeerkamer en ’n bokamers bestaan.

“In die studeerkamer het Nakambale die Bybel uit Fins in Oshindonga vertaal. Hy het ook ’n Oshindonga-Duitse woordeboek onwikkel. Sy huistaal was Duits en hy het in 1872 met Frieda Kleinschmidt, die dogter van die Duitse sendeling Franz Kleinschmidt, getrou.”

Rautanen het in 1885 met die vertaling van die Bybel begin en in 1903 is die Nuwe Testament gepubliseer. Die Ou Testament se vertaling is teen 1920 voltooi en in 1954 gedruk.

“Nakambale het nooit die gedrukte vertalings gesien nie omdat hy voor dit dood is. Sy dogter Johanna het die gedrukte Bybel in ontvangs geneem.”

Die Rautanen-egpaar het nege kinders gehad wan wie net drie oorleef het. Die meeste is weens malaria dood. Hul seun Reinhold het ’n priester geword. Hul dogter Anna Mathilda het met ’n Duitser getrou en hulle is terug Duitsland toe. Johanna het op Olukunda in haar ouerhuis gewoon.

Rautanen het etnografiese materiaal van die Owambo’s versamel en baie van die items kan vandag in die museum gesien word.

Hy het ook gereeld waarnemings vir die weerkantoor in Berlyn gedoen en ’n verskeidenheid plaaslike plante vir ‘n vriend verbonde aan die Zürich-universiteit versamel.

Rautanen het vir meer as 50 jaar in die Noorde van die land as sendeling gewerk. In 1925 het hy die eerste sewe plaaslike pastore ingeseën.

Die museum lig besoekers in oor die argitektuur van die sendelinge, die Rautanen-familie, die ontwikkeling van die kerk, tradisionele musiekinstrumente, speelgoed, huishoudelike gereedskap, die politiese geskiedenis en die konings van die Noorde.

Langs die huis is ’n tradisionele Ondonga-opstal gebou wat ’n opelugmuseum is. Besoekers kan hier tradisionele kos geniet en die leefstyl van die Ondonga ervaar.

Nie ver van die huis af nie is die kerk wat Nakambale gebou het. Voor die kerk staan een van die ossewaens waarmee die sendelinge 150 jaar gelede in die Noorde aangekom het. Die ossewa is deur 22 osse getrek. Dit het die sendelinge ’n maand geduur om met dié vervoer van Omaruru tot op Omandongo te reis.

Langs die kerk is die begraafplaas waar lede van die Rautanen-familie, asook die konings van die Ondonga begrawe is. Die agtiende koning, Immanuel Kauluma Elifas, is op 13 April 2019 daar ter ruste gelê.

ONANDJOKWE-HOSPITAAL

Die Finse sendelinge het van Omandongo versprei na ander plekke en in 1872 het hulle ’n sendingstasie op Oniipa gebou.

Dr. Selma Rainio was een van die eerste 13 vroue wat as doktor in Finland gekwalifiseer het. Sy was 35 jaar oud toe sy op 14 Desember 1908 op Oniipa aangekom het. Rainio het pasiënte by die sendingstasie ingeneem en versorg, en terselftertyd die taal begin leer.

Sy het nie voldoende fasiliteite by die stasie gehad om pasiënte te versorg nie en ’n paar hutte is inderhaas opgerig om pasiënte te akkommodeer. Rainio het tussen 40 en 50 pasiënte per dag behandel.

Sy het ’n plan vir ’n hospitaal bestaande uit fasiliteite vir die werkers en pasiënte opgestel en dit in 1909 vir die Finse sendinggenootskap gestuur. Ses maande later is dit eers goedgekeur en bouwerk kon begin. ’n Sendeling is aangestel om toesig oor die bouwerk te hou. In 1911 is die hospitaal in gebruik geneem.

Lucia Hafeni, is die kurator van die Onandjokwe mediese hospitaal wat in die oorspronklike gebou van die ou hospitaal geleë is. Sy sê die hospitaal is vernoem na swart ganse of “oondjokwe” wat volop op die water in die vallei in die gebied was.

“Koning Kambonde kaNankwaya het vir Rainio die grond gegee omdat dit heilig geag is onder tradisionele genesers en hy gedink het alle genesers moet op een plek wees. Dit was baie moeilik vir dr. Rainio om mediese voorrade te kry en sy het dikwels die tradisionele genesers oor die mediese gebruike van plante uitgevra,” het sy gesê.

Die hospitaal was die eerste gebou in die Noorde met ’n sinkdak. Dit het uit een gebou bestaan wat verdeel was in ‘n kombuis, sitkamer, woonkwartiere vir werkers en pasiënte. In 1938 is die teater uitgerus met narkose en steriliseringtoerusting, lugreëling en ’n operasietafel.

