En die soektog begin. . .
En die soektog begin. . .

En die soektog begin. . .

Eerste Namibiese realiteitsprogram binnekort op die kassie.
’n Baanbrekersprogram genaamd The Search is amptelik op 18 Augustus aangekondig en sal binnekort op Namibiese televisie te sien wees.

The Search sal aangrypende vermaak aan Namibiese gehore verskaf en terselfdertyd ’n hupstoot gee aan ’n industrie wat tans weens die Covid-19 pandemie sukkel om kop bo water te hou.

Die fokus van die program is die soektog na Namibië se volgende sangsensasie en die gelukkige wenners sal met prysgeld van N$100 000 wegstap.

Die realiteitsprogram, wat uit 16 episodes bestaan, is deur die Namibiese uitsaaikorporasie (NBC) en Conference Sound Audio Visuals (ConSoAV) moontlik gemaak. Die inisiatief het reeds drie jaar gelede ontstaan tussen ’n groep innoverende jongmense wat graag plaaslike inhoud van goeie gehalte wou skep.

Die program strek oor drie maande en sal uit vier fases bestaan.

Fase 1:

Deelnemers stuur hul video’s tydens die oudisieronde in, waarna die beoordelaars die deelnemers sal kies wat na die volgende ronde deurgaan. Belangstellende solokunstenaars of sanggroepe, in enige musiekgenre, word aangemoedig om hul dertig sekonde-snit sonder instrumente in te stuur.

Fase 2:

Tydens die fase kom die instrumente by. Slegs 30 deelnemers sal gekies word vir die volgende ronde.

Fase 3:

Die 30 deelnemers sal meeding om na die volgende ronde aan te beweeg. Deelnemers sal mentorskap van kenners in die vermaakbedryf ontvang.

Fase 4:

Die fase behels lewende optredes tussen 14 deelnemers waaruit ’n algehele wenner gekies sal word. Hulle sal saam met ’n orkes en agtergrondsangers optree en insette van kundiges in die bedryf ontvang.

Mnr. Edo Lutete, die medestigter van The Search, sê die program sal Namibiërs in staat stel om te sien hoe die lewe ontvou vir 'n persoon, 'n gesin, 'n onderneming of 'n groep.

“NBC wil voortgaan met hierdie tempo en verwelkom die vennootskap met The Search. Dit sal beslis nuwe woema in ons plaaslike vermaakportefeulje sit. Volgens 'n verslag van eMarketer word meer as 75% van alle video’s wêreldwyd op mobiele toestelle gekyk. Daarom sal NBC ook The Search op sy regstreekse platform genaamd NBC Plus uitsaai,” het me. Beaulah Boois, die kommunikasiebeampte van NBC, gesê.

Die beoordelaars is die plaaslike musikante Dice en Lady May Africa en joernalis en musiekvervaardiger Daniel Nadunya. Die gastebeoordelaars sal ook onverwags hul verskyning maak.

Die episodes sal tussen 19:00 en 20:00 op The Search se sosialemediaplatforms en op NBC1 uitgesaai word. Die datum waarop die eerste episode uitgesaai word is in dié stadium nog onbekend.

The Search wil korporatiewe maatskappye aanmoedig om deel te neem aan die baanbrekersrealiteitsprogram wat poog om te ontdek, te ontwikkel en te vestig, asook om broodnodige plaaslike vermaak te verskaf.

Vir beskikbare pakkette word ondernemings, organisasies en individue aangemoedig om The Search se bemarkingspan by 085 203 1009 te kontak.

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer