Buurlande skuld meer as R600 m. aan Eskom – Pravin

11 November 2019 | Ekonomie
Llewellyn Prince – Terwyl die sukkelende Eskom deur reddingsboeie van die regering aan die lewe gehou word én Suid-Afrikaanse verbruikers aan voortdurende beurtkrag onderwerp word, skuld verskeie buurlande Eskom meer as R600 miljoen.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het dié syfer onthul in ’n parlementêre antwoord wat Donderdag deur die parlement uitgereik is.

Denis Joseph, ’n DA-LP, wou onder meer by hom weet aan watter lande en buitelandse maatskappye Eskom elektrisiteit verskaf en of enige van daardie lande of maatskappye enige agterstallige skuld aan Eskom het.

Luidens Gordhan se antwoord het Eskom op 19 September vanjaar ook elektrisiteit aan tien internasionale regerings en maatskappye gelewer.

Volgens hom skuld drie buurlande se elektrisiteitsverskaffers Eskom tans gesamentlik R632 miljoen. Die Zimbabwiese kragowerheid (Zesa) se uitstaande skuld is die meeste, op R322 miljoen.

Gordhan sê dit is omdat Zimbabwe weens sy politieke probleme ook ekonomiese probleme ondervind. Hy sê Zesa betaal tans die skuld af ingevolge ’n terugbetalingsooreenkoms.

Verder skuld Mosambiek se elektrisiteitsverskaffer, Electricidade de Mocambique, Eskom R221 miljoen, wat hy weens “finansiële beperkinge” ook nie kan betaal nie. Ook hier geld ’n terugbetalingsooreenkoms.

Dan word Eskom ook R89 miljoen geskuld deur die Zambiese elektrisiteitsverskaffer, Zesco. “Ekonomiese probleme” in Zambië verhoed ook dat dié land sy Eskom-skuld betaal, sê Gordhan. Daar word nog aan ’n terugbetalingsooreenkoms met Zesco gewerk.

Volgens Gordhan is daar geen dispuut met hierdie lande dat die geld wel aan Eskom verskuldig is nie.

Gordhan het dit duidelik gemaak dat hierdie gesamentlike uitstaande skuld van die buurlande net “minimaal” kan help met Eskom se kontantvloeiprobleme.

Volgens hom sal Eskom egter verseker dat toekomstige kontrakte met internasionale kliënte so opgestel word dat dit die opeenhoping van skuld verhoed.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, sê in reaksie hierop dit is “ondenkbaar dat Eskom gewillig is om Suid-Afrikaners gyselaar te hou met beurtkrag terwyl hy elektrisiteit verskaf aan ander lande wat nie eens daarvoor betaal nie”.

“Met dreigende beurtkrag alomteenwoordig, moet Eskom eers sy verpligtinge tuis nakom voordat hy eens daaraan kan dink om homself so dun te smeer deur elektrisiteit aan ander lande te verskaf.”

Mazzone sê hoewel Gordhan meen die uitstaande skuld van buurlande het ’n minimale impak op Eskom se kontantvloei, “is die werklikheid dat elke sent tel as Eskom self ’n berg skuld het van meer as R420 miljard”.

“ ’n Halfmiljardrand is ’n verstommende bedrag geld en kan op lang termyn help om Eskom se finansiële ellende te stabiliseer.”

Volgens haar gaan die DA aan Gordhan skryf om die terugbetalingsooreenkomste wat Eskom met bogenoemde lande het, openbaar te maak.

Sy sê benewens bogenoemde skuld, skuld plaaslike munisipaliteite Eskom byna R20 miljard.

Sy meen dit is duidelik dat Eskom nie in staat is om hierdie plaaslike en internasionale skuld in te vorder nie. En as Eskom nie dié geld kry nie, sal Suid-Afrikaanse belastingbetalers moet aanhou om reddingsboeie aan Eskom te gee. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Pastoor Babi steeds agter tralies

3 ure gelede | Howe

Pastoor Jackson Babi (30) van die House of Joy Ministries en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni (25), bly steeds agter tralies.Landdros Linus Samunzela het vanoggend...

25ste Covid-19-geval bevestig

5 ure gelede | Gesondheid

'n Vroulike gesondheidswerker (32) is Namibië se jongste Covid-19-geval. Dit bring die aantal bevestigde Covid-19-gevalle in Namibië op 25 te staan. Volgens die minister van...

Hof hoor president is 'mislei' oor arbeidsregulasies

15 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Pres. Hage Geingob is “verkeerd geadviseer” met die opstel van die gewraakte arbeidsregulasies waarvan die grondwetlikheid Vrydag in die hoërhof deur Namibiese...

Namibiërs in haglike omstandighede onder SA-kwarantyn

15 ure gelede | Gesondheid

Twee vroue van Windhoek en die een se 16-jarige dogter meen die vervalle staatshospitaal by Nababeep naby Springbok in die Noord-Kaap waar hulle in kwarantyn...

'Profeet' Babi se borgaansoek vandag

15 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – Die bekende, charismatiese en selferkende profeet van die House of Joy Ministries, pastoor Jackson Babi (30), en sy medebeskuldigde, mnr. Friza Dumeni,...

Twee bemanningslede positief vir Covid-19

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht & Leandrea Louw – Walvisbaai huisves tans drie aktiewe gevalle van Covid-19 ná ‘n 51-jarige man Saterdag positief vir die virussiekte getoets het....

Fishrot-manne skarrel vir borgtog

15 ure gelede | Misdaad

Augetto Graig – Die Windhoek-landdroshof het Vrydag met verskeie Fishrot-sake gewemel, met borgtogaansoeke wat met aansoeke vir die verlenging van tyd vir verdere ondersoek, meegeding...

Weer, Maandag 1 Junie 2020

15 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Zambezi- en Kavangostreek. Elders sonnig en warm tot baie warm. Winderige weer sal oor die binneland heers....

SA: Namibiërs in vervalle TB-hospitaal in kwarantyn

15 ure gelede | Gesondheid

Ronelle Rademeyer - Twee vroue van Windhoek en die een se 16-jarige dogter meen die vervalle staatshospitaal by Nababeep naby Springbok in die Noord-Kaap waar...