“Die dokter het in ’n baie klein kamer gewoon wat langs haar pasiënte se kamer was en langs die kraamsaal sodat sy naby haar pasiënte was.”

In 1912 het Rainio besluit om ’n buitepasiëntekliniek te bou. Uit vorige ervaring het sy nie toestemming van die kerk gevra nie, en ook nie ’n sendeling as toesighouer oor die bouwerk toegelaat nie. Sy en haar huishoudster, Selma Santalahti, het self gebou en toesig gehou. doen.

“Dr. Rainio het met trots daarna as ‘die kliniek gebou deur vroue’ verwys. Dit het uit kamers, ’n apteek, operasieteater, ondersoekkamer en stoorkamer bestaan,” vertel Hafeni.

“In 1930 is die eerste verpleegsters hier op Onandjokwe deur die dokter opgelei. Sy is deur dr. Karin Hirn ondersteun en die verpleegskool was die eerste in Namibië. Die eerste studente was drie mans en ‘n vrou. Hulle het geleer uit handboeke wat die dokter in Oshindonga geskryf het.”

Rondom die hospitaal en kliniek is hutte gebou om die pasiënte te huisves. In 1911 was daar sewe hutte en 14 jaar later 23 hutte. Die pasiënte is tot 1958 daarin gehuisves.

Daar was in dié stadium 70 geboue, maar ‘n brand in 1958 het binne ’n uur meer as 40 vernietig. Toe die hospitaal herstel en opgeknap is, is ’n stuk gebrande hout gevind wat vermoedelik van een van die houtpilare was wat in die hutte gebruik is. Die hout het soos vlerke gelyk en eerwaarde Julius Mtuleni, het dit Engel van Onandjokwe genoem. Dit hang nou in die museum ter beskerming.

“Baie ma’s het vir dr. Rainio hoeders en bokke gegee om dankie te sê en baie het hul dogters Selma genoem om haar te eer,” vertel Hafeni.

Rainio, wat deur die plaaslike gemeenskap Kuku gwaNandjokwe (Onandjwke se ouma) genoem is, is 5 Januarie 1939 op Onandjokwe oorlede. Sy is in die begraafplaas van die hospitaal op Oniitewa begrawe, waar ook van haar oudpasiënte en kollegas lê.

Soortgelyk

 

Covid-19: 5de nuwe geval binne 4 dae

10 ure gelede | Gesondheid

‘n Vragmotorbestuurder in Walvisbaai het gister positief vir Covid-19 getoets.Dit is die vyfde positiewe geval sedert Woensdag. Al die persone was in kwarantyn.Persone waarmee die...

‘80% van skole gereed’

2 dae gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Sowat 80% van die 1 920 staatskole oraloor in die land is gereed om leerlinge volgens verpligte gesondheidsregulasies te ontvang wanneer hulle...

Nog leerlingdokters wag om uitgeplaas te word

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Meer as 100 leerlingdokters wag glo reeds maande om vir internskappe by staatshospitale oraloor in die land uitgeplaas word. Die 166 leerlingdokters...

Stadspolisie van hardhandigheid beskuldig

2 dae gelede | Misdaad

Denver Kisting – ’n Inwoner van Groot Aub, mnr. Richard Davids, voer aan ’n beampte van die stadspolisie, waarnemende sersant Erwen Katiti, het hom Dinsdaglaatmiddag...

Weer vir 22 Mei 2020

2 dae gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltleik bewolk en warm in die streke van ||Kharas en Hardap. Elders sal dit sonnig en warm tot baie warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en...

‘Vervoer van drank nie ’n misdaad’

2 dae gelede | Misdaad

Francoise SteynbergDie blote vervoer van drank is nie ’n misdaad nie en kan nie as redelike gronde gebruik word vir agterdog van die koop of...

Vroue in kwarantyn toets positief vir Covid-19

2 dae gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Twee vroue het in kwarantyn positief vir Covid-19 getoets. Dit bring Namibië se totaal bevestigde Covid-19-gevalle op 18 te staan. Volgens die...

Ebikes: vinnig, goedkoop en groen

2 dae gelede | Mense

Tanja Bause Nie te veel besighede kan sê dat hulle in die Covid-19-tyd so goed aangepas het dat hulle nuwe werknemers moes aanstel nie. Ebikes4Africa...

Market Watch Covid page - snippets

2 dae gelede | Gesondheid

The Namibia Football Association (NFA) executive committee has yet to decide what to do with funds it expects to receive from the Federation of International...