Eagles rond SA toer met reeksseges af

Krieket

03 May 2021 | Sport
Tielman van Lill

Die Namibiese Eagles het Saterdag by Wanderers ter afsluiting die laaste Castle Lite-eendagwedstryd teen die Ontluikende Suid-Afrikaanse span met 19 lopies gewen om die besoekers met 2-1 in beide die T20- en eendagreekse ore aan te sit.

Die gasheerspan het Dinsdag die eerste 50-beurtkragmeting met vyf paatjies gewen toe hulle die groen Proteas se 244 almal uit binne 44.5 boulbeurte met 245/5 verbygesteek het.

Donderdag het die Eagles nie met dieselfde fokus vir hul tweede kragmeting opgedaag nie en is deur die besoekers met 57 lopies oorskadu. Die SA span het soos Dinsdag eerste gekolf en is vir 196 in 45.5 bb uitgeknikker. Die Eagles het egter vasgebrand en kon net met 139 almal uit in 30.4 bb antwoord.

Saterdag was die Eagles opnuut die ontluikende Proteas se tier toe die gasheer sy strategie verander het. Gerhard Erasmus, die Eagles-kaptein, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Erasmus en Pierre de Bruyn, hoofafrigter van die Eagles, het die regte besluit geneem om eerste te kolf en hul span plaas ’n reusagtige 338/4 in hul 50 bb op die telbord.

Namibië was ná 15 bb op 66/1 nog nie naastenby aan die brand nie. Met 30 verby, was die gasheerspan steeds huiwerig op 115/3 en traag om die kolwe te laat flits en teen dié tempo kon hul totaal op ’n makkerige 230 geëindig het.

Maar in die laaste 20 boulbeurte versnel die Eagles op merkwaardige wyse teen meer as 24 lopies per boulbeurt en slaan 244 lopies tot groot vermaak van die ondersteuners.

Die besoekers was ná 15 bb met 92/1 nie juis op koers nie, maar eindig ná 30 met 165/4 en is goed op peil om die Eagles se teiken te jaag. Die SA span versnel ook heel skaflik met 40 beurte verstreke om op 214/5 te staan.

Hulle kolf teen meer as tien lopies in die laaste tien beurte, maar verloor vier kolwers deur Smit, Frylinck en Trumpelmann se knap boulwerk, terwyl Smit boonop die gevaarlike Matthew Breetzke uithardloop.

Craig Williams, wat as speler van die wedstryd aangewys is, was eenvoudig briljant met sy breë kolf. Hy het op nommer drie ingestap om die Eagles se kolfbeurt te red en het het 139 onoorwonne lopies van 119 aflewerings getimmer.

“Slegs” 53 lopies in sy reusebeurt het van hardloopwerk tussen die paaltjies gekom, terwyl 86 van vyf viere en elf sesse gekom het.

Die aanvangspaar Stephen Baard (33 van 47 balle, 4x1, 1x6, gevang agter paaltjies deur Wandile Makwetu, geboul Tshepo Ntuli) en Zane Green (26 van 39 b, 3x4, 1x6, geboul Ntuli) het ’n redelike grondslag vir die Namibiërs gelê.

Williams het egter saam met Baard, Erasmus (20 van 30 b, 1x4, gevang Ntuli, geboul Bryce Parsons), JJ Smit (61 van 48 b, 3x4, 4x6, gevang Matthew Breetzke, geboul Dayyaan Galiem) en Nicol Loftie-Eaton (23* van 20 b, 3x4) aan sy pragbeurt gekerf. Hy en Smit se 139 lopievennootskap is ewe indrukwekkend.

Die besoekers het 36 ekstras afgestaan wat 22 wydlopers en vier foutballe insluit, terwyl Namibië slegs 15 ekstra lopies pasella gee.

’n Honderdtal deur Breetzke (114 van 127 b, 8x4, 3x6, uitgehardloop Smit) was saam met sy aanvangsvennoot Grant Roelofsen (26 van 23 b, 2x4, 2x6, geboul Smit), Delano Potgieter op ses (52 van 54 b, 2x4, 2x6, gevang Green, geboul Smit), Jason Smith op sewe (63, 41 b, 7x4, 2x6, gevang Loftie-Eaton, geboul Jan Frylinck) en Parsons op nege (32, van 22 b, 4x4, 1x6) hul span se voorste lopiemakers. Die res is vir 17 lopies laat stap.

