Covid-19-toetsveldtog op Walvisbaai
Covid-19-toetsveldtog op Walvisbaai

Covid-19-toetsveldtog op Walvisbaai

Gesondheid
Adolf Kaure
Adolf Kaure – Die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Neville Andre, het aangekondig dat meer as 2 000 inwoners van Walvisbaai tydens ’n toetsveldtog vir Covid-19 getoets sal word.
Die toetse word gedoen om vas te stel wat die omvang van Covid-19-verspreiding in die Walvisbaai-distrik is, asook om die data vir ’n reaksieplan te gebruik.
Volgens die goewerneur is ’n toetssentrum by die Kuisebmond-gemeenskapsaal laas Saterdag gevestig waar meer as 400 mense in die soektog van aktiewe gevalle in die distrik getoets is.
“Om meer mense in die plaaslike owerheidsgebied van Walvisbaai te bereik, het ons ’n toetsveldtog in geteikende gebiede en gemeenskappe onder die naam ‘Active Case Identification Exercise’ van stapel gestuur,” het Andre gesê.
Volgens hom het die toetsveldtog Woensdag begin en sal dit tot Sondag duur.
Die inisiatief volg nadat die aantal Covid-19-gevalle in die land binne een week van 32 tot 71 gestyg het.
Die meeste van die nuutste gevalle is van die Walvisbaai-distrik waar 17 gevalle in een week aangeteken is.
“Die Erongostreek staar ’n reusetaak in die gesig om te verseker die virus is onder beheer. Die virus is hier met en tussen ons.
“Ons het hoop en geloof dat as ons as ’n streek saamstaan, ons die verdere verspreiding van die virus sal verminder.”
Hy sê weens die nuwe gevalle in die Walvisbaai-gebied, veral in Kuisebmond, is die waarnemingspan daarop ingestel om meer moontlike gevalle daar te identifiseer.
“My kantoor saam met die Erongo-streekraad, die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste met die ondersteuning van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), die munisipaliteit van Walvisbaai en ander vennote, gaan ons toetsstrategie uitbrei sodat geen moontlike geval onopgespoor bly nie, ” het Andre gesê.
Die neem van weefselmonsters en die aflewering van die monsters aan nasionale patologielaboratoriums vir toetsing sou tussen 24 en 26 Junie plaasvind. Die gemiddelde tyd vir toetsresultate is twee dae.
Die identifisering en isolasie van gevalle en om kontakte onder kwarantyn te plaas, sou ook tussen 24 en 26 Junie plaasvind.
“Sodra deelnemers hul toetsuitslae ontvang, positiewe gevalle geïdentifiseer en geïsoleer word, kontakte geïdentifiseer en volgens risiko gekategoriseer word, sal kontakte onder kwarantyn geplaas word. Hierna sal verslae tussen 27 en 28 Junie geskryf en met belanghebbendes gedeel word,” het hy gesê.
Die goewerneur sê die hoofdoelwit is om die omvang van oordrag in die distrik vas te stel. Die ondersoek sal gebiede met hoë bevolkings teiken, asook kwesbare mense wat deur hul daaglikse werk en lewering van noodsaaklike dienste met baie mense van die gemeenskap in aanraking kom.
“Dit sluit in gesondheidswerkers in gesondheidsfasiliteite, apteke en kassiere, ontvangsdames, sekuriteitswagte, skoonmakers in winkels, supermarkte, banke, haarkappers en karwasserye, asook handelaars, drywers, skeepswerkers en fabriekswerkers wat noodsaaklike dienste lewer,” het Andre gesê.

Die toetsgebiede en datums is:
• 268 mense in Sea point (24 - 25 Junie)
• 268 mense by NamPort (24 - 25 Junie)
• 200 mense by Tutaleni (24 - 25 Junie)
• 200 mense by Twaloloka (24 - 25 Junie)
• 200 mense by Kabeljou (26 - 27 Junie)
• 200 by die Kuisebmond-sentrum (26 - 27 Junie)
• 200 mense by Narraville (26 - 27 Junie)
• 100 mense by die hawe en in die dorp (26 - 27 Junie)
• 300 mense by die gevangenis (23 Junie en 27 Junie)
• 64 mense by Utuseb (27 Junie)

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer