Die prys van skoonheid
Venesië 1
Pedro Vorster
Verrot te veel skoonheid die siel?
Vir ‘n oomblik staan sy geraam in die antieke venster met ‘n gesig so onvergenoeg dit beskryf die woord volkome.
O ja, Venesië is pragtig, al hang haar onderrok uit, druip die borste en het sy vir alles ‘n prys, veels te duur vir wat dit kos. En sy het ‘n besliste kennis van die waarde van geld, baie geld, ou geld, ouer as antiek.
Ydel oor typerke geprys as “Die Dominante”, die ”Sereenste” en “Koningin van die Adriatiese See” traak haar min.
Jy haat haar goedkoop siel, jy bemin haar skoonheid. Sy laat jou nie onaangeraak nie.
Venesië, in Noordoos-Italië, lê versprei oor vasteland en strandmeer. Die beroemde ou stad is propvol oor meer as 100 klassieke eilande gebou en bied blyplek aan bykans 55 000 permanente inwoners.
Vier maniere om Venesië van Pula, Kroasië, te bereik: Per bus, vliegtuig, veerboot of trein.
Treinry blyk die omslagtigste en busry die goedkoopste. Selfone uit en in ‘n japtrap is bus en verblyf bespreek. Slotsom: Die blyplekke op die antieke hoofeiland is duurder as dié op die omringende eilande.
Vyfuur, douvoordag, vertrek ons bus van Pula. Ons gasvrou, Ivana, staan so wragtig gereed en taxi ons gratis halte toe.
Vroeë oggende is magies. Op die grootpad spook die newels in die klowe en toor al die skemer, saai dorpsgeboue geheimsinnig en nuut.
Met ons aankoms op die Mestre, vasteland Venesië se hooftreinstasie, bars die seepbelletjie en kry ons ‘n voorsmakie van Italiaanse arrogansie. Ons noem dit plein onbeskoftheid in Afrikaans. Van hier hardloop ‘n haastige trein oor die strandmeerbrug, die Ponte della Libertà en roep halt op Sint Lucia, die hoofeiland se treinstasie. So beland jy op Santa Croce, ‘n voorstad van die veelbesonge ou stad.
Die Mestre is ‘n warboel. Die Italiaanse amptenare is geïrriteerd met die malende toeriste.
“ Twee retoere na Venesië, ou stad.” In Engels. Ou grys omie babbel en beduie. Ek moet ‘n kaartjie met ‘n nommer kry. Uit die chaos, die derde losskrumry in.
“Kaartjies na Venesië, ou stad.” Die mooi meisietjie frons.
Wat is “oud?”. Ek beduie “Jy jonk, ek oud. Ou stad”.
Geen ligte gaan aan nie. Almal voor my het Ingels gepraat en kaartjies na die eilandstad gekoop. Ergelik roep sy haar kollega wat gou met haar in Italiaans konfereer.
Hulle sê ”Santa Lucia”, die ou stad se treinterminus. Ek sê “Dankie Vader” en bespreek dadelik retoere. Sonder nog raadpleging, woerts!, verskyn die kaartjies.
A, Venesië! Ons sleep ons bagasie oor die eerste ou voetgangerbrug. Waterweë beteken brûe en daarom is hier baie. Oues en nuwes, grotes en kleintjies, die beroemdes soos die Rialto en die onvermydelike geslotenes vir opknappingswerk.
Daar is verskeie knapies wat aanbied om tasse te sleep. Natuurlik nie gratis nie. Ook nie billik nie. Hul fooi word nie gereguleer nie en kan jou maklik N$750 vir soveel meter kos.
Dit lyk goedkoop in vergelyking met die tradisionele gondelvaart wat sonder sang, ná plus minus ‘n uur jou N$1 800 armer kan laat.
Vir ‘n verdere prysskok vaar ons die strate in. Hier word huiswyn skraps in 125 ml-glasies geskink en jaag jou N$80 uit die sak, met die gevolg net die rykes en boemelaars raak behoorlik dronk. In een eetplek bestel ons twee coperto’s en een diavola. Vertaal is dit twee bedektes en een duiwel. Inderdaad, en die slang van pryse pik my verlammend in die beursie. Daar gaat my budget.
Somber wonder ek: “Is die plek al die ‘hype’ werd?” Die Rooms-Katolieke Markus is die stad se beskermheer en op die stad se goue en rooi vlag pronk die Bybelse leeu van sy Evangelie. Die imposante Sint Maria van Gesondheid se klokke lui verdoemend, pleitend om vergifnis .Ek wil op ‘n seepkissie klim, op my bors slaan en roep: “Pasop, hoogmoedige Venesië! Jy is aan die verrot in jou hebsug.”
En sy lag in my gesig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie