Ebikes: vinnig, goedkoop en groen

Die elektriese fietse word in Namibië ontwerp en gemonteer.
Tanja Bause
Tanja Bause

Nie te veel besighede kan sê dat hulle in die Covid-19-tyd so goed aangepas het dat hulle nuwe werknemers moes aanstel nie. Ebikes4Africa kan dit wel sê.

Die stigters van Ebikes4Africa, Marita en Bernhard Walther, sê met die aankondiging van die hoktyd het hulle eers bietjie geskok gaan sit voordat hulle 'n plan begin maak het.

“Ons het 'n hele vloot van elektriese fietse gehad. Ons het begin om die restaurante in ons omgewing te skakel en uit te vind of hulle sal belangstel dat ons hulle aflewerings doen. Hulle het belang gestel en die besigheid het begin groei – in so 'n mate dat ons nog ses mense in diens moes neem,” het Marita gesê.

MARITA

Marita is in Stellenbosch gebore en het op vyfjarige ouderdom saam met haar ouers na Namibië verhuis.

“Ons het Gobabis toe getrek omdat my pa sy droom wou vervul om 'n plaasboer te word.”

Ná skool is sy terug Suid-Afrika toe om joernalistiek te gaan studeer.

“My pa is 'n skrywer en my ouma het met tale gewerk, so daar is 'n lang geskiedenis met tale in ons familie. Ek kon egter nie joernalistiek in Stellenbosch gaan studeer nie en is toe Grahamstad toe. Dit was die beste ding wat met my kon gebeur. Dit het my wêreld oopgemaak en dit is ook daar waar ek behoorlik Engels geleer het.”

Ná skool moes sy 'n studielening afbetaal en het sy vir 'n jaar in Suid-Korea in Engels gaan klasgee. Sy het na Windhoek teruggekeer en by Venture Publications begin werk waar sy veral stories oor toerisme en bewaringsgebiede geskryf het.

“Ek het toe al besef daar is 'n groot behoefte vir volhoubare alternatiewe energie. Namibië met sy klein bevolking is so 'n groot, ongeskonde plek en dit moet bewaar word.”

Marita het vir Bernhard in Windhoek ontmoet, kort voordat sy 'n beurs losgeslaan het om in Wallis dokumentêre fotografie te gaan studeer.

“Dit was in Wallis wat ek besef het dat ek regtig lief is vir fotografie en vir skryf, maar dat dit geen verskil in die wêreld of in my gemeenskap maak nie. Ek moes iets doen waar ek fisies en aktief kan sien hoe en waar ek 'n verskil maak.”

BERNHARD

Hy is in München, Duitsland gebore en het daar grootgeword, voordat hy ná skool as industriële ingenieur gaan studeer het.

Hy het 'n internskap by die GTZ in Windhoek kom doen, waar hy vir Marita ontmoet het. Later het hy vir haar in Wallis gaan kuier en een aand om die tafel het hulle oor die toekoms en hul planne gesels.

“Ons wou vir onsself werk en nie vir 'n baas nie. Ons wou ons verskillende vaardighede bymekaar bring en 'n verskil maak,” sê hy.

EBIKES4AFRIKA

Marita vertel: “Bernhard is 'n ingenieur en hy het die tegniese ervaring om goed te ontwerp en te bou. Ek het baie kontakte in die plaaslike toerismemark gehad en ons het besluit om Ebikes Namibië toe te bring.

“Ons het die eerste fiets in Bernhard se motorhuis in Duitsland gebou en ek het dit met my terugkeer na Namibië saamgebring. Dit was vyf jaar gelede.”

Hulle wou die lewe vir pendelaars makliker maak omdat baie stadsbewoners nie toegang tot openbare vervoer of hulle eie vervoer het nie.

“Windhoek het baie heuwels en is meestal baie warm. Dus is 'n Ebike 'n baie goeie alternatief vir 'n gewone trapfiets. Om ons in die mark te vestig, was nie so maklik nie en ons het toe direk in die toerismemark gegaan. Daar is baie lodges wat die fietse gebruik,” het Marita gesê.

Dit was voordat Covid-19 vir Namibië getref het en Ebikes4Africa aflewerings begin doen het.

“Ons kan feitlik enigiets aflewer – van 'n koevert tot 'n sak sement. Ons het verskillende fietse en die drakapasiteit is 200 kilogram. Ons lewer oral in Windhoek af en selfs in Elisenheim,” het Marita gesê.

“Kos word die meeste afgelaai, maar ons het byvoorbeeld ook 'n vrou wat bakgereedskap verkoop wat om een of ander rede tans baie gewild is. Ons lewer koekvorms en bakgereedskap vir die vale af.”

Aanvanklik het Bernhard gewone trapfietse na elektriese fietse omgeskakel, maar nou ontwerp en bou hy die fietse self.

“Ek sit op die rekenaar met 'n ontwerper van 'n fietsraamvervaardiger en saam ontwerp ons aan 'n raam wat vir Namibië geskik is. Dit is dieselfde proses vir elke onderdeel wat in ons fietse gebruik word. Ons moet byvoorbeeld spesiale batterye en enjins gebruik wat die hitte in die land kan weerstaan. Dit is ons ontwerp en ons handelsmerk – die eerste elektroniese fiets in Afrika word hier in ons werkswinkel gemonteer,” sê Bernhard.

HERLAAIBAAR

Die fiets se battery kan by 'n gewone muurprop herlaai word. Sonkrag kan ook gebruik word, wat beteken dat die fiets deur die son aangedryf word sonder koolstofvrystelling.

“Die fietsbattery kan herlaai word by sonkragherlaaistasies wat ons ook hier plaaslik vervaardig. Sommige bewaringsgebiede het van die herlaai­stasies in die bos opgesit. Die mense gebruik die batterye ook om hul selfone, GPS koördinaatstelsels, klein yskaste of rekenaars te laat werk,” het Bernhard gesê.

Mense kan natuurlik ook hul batterye na Ebikes4Africa se werkswinkel neem waar dit omgeruil of herlaai word.

“'n Fiets kan tussen 40 en 100 kilometer met 'n vol battery ry. 'n Battery kan tot 700 keer herlaai word, wat beteken jy kan tussen 15 000 en 20 000 kilometer ry. Dit hang af van die battery se grootte af. Dit vat tussen vier en ses ure om die battery te herlaai, maar dis nie altyd nodig om dit 100% vol te laai nie.

“ As jy byvoorbeeld net 10 kilometer wil ry, is een uur se herlaai genoeg,” het hy gesê.

“As jy bietjie fiks wil word, geld spaar en vinniger in die verkeer wil wees, dink Ebike,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!