Die kaarte in 2020 se landbouhoed

04 February 2020 | Landbou
Dr. Kobus Laubscher - Januarie was tyd vir vere regskud ná die vakansieseisoen, maar nou lê harde werk voor. Die vraag is wat voorkeur moet geniet.

Dié keuses laat my dink aan hoe ons kleintyd kaarte uit ’n hoed moes trek vir ’n kans om deel te neem. Watter kaarte is daar in die 2020-hoed?

MIELIE-OESTE

Vir baie het 2020 goed begin met milde reën. Teen die middel van Januarie was bykans 90% van alle lande wat boere van voorneme was om te plant, geplant. Volgens die jongste inligting van die Suid-Afrikaanse Nasionale Oesskattingskomitee word die positiewe vooruitsigte vir vanjaar se mielie-oeste ook by die Amerikaanse Departement van landbou aangetref. Suid-Afrika sal na alle waarskynlikheid ’n netto uitvoerder van mielies bly.

Die eerste kaart wat uit die hoed getrek word, bevat ’n waarskuwing: Die oes is nog nie in die sak nie. Boere moet duim vashou dat weersomstandighede, veral grondvog, die positiewe verwagting kan deursien.

Druk op die graanaanbod uit Suid-Afrika gaan ook verander noudat Zimbabwe uiteindelik GMO-mielies kan invoer om sy mense van kos te voorsien. Dit is goeie nuus.

Daarenteen wurg Nigerië se bevolking aan ’n verbod op voedselinvoere. Sou iemand se kop dus in die rigting van uitvoere na daardie deel van Afrika staan, trek hy dalk ’n verkeerde kaart.

VEEMARKTE

Beesboere met bemarkbare vee het onlangs opwindende kaarte in Namibië getrek met rekordpryse wat die mark betaal het. Anderkant van die grens het hul Suid-Afrikaanse eweknieë ’n swak hand se kaarte getrek met ’n verbod op veilings en ’n gesukkel om naspeurbaarheid tot uitvoer te bring.

Berigte dat die buurland se sogenaamde kordonheining vervalle is en daartoe lei dat mak en wilde gespletehoefdiere saamwei, is dalk ’n goeie kaart vir kontrakteurs wat die heining moet herstel.

Die Suid-Afrikaanse regering moet dalk hoop hulle trek nie die kaart wat wys op die geleenteheidskoste van die gebrek aan die doeltreffende beheer van bek-en-klouseer nie. Namibiese boere haal tot R47 per kg vir speenkalwers, waar boere in Suid-Afrika hoop om R35 en meer betaal te word wanneer veilings hervat.

CHINA

Daar is nog baie kaarte in die hoed, maar ’n paar het dieselfde boodskap oor die nadelige impak van die jongste virus in China.

Volgens die bekende ekonoom Mike Shüssler kom die uitbreking op ’n baie slegte tyd wat internasionale markte aanbetref. China is besig om die gang van wêreldhandel te bepaal. Die samelewing in China kom tot stilstand met skole en fabrieke wat gesluit is en sal bly. Sowat 60 miljoen mense is in kwarantyn.

Volgens Shüssler verteenwoordig China 4% van die totale beskikbare produksietyd wêreldwyd. China sou na verwagting vanjaar vir 30% van die totale waarde wat wêreldwyd deur vervaardiging geskep word, verantwoordelik wees. Die impak van dié virus strek verder omdat dit kleinhandel ook negatief raak.

Beide Namibië en Suid-Afrika was juis die afgelope tyd suksesvol met vleisuitvoere na China. Enige afname in vraag na goedere uit China sal volgens Schüssler ’n negatiewe impak op Suid-Afrika hê, wat dalende kommoditeitpryse – van ystererts tot neute – insluit.

BELEIDSONSEKERHEID

Op plaaslike vlak sal kaarte oor beleid steeds vir die trekker ’n slegte hand beteken.

Grondonteiening bly ’n brandpunt. Die jongste verklaring van die ANC om besluite oor die waarde van onteiende grond in die hande van die kabinet te laat, was die spreekwoordelike knuppel in die hoenderhok.

Geen regering is in staat om markkragte te vervang nie.

Dié denkrigting beklemtoon die onderliggende politieke dryfvere, eintlik politieke bankrotskap, en grens aan ekonomiese gestremdheid.

Veral as die vernietiging van welvaart wat dit kan veroorsaak siende oë oor die hoof gesien word. Iemand wat dus ’n kaart trek met beleidsekerheid oor landbougrond moet weer kan trek.

’n Tweede kans kan dalk die kaart wees wat aandui om aan te gaan met jou besigheid om kos op die tafel te sit – en basta die res.

Hoe dit ookal sy, ons boere moet windop koers hou.

Hulle bly onvervangbaar.

Soortgelyk

 

Steeds geen kontrak vir diens aan Psemas

10 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Die staat se mediese fonds (Psemas) se nuwe kontrak met gesondheidsdiensverskaffers wat reeds sedert 2017 sloer, is weer uitgestel, die keer tot...

Beeste uit Botswana vul tekort aan

10 ure gelede | Byvoegsels

Ronelle Rademeyer - Sowat vier maande nadat Botswana sy grens vir die uitvoer van lewende slagbeeste na Namibië oopgestel het, kon Meatco op Dinsdag 18...

Weer, Woensdag 26 Februarie 2020

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolkte en baie warm weer sal in die Kunene-Wesstreek heers. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees met geïsoleerde,...

Samherji-werkers afgelê

10 ure gelede | Misdaad

Leandrea Louw – Sowat 210 werknemers van die vaartuie MV Saga en MV Geysir gaan aanstaande maand afgelê word. Die werknemers is vroeër vandeesmaand gestrand...

Posisioneer jouself betyds vir groter wins

10 ure gelede | Landbou

Christo du Plessis, Dierevoedingskundige: Feedmaster – In hierdie artikel kyk ons na die sleutelkwessies in rooivleisproduksie wat wins dryf, en hoe fosforaanvulling produsente se winsgewendheid...

N$14 miljoen vir kragprojek bewillig

10 ure gelede | Regering

Yandi du Plessis - ’n Sooispitseremonie vir die voorsiening van krag aan die Otjomuise- en Havana informele nedersettings het Vrydag in Otjomuise in die hoofstad...

Houthandel: Bewerings van vuilspel

10 ure gelede | Omgewing

Catherine Sasman – Die ministerie van landbou, water en bosbou het onlangs erken gevalle van onwettige houtoeste het wel plaasgevind sedert ’n moratorium op oeste...

Lesersfoto's 26 Februarie 2020

10 ure gelede | Lesersfoto's

Lesersfoto's 26 Februarie 2020

More power, features, fun and adventure

10 ure gelede | Motors

Fans of the evergreen Mahindra Scorpio are in for a treat with the launch of the upgraded S11 model.With this upgrade to the vehicle's engine...