Die tirannie van die 'gangster'-motorwagte
Daar is 'n nuwe outokrasie op ons paaie in die stad en dít is die outokrasie van die geelbaadjiebeweging – motorwagte.
Hulle is oral om elke hoek en draai, by elke parkeerplek, en elke bestuurder in die stad is in die situasie waar jy noodgedwonge in een of ander onderonsie met geelbaadjies betrokke raak – daagliks – of jy nou wil of nie.
Ek het geen probleem daarmee om 'n paar sent by elke stopplek uit te haal en vir 'n motorwag te gee nie.
Ons president het per slot van sake 'n pleidooi gelewer en 'n beroep op ons goedgunstigheid gedoen toe hy gevra het ons moet meer mededeelsaam wees.
So, ek is heel gewillig om 'n paar dollar per dag per motorwag per parkeerplek te gee – selfs as ek nie seker is of my kar wel opgepas word en of dit veilig sal wees terwyl ek vinnig by 'n winkel inspring nie.
Ek gee veral gewillig aan my gunstelingmotorwagte – dié wat jou met waardigheid bejeën en by wie jy gerus voel om jou motor in hul sorg te laat.
Ek dink byvoorbeeld aan die een wat altyd 'n ryk, interessante, en passievolle geselsie aanknoop oor sy land, Zimbabwe, vanwaar hy en baie van sy landsgenote moes weggaan om 'n paar sente aan hul families te kan stuur.
Hy vertel juis dié week hoe benard die situasie in die post-Mugabe-era geword het: Die mense sit sonder water, krag, kos en werk, vertel hy. Die geldjies wat hy hier maak, op 'n parkeerterrein in Windhoek se strate, hou 'n familie daar aan die gang.
Dan is daar die oom met sy cowboyhoed en kierie wat vreeslik lekker oor sy beeste op die plaas kan gesels.
Hy is nou voortdurend erg ontsteld oor die diere wat met die groot droogte aan die vrek is.
Dan is daar die voormalige motorwerktuigkundige wat sommer help as iets met jou kar fout is.
Hierdie is die veterane van die motorwagbrigade. Hulle weet hoe om met kliënte te werk, en weet hoe om bevredigende diens met 'n glimlag te lewer.
Maar daar is nou 'n nuwe generasie motorwagte wat die parkeerterreine al meer beset en met skollierige bravade en onverbloemde aggressie die arme kliënt, wat eens koning was, nou eintlik gyselaar hou.
Ek kyk onlangs hoe 'n ouerige paartjie voor 'n restaurant uit hul motor klim toe 'n skollie-motorwag, wat teen daai tyd van die dag soos 'n wolf begin lyk het, op hulle afstuur.
Ek sweer die paartjie het die skollie toe sommer uit vrees 'n N$20 in die hand gestop en 'n lyn vir die restaurant gesny.
Tydens nóg 'n voorval skree 'n ander skollie-motorwag sommer vir die bestuurder, wat skaars by sy motor uitgeklim het: “Hei, jy kom nie hier nie. Hierdie is my parking! Jy sal betaal!”
Die bestuurder het hom sommer lelik opgeruk en 'n bakleiery het amper-amper uitgebreek.
Wat my irriteer, is nie net die skollie-motorwagte nie, maar die chauviniste wat dink dat jy, as vrou, geleer moet word hoe om in- of uit parkeerplekke te ry.
As jy die dag nie lus is om hul gekneusde en brose manlike ego's te paai nie en beduie dat jy – nie húlle nie – die bestuurder is, raak hulle sommer beduiweld en ongeskik.
Die punt is Windhoek se padgebruikers word deur dié skollies geteister, afgeknou, afgepers en van 'n paar dollar per dag beroof.
Ek dink dis tyd dat ons ons paaie terugwen met 'n betaalstaking en sê genoeg is genoeg.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie