Corona: Afrika 66% gereed

25 February 2020 | Gesondheid
Henriette Lamprecht – Afrika se algehele gereedheidsvlak vir die coronavirussiekte (covid-19) staan op 66%.

Volgens dr. Matshidiso Moeti, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se streeksdirekteur vir Afrika, is daar oraloor die vasteland “kritieke gapings” in lande se algemene gereedheid sou gevalle van die siekte hier voorkom.

“Ons moet dringend die versterking van kapasiteit in lande verhoog om waarskuwings te ondersoek, pasiënte in isolasiegeriewe te behandel en ook infektering, voorkoming en beheer in gesondheidsgeriewe en in gemeenskappe te verbeter,” het Moeti gesê.

Moeti was aan die woord tydens ’n noodvergadering oor covid-19 in Addis Abeba in Ethiopië wat deur die Afrika-unie Kommissie vir gesondheidsministers van Afrikalande byeengeroep is.

“Die bedreiging wat covid-19 inhou, het die soeklig op die tekortkominge in gesondheidstelsels in Afrika laat val. Lande moet belê in paraatheid in nood. So ’n belegging is die moeite werd as jy die koste van uitbrekings soos die ebola-uitbreking in 2014 in ag neem, wat ’n beraamde US$3 miljard gekos het,” het Moetie gesê.

Volgens hom werp gereedheidspogings wat lande reeds in plek gehad het, reeds vrugte af. Moetie het verwys na beleggings in voorbereidings vir ebola vir die nege buurlande van die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), wat reeds die weg vir paraatheid vir covid-19 gebaan het.

“Die meeste van dié lande het nou koördineringstrukture met vennote in plek, skandering by grensposte en veral besige lughawens is versterk en isolasie-eenhede is opgradeer om moontlike gevalle te bestuur.”

Volgens Moetie het die WHO die afgelope paar jaar ’n nasionale netwerk van laboratoriums en gesondheidsgeriewe vir griep ontwikkel.

“Die laboratoriums wat lede is van die netwerk kon hul diagnostiese kapasiteit vinnig opdateer. Gesondheidsgeriewe in die netwerk monitor ook ernstige akute lugweginfeksies en griepverwante siektes as moontlike voorloper vir covid-19 wat soortgelyke simptome het.”

Tot op hede het landwye monitering nog geen toename in griepverwante of soortgelyke gevalle getoon nie. Volgens Moetie is sedert 22 Januarie 210 mense vir covid-19 in die WHO se Afrikastreek ondersoek. Hiervan het 204 gevalle negatief getoets, terwyl daar nog op die uitslae van ses gevalle gewag word.

Die WHO het tot op hede meer as 40 kundiges na tien lande ontplooi om onder meer die koördinering, behandeling, voorkoming en beheer van covid-19-gevalle te ondersteun.

Moetie sê die organisasie het lande ook gehelp om hul diagnostiese kapasiteit vir die virussiekte te bou. Tans kan 26 laboratoriums op die vasteland vir die nuwe patogeen toets. Dit teenoor die slegs twee laboratoriums vroeër vandeesmaand.

Intussen het China se ambassadeur vir Namibië, mnr. Zhang Yiming, beklemtoon daar word goed na Namibiese studente in China gekyk. Hy het onder meer verwys na nege Namibiese studente wat aan die Huazhong Universiteit van Wetenskap en Tegnologie in Wuhan, die episentrum van die uitbreking, studeer. Sewe van die studente bly in ’n koshuis op die kampus, terwyl twee woonstelle huur.

Volgens Yiming word plaaslike sowel as buitelandse studente almal oor dieselfde kam geskeer en geld spesifieke beskermingsmaatreëls vir alle studente. Dit sluit die daaglikse opvolg en monitering van studente se fisieke toestand in.

“Die jongste inligting word aan alle studente gestuur en sluit inligting oor die epidemie sowel as reëlings oor klasse in. Volgens die daaglikse terugvoer van Namibiese studente is daar in die algemeen geen groot probleme nie,” het hy gesê.

Yiming sê die kampus is steeds gesluit en studente ontvang daagliks drie maaltye wat by elke student afgelewer word. Studente wat die kampus wil verlaat, ontvang gratis gesigmaskers. Hul temperature word getoets voor en ná hulle die kampus verlaat het.

[email protected]

Soortgelyk

 

Etosha Sondagmiddag deur aardbewing geskud

8 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer - ’n Aardbewing van 4,7 op die Richterskaal het Sondag om 16:42 in die Etosha nasionale park voorgekom.Me. Gloria Simubali, adjunk uitvoerende direkteur...

Is groot Beethoven-feesjaar van die baan?

8 ure gelede | Kuns en vermaak

Groot feesvierings is wêreldwyd en veral in Duitsland en Oostenryk beplan ter herdenking van die komponis Ludwig van Beethoven se 250ste geboortejaar. Elretha Britz van...

Naam bekend van Namibiër wat in Engeland aan Covid-19...

9 ure gelede | Gesondheid

Ronelle Rademeyer - Die Namibiër wat Saterdag in Nottingham, Engeland, aan die coronavirussiekte (Covid-19) dood is, se naam is bekend gemaak.Hy is die 56-jarige mnr....

Paspoorte: Lorriedrywers kry voorkeur

9 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit het by monde van sy woordvoerder, mnr. Sakeus Kadhikwa, ontken hulle reik tans...

Meer as 3 000 vir Covid-19 getoets

10 ure gelede | Gesondheid

Die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste me. Esther Muinjangue sê 3 186 weefselmonsters is tot op hede vir Covid-19 getoets. Namibië het tans 21...

Moody's-klap voor begroting

20 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Op die vooraand van finansminister Iipumbu Shiimi se debuutbegroting sit die regering nie net kniediep in die rommel nie, maar verskraal sy...

Kwarantyn-drama ry lorriedrywers

20 ure gelede | Gesondheid

Leandrea Louw op Walvisbaai – Die vragmotorbestuurder wat die afgelope naweek positief vir Covid-19 getoets het, sê sy voormalige werkgewer het hom en sy kollega...

Man voor hof ná 'hardhandigheid'

20 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – 'n Inwoner van Groot Aub, mnr. Richard Davids, wat aanvoer 'n beampte van die stadspolisie het hom verlede week aangerand, is Vrydag...

Weer, Dinsdag 26 Mei 2020

20 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue tot baie koue toestande word in die Suide, die Weste en oor die Khomas- en Omahekestreek verwag. Tref voorsorg.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en koud...