Erasmus het ná die wedstryd gesê: “In die reeks was daar wel ’n paar laagtepunte vir ons, maar ons het elke keer teuggeveg om uiteindelik te wen. Ons het wel Donderdag op dieselfde kolfblad sleg verloor, maar Saterdag het ons opgedaag om ’n uitstekende oorwinning te beklink.

“Dit was twee taai reekse, met ses wedstryde binne nege dae. Ons is werklik geestelik en fisiek uitgeput. Genadiglik het ons nou vir ’n ruk af om die batterye te herlaai.

“Ons het groot waardering vir ons ondersteuners wat elke dag hier was om ons aan te spoor.”

De Bruyn het gesê: “Ons kan terugkyk op die twee reekse en ek is baie trots op die ouens, want ons was in elke wedstryd beproef. Dit was ’n leerkurwe en ons het baie geleer.”

Vir die SA span was Tshepo Ntuli (2/37 in 7 teen 5.28) sy span se beste bouler. Stefan Tait (0/55 in 10 teen 5.50, 1 leeg) kon nie sy sukses van twee dae tevore herhaal, toe hy vyf paaltjies laat kantel het nie. Dayyaan Galiem (1/71 in 10) en Bryce Parsons (1/31 in 7 teen 4.42) deel die ander twee paaltjies.

Die Eagles-boulers JJ Smit (3/64 in 10), Bernard Scholtz (2/47 in 10, 1 leeg), Jan Frylinck (1/78 in 10) en Ruben Trumpelmann (1/54 in tien, 1 leeg) het die laaste gelag teen die groen Proteas.

Val van paaltjies:

Namibië: 1/63 (Green, 12.6 bb), 2/74 (Baard, 16.2), 3/112 (Erasmus, 28.2 bb), 4/251 (Smit, 43.5 bb).

Ontluikende Suid-Afrika: 1/61 (Grant Roelofsen, 10.2), 2/92 (Kabelo Sekhukhune, 15.1 bb), 3/92 (Sinethemba Qeshile, 15.2 bb), 4/98 (Makwetu, 18.5 bb), 5/183 (Delano Potgieter, 34.4 bb), 6/224 (Breetzke, 40.6 bb), 7/233 (Galiem, 42.3 bb), 8/310 (Jason Smith, 48.2 bb), 9/319 (Parsons, 49.4 bb).

[email protected]

Soortgelyk

 

Skoolhoof van Swakop sterf aan Covid-19

9 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – Huldeblyke het gister uit onderwys- en ander kringe ingestroom nadat die skoolhoof van Pro-Ed Akademie se hoër­skool op Swakopmund, mnr. Henry McCarthy,...

ReconAfrica voor hof gedaag

9 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer – Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) het sonder konsultasie of vooraf kennisgewing die natuurlike woud en landerye wat wettiglik deur 'n familie by Mbambi...

Weer vir 10 Mei 2021

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en warm...

Nog NBC-werkers keer terug

9 ure gelede | Arbeid

Hoewel die NBC-staking landswyd voortduur, het 74 werknemers intussen teruggekeer werk toe en is die Engelse radiodiens, National FM, weer terug op die lug. Die...

Noodkreet teen misdaadvlaag

9 ure gelede | Misdaad

Tunohole Mungoba op Oshakati – Die Oshakati-stadsraad het Donderdag 'n openbare vergade­ring in Okandjengeni-Suid op dié dorp gehou waar verskeie veiligheidskwessies geopper en klagtes teen...

Dwelms van amper N$2 miljoen gekonfiskeer

9 ure gelede | Misdaad

Volgens die Namibiese polisie is in April meer mense in besit van dwelms in hegtenis geneem as gedurende Maart. In Maart is 106 mense in...

Nuwe lewe in onooglike kraghuis geblaas

9 ure gelede | Kuns en vermaak

Claudia Reiter – Die kunstenaars Kat en Lens het die mure van 'n transformator-substasie in Conrad Ruststraat in Klein Windhoek geverf en verfraai. “Ons ry...

Geen partytjie vir Nujoma

9 ure gelede | Gemeenskap

Die kantoor van die stigterspresident Sam Nujoma het aangekondig hy gaan nie op 12 Mei sy 92ste verjaardag met 'n openbare byeenkoms vier nie. Dié...

Betaaldag hier vir Air Namibia se personeel

9 ure gelede | Vervoer

Ogone Tlhage – Die minister van openbare ondernemings (SOE's), mnr. Leon Jooste, het bevestig die regering het 'n gedeelte betaal van die N$278 miljoen wat...