Chucky ook op Bulle se krukkelys

Superrugby
Cobus Claassen -

Daar is hoop in die Bulle-kamp dat die ervare slot Juandré Kruger volgende naweek op sy pos sal wees teen die Blues.

Herman Rossouw, die Bulle se spandokter, het bevestig Kruger het Saterdag op Nuweland harsingskudding teen die Stormers opgedoen.

Hy sê die voormalige Springbok sal “hopelik volgende week saam met die span kan oefen”.

Die Bulle het die komende naweek ’n loslootjie en speel volgende Saterdag op Loftus Versfeld teen die Blues.

Pote Human, hoofafrigter van die span, sal ’n ander plaasvervanger-haker moet ontbied, nadat Johan Grobbelaar tydens die nederlaag teen die Stormers ’n enkelbesering opgedoen het. Toetse Maandag het uitgewys dat hy vir minstens ses weke uit kan wees.

Die Namibiese haker Louis (Chucky) van der Westhuizen is ook mank. Hy het verlede week in een van die span se oefensessies ’n enkel beseer en sal na verwagting ook sowat twee weke op die kantlyn moet deurbring.

Jaco Visagie en Corniel Els behoort dus die hakers in die 23-tal teen die Blues te wees.

Die stut Simphiwe Matanzima (skouer) sal eers volgende maand weer oorweeg kan word.

Daar is darem goeie nuus ook vir Human.

Die Springbok-flank Marco van Staden het volkome van sy harsingskudding herstel en kan oorweeg word om die Kiwi’s die stryd aan te sê.

Die kragmeting met die Blues sal van kritieke belang vir die Bulle wees nadat hulle met leë hande teruggekeer het na Pretoria ná besoeke aan Durban en Kaapstad.

Dié span sal ook sy aanvallende spel moet opskerp, want hy kon in sy eerste twee kragmetings nog nie ’n enkele drie druk nie.

Die Blues het hul Superrugby-veldtog met ’n tuisnederlaag teen die Chiefs (29-37) en ’n wegoorwinning oor die Waratahs (32-12) begin. Hulle speel Vrydag tuis teen die Crusaders voordat hulle die lang tog na Pretoria aandurf.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer