Chinese firmas onder skoot vir poste 'net vir mans'
Petrus Malherbe
'n Nuwe verslag van Human Rights Watch het bevind dat talle Chinese tegnologiemaatskappye skuldig is aan dieselfde oortreding: die plaas van seksistiese advertensies vir nuwe poste waarin daar openlik gesoek word na net manlike kandidate.
Groot tegnologiemaatskappye, soos Huawei, Alibaba en Tencent, waarin Naspers 'n beduidende belang het, word daarvan beskuldig dat hulle nuwe advertensies vir poste plaas en blatant aandui dis net vir mans beskikbaar.
Reuters berig talle van die advertensies was ook neerhalend teenoor vroue met werkgewers wat mans probeer lok na poste deur te spog daar werk reeds “verskeie pragtige vroue” by die firma.
In sommige gevalle is die maatskappye juis op soek na vrouekandidate, maar dan word daar aangedui watter tipe houding hulle moet hê en selfs hoe lank hulle moet wees – eienskappe wat niks uit te waai het met die pos waarvoor hulle verlang word nie. Tencent word spesifiek oor die kole gehaal vir 'n advertensie wat hy in Maart 2017 vir 'n nuwe sportredakteur geplaas het. Die advertensie het glo spesifiek gevra vir 'n “sterk man” wat nagskof kan werk.
“Ons het ondersoek ingestel na die gevalle en maak onmiddellik veranderinge,” sê die maatskappy in 'n verklaring.
“Ons vra om verskoning dat dit gebeur het en neem dadelik aksie om te keer dat dit weer gebeur.”
Huawei word weer daarvan beskuldig dat dit vroue bloot as ornamentele bates sien met een advertensie van 2013 wat lui: “Ongeag hoe mooi die omgewing op Huawei se kampus is, mooi vroue word ook benodig.”
'n Woordvoerder vir Alibaba het aangedui die maatskappy gaan 'n strenger goedkeuringsproses volg voordat nuwe advertensies vir poste geplaas word.
Vroue 'staan geen kans'
Chinese vroue moet al 'n geruime tyd die knie teenoor hul manlike kollegas buig. Talle organisasies begin die aansoekproses vir nuwe poste aanlyn en kan so vroulike kandidate van meet af aan weier nog voordat hulle 'n regverdige kans gegun is om vir 'n onderhoud te kom, berig The Verge.
Chinese wetgewing bepaal dat werkgewers nie openlik op grond van geslag mag diskrimineer in advertensies vir nuwe poste nie, maar dié wet word selde geïmplimenteer en maatskappye word ook byna nooit gestraf nie.
Human Rights Watch het meer as 36 000 advertensies nagegaan wat sedert 2013 in China verskyn het. Benewens die tegnologiebedryf het seksistiese advertensies ook in verskeie staatsdepartemente, die boubedryf en onderwys verskyn.
Die organisasie het bevind dat 19% van alle staatsposte vir 2018 reeds net vir mans beskikbaar was of dat mans volgens die advertensies openlik voorkeur sou geniet.
Die betrokke departemente het nie op 'n versoek om kommentaar gereageer nie.
- Netwerk24/Bronne: The Verge, Human Rights Watch, Reuters

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie