Covid-19 teister skole in Hardap

Lewens van drie onderwysers geëis

14 April 2021 | Ministeries
Henriette Lamprecht – Skole in die Hardapstreek word deur Covid-19 geteister, met drie skole net op Schlip wat aanvanklik hul klasse moes opskort.

Die pandemie het ook reeds die lewens van drie onderwysers van onderskeidelik die hoërskole St. Joseph, Dr. Lemmer en Pionier op Schlip geëis. Laasgenoemde is mnr. Davey Mouton wat môre op sy 55ste verjaardag begrawe word.

Gister was 65 van die nuwe gevalle wat landswyd aangeteken is, leerlinge. Maandag was 120 leerlinge deel van dié dag se gevalle, waarvan die meerderheid van Hoërskool Rehoboth was.

Volgens die direkteur van onderwys in die Hardapstreek, mnr. Gerhard Ndafanongo, was klasse by drie skole op Schlip aanvanklik opgeskort, nadat 90 leerlinge positief vir Covid-19 getoets het. Dit sluit die Primêre Skool Schlip, die Primêre Skool Matheus Hansen, sowel as die Junior Sekondêre Skool Matheus Hansen in. Klasse het intussen weer by die twee primêre skole hervat.

Uit die totale getal leerlinge wat positief getoets het, sê Ndafanongo nog net drie is positief vir die virus. Volgens hom het verskeie mense op die dorp ook positief getoets.

Op Kriess moes die Primêre Skool Samuel Veldskoen ook tydelik sy deure sluit nadat al die onderwysers behalwe twee positief vir Covid-19 was en dié twee nie meer alleen al die klasse kon hanteer nie.

By Hoërskool Rehoboth waar 120 leerlinge teen Maandag positief vir Covid-19 getoets het, was 63 leerlinge volgens Ndafanongo tans in afsondering en in kwarantyn op die grondvloer van die skool se koshuis. Koshuisleerlinge wat nie positief is nie, word op die eerste vloer gehuisves. By Hoërskool Dr. Lemmer sê hy is 15 positiewe gevalle wat in die koshuis in kwarantyn is.

Met verwysing na die eksamens wat eersdaags vir leerlinge begin voordat die skole vir die eerste termyn sluit, sê Ndafanongo volgens die nasionale leerplan skryf leerlinge nie eksamens aan die einde van die eerste termyn nie.

“Voortgesette evaluering en toetse word gebruik. Vir die eerste twee termyne word nie eksamens geskryf nie,” het hy gesê.

’n Onderwyser wat by Hoërskool Rehoboth saam met die positiewe leerlinge onder kwarantyn is, het by navraag gesê die betrokke leerlinge wat tans nie klasse kan bywoon nie, ontvang notas.

“Dit word soggens aan hulle uitgedeel en hulle word hieroor gemonitor. Onderrig gaan steeds voort,” het hy gesê.

Volgens hom is die sowat 60 leerlinge wat tans hier onder kwarantyn is, twee keer getoets. Besoeke deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is glo ook beperk.

“Hulle kom net wanneer ons hulle bel en daar kinders is wat baie siek is. Volgens hulle is daar nie genoeg geriewe op die dorp om die siek kinders na toe te neem nie. Nou kyk die toesighouer na die siek kinders,” het hy gesê.

Volgens hom is tien leerlinge wat baie siek was, uit die koshuis geneem en na bewering na die jeugsentrum op die dorp geneem. Die ministerie het glo ook vitamiene vir die siek leerlinge by die koshuis afgelaai. Alle personeel wat by die koshuis betrokke is, is tans volgens hom in kwarantyn wat voor Paasnaweek reeds tydelik gesluit is.

“Dis moeilik, maar ons probeer ons bes. Die ministerie moet kom en meer mense kom toets.”

Intussen het nog ’n bron by die hoërskool wat verkies om anoniem te bly, beweer die graad 8- tot 11-leerlinge wat in kwarantyn is, ontvang geen onderrig nie. Volgens die bron het drie onderwysers by die skool positief getoets, waarvan een in die intensiewesorgeenheid behandel is. Met verwysing na eksamens beweer die bron die skool het sedert die aanvang van die eerste termyn nie ’n wiskunde-onderwyser nie, terwyl die geskiedenis-onderwyser glo eers verlede week ingeval het. Die onderwyser vir Engels vir graad 11 is ook na bewering sedert Februarie op siekverlof.

“Onderwysers moet aangestel en die eksamens uitgestel word. Die kinders moet onder toesig skryf en watter onderwysers gaan hulle by die koshuis instuur om dit te gaan doen en hulself so blootstel?” het die bron gevra.
[email protected]

Soortgelyk

 

Skoolhoof van Swakop sterf aan Covid-19

10 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – Huldeblyke het gister uit onderwys- en ander kringe ingestroom nadat die skoolhoof van Pro-Ed Akademie se hoër­skool op Swakopmund, mnr. Henry McCarthy,...

ReconAfrica voor hof gedaag

10 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer – Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) het sonder konsultasie of vooraf kennisgewing die natuurlike woud en landerye wat wettiglik deur 'n familie by Mbambi...

Weer vir 10 Mei 2021

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en warm...

Nog NBC-werkers keer terug

10 ure gelede | Arbeid

Hoewel die NBC-staking landswyd voortduur, het 74 werknemers intussen teruggekeer werk toe en is die Engelse radiodiens, National FM, weer terug op die lug. Die...

Noodkreet teen misdaadvlaag

10 ure gelede | Misdaad

Tunohole Mungoba op Oshakati – Die Oshakati-stadsraad het Donderdag 'n openbare vergade­ring in Okandjengeni-Suid op dié dorp gehou waar verskeie veiligheidskwessies geopper en klagtes teen...

Dwelms van amper N$2 miljoen gekonfiskeer

10 ure gelede | Misdaad

Volgens die Namibiese polisie is in April meer mense in besit van dwelms in hegtenis geneem as gedurende Maart. In Maart is 106 mense in...

Nuwe lewe in onooglike kraghuis geblaas

10 ure gelede | Kuns en vermaak

Claudia Reiter – Die kunstenaars Kat en Lens het die mure van 'n transformator-substasie in Conrad Ruststraat in Klein Windhoek geverf en verfraai. “Ons ry...

Geen partytjie vir Nujoma

10 ure gelede | Gemeenskap

Die kantoor van die stigterspresident Sam Nujoma het aangekondig hy gaan nie op 12 Mei sy 92ste verjaardag met 'n openbare byeenkoms vier nie. Dié...

Betaaldag hier vir Air Namibia se personeel

10 ure gelede | Vervoer

Ogone Tlhage – Die minister van openbare ondernemings (SOE's), mnr. Leon Jooste, het bevestig die regering het 'n gedeelte betaal van die N$278 miljoen wat...