Dag 30 van Shoprite-staking

Die regering is versoek om in te gryp, terwyl Shoprite die howe nader om sy praktyke te regverdig.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) het gister sy veldtog teen Shoprite Namibia versterk deur klagskrifte aan die kantoor van die eerste minister en die hoof van die Namibiese polisie (Nampol) te oorhandig.

Nafau se geskil oor vergoeding en werksomstandighede vir 4 300 werknemers by Shoprite-, Usave- en Checkers-winkels landswyd het op 23 Desember tot 'n nasionale staking gelei.

Verlede Vrydag het sake op Osha­kati handuit geruk toe Nampol die spesiale reserwemag ontplooi en rubberkoeëls gebruik het op ­betogers wat ontsteld was dat­ ­onderhandelinge met Shoprite weer eens misluk het.

In die klagskrif aan die ­nasionale polisiehoof, lt.genl. ­Sebastian Ndeitunga, word die polisie versoek om stakers te beskerm en om 'n hofbevel van regter ­Shafimana Ueitele af te dwing wat Shoprite verbied om seisoen­werkers te gebruik om stakers se werk te doen.

Volgens die vakbond minag Shoprite die voorwaardes van die staking en die polisie het voorheen gesê hulle moet die balju nader vir hulp om die kettingwinkelgroep te dwing om die Namibiese arbeidswet te gehoorsaam.

“Toe Shoprite die polisie ontbied het om ons van ons stakingspunte te verwyder en op ons te skiet, was hulle nie na die balju verwys nie,” lees die klagskrif.

Die klagskrif vra ook vir 'n open­bare verskoning vanaf komm. Rauha Amwele, Oshana se streekbevelvoerder, teen ­volgende Dinsdag oor die voorval op ­Oshakati.



EERSTE MINISTER SE KANTOOR

Nafau het vroeër die oggend reeds hul klagskrif aan die kantoor van die eerste minister oorhandig. Hierin vra hulle die regering om in te gryp.

“Ons, die werknemers van ­Shoprite, is moeg om uitgebuit te word soos slawe in 'n vry land en beroep ons hiermee op die regering van die Republiek van Namibië vir onmiddellike ingryping,” lees die klagskrif.

“Ons vra ons regering om die eienaar of die uitvoerende hoof van Shoprite in te roep, om Shoprite se bestuur te dwing om met ons vakbond (Nafau) te vergader en ons eise te beantwoord. Ons vra die regering om Shoprite te beveel om die wet van ons land na te kom, anders moet Shoprite hul deure sluit en Namibië verlaat!”

Die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Utoni Nujoma, het Dinsdag sy steun vir die staking bekend gemaak. In 'n sterk bewoorde verklaring sê Utoni die regering word deur Namibië se wet beperk tot neutraliteit in die arbeidsgeskil; nogtans moedig die ­minister Namibiërs aan om die groep se winkels te boikot.

“Die regering het al lank met ­Shoprite te doen weens sy ­geskiedenis van swak arbeidsverhoudings,” sê die minister.

Lae besoldiging beteken vir Shop­rite-werknemers, meestal vroue, “'n lewe van verwaarlosing”, sê hy.

Die Shoprite-groep verklaar egter uit Suid-Afrika sy standpunt dat hy markverwante salarisse bied.

Amptelike kommunikasie van 'n woordvoerder lees: “Dit is 'n prioriteit vir die Shoprite-groep om die aangeleentheid deur die toepaslike kanale en in belang van alle partye op te los. Die groep doen alles in sy vermoë om werksgeleenthede te beskerm, veral tydens die wêreldwye pandemie en die ernstige ekonomiese impak daarvan.”

Verder dring die Shoprite-groep aan die aanstelling van seisoenwerkers is bloot sy algemene praktyk.

“Noodplanne is ingestel om met minimale ontwrigting vir ons klante, waar moontlik, voort te gaan met handel in die meeste winkels,” sê die woordvoerder.

Hierdie noodplanne sal volgende Dinsdag op die proef gestel word, wanneer prokureurs van beide partye voor regter Collins Parker moet verskyn.

Shoprite Namibia sê die vakbond intimideer sy werknemers en kliënte en hou ook nie by die reëls van die staking nie.

Terwyl Shoprite appelleer teen Ueitele se besluit, vra albei partye intussen vir Parker om die staking­reëls af te dwing.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Brighton 0 vs 4 Manchester City | Manchester United 4 vs 2 Sheffield United | Everton 2 vs 0 Liverpool | Crystal Palace 2 vs 0 Newcastle | Wolves 0 vs 1 Bournemouth LaLiga: Real Sociedad 0 vs 1 Real Madrid SerieA: Frosinone 3 vs 0 Salernitana | Udinese 1 vs 2 AS Roma European Championships Qualifying: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City English Championship: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City Katima Mulilo: 16° | 33° Rundu: 16° | 33° Eenhana: 16° | 35° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 17° | 35° Tsumeb: 18° | 32° Otjiwarongo: 14° | 31° Omaruru: 16° | 34° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 18° | 30° Henties Bay: 15° | 22° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:03, High tide: 05:02, Low Tide: 23:14, High tide: 17:32 Swakopmund: 15° | 18° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 05:00, Low Tide: 23:12, High tide: 17:30 Walvis Bay: 16° | 26° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 04:59, Low Tide: 23:12, High tide: 17:29 Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 20° | 34° Keetmanshoop: 22° | 34° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 35° Oranjemund: 17° | 30° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 18° | 27° Lubumbashi: 11° | 25° Mbabane: 13° | 17° Maseru: 9° | 23° Antananarivo: 14° | 27° Lilongwe: 14° | 26° Maputo: 18° | 25° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 15° | 27° Durban: 17° | 22° Johannesburg: 15° | 23° Dar es Salaam: 23° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 14° | 26° #N/A #N/A