Covid-19 eis geliefde kitaarspeler voortydig
Covid-19 eis geliefde kitaarspeler voortydig

Covid-19 eis geliefde kitaarspeler voortydig

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Sy musiektalent gaan verseker voort in die hemel. So sê mnr. Gerhard Byleveld oor sy geliefde swaer en meesterkitaarspeler Joachim (Joggie) D'Emiljo van Windhoek wat op 9 Oktober op die ouderdom van 58 jaar en twee jaar voor sy aftrede aan Covid-19 in die hoofstad gesterf het.

“Hartverskeurend vir die agtergeblewenes, maar vir jou was die lewe Christus en die sterwe wins, want jy is by ons Vader, jou vriend Jesus en saam met al jou geliefdes voor die troon van Hebreërs 12:22! Ons sal jou lieflike Christen menswees en jou prag kitaarspel mis,” sê Byleveld oor sy swaer wat deel was van die musiekfamilie die D'Emiljo's van Swakopmund wat met musiek van 'n familietragedie tot gehoorgestremdheid oorkom het.

Volgens Byleveld het die familie en sy susters, mee. Petro Byleveld, Marinda van der Merwe en Rósa-Mia Fourie, reeds begin kyk om Joggie se blyplek in Windhoek te verkoop en vir hom 'n aftreehuisie op Swakopmund te koop.

Byleveld sê Joggie was twee weke lank grieperig en is op die derde doktersbesoek in Lady Pohamba Private Hospitaal opgeneem, nadat sy suurstofvlak gedaal het. Hy het daarna positief vir Covid-19 getoets.

Die musikale D'Emiljo's het vroeër op die Afrikaanse kletsprogram Kwêla hul buiging gemaak waar hulle vertel het oor hul gedeelde liefde vir musiek en hoe dit die nou band is wat hulle as familie verbind.

Die familie is deur 'n reusetragedie op 19 Julie 1978 getref toe die huis waarin hulle op Walvisbaai gewoon het, aan die brand geslaan het. Hul ma en hul 12-jarige boetie Fransisco het in die brand gesterf.

Joggie het in die Kwêla-onderhoud vertel hoe die gesin altyd 'n orrel, kitaar en trekklavier gehad het met die ses kinders wat “vir die instrumente baklei het!”

Sy suster, Marinda, het op haar beurt gesê vandat hulle kan onthou, het hul pa in orkeste gespeel.

“Ek onthou hoe ons onder die tafels gelê en slaap het terwyl hy musiek gemaak het,” het sy gesê.

Sy ander suster, Rósa-Mia het op haar beurt gesê sy onthou musiek “as kleintyd se lekkerte, met die gevolg dat ons net musiek wil maak. Dit het ons as familie naby aan mekaar gehou.”

Die familie, wat die kleinkinders insluit, het hul weergawe van die treffer “Me and Bobby McGee” opgeneem en ook 'n liedjie “Strandloper” gekomponeer en opgeneem wat saamgeval het met Swakopmund se kroning van Kwêla se Dorp van die Jaar.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer