Burgemeester soek samewerking

Stadsraad deursigtigheid verbeter

29 June 2020 | Regering
Augetto Graig – Belastingbetalers in Windhoek se skuld aan die munisipaliteit het in die twee maande tussen einde Maart en einde Mei met N$144 miljoen toegeneem.

Volgens die burgemeester, me. Fransina Kahungu, was die uitstaande skuld teen 31 Mei op N$984 miljoen, ’n styging vanaf N$840 miljoen teen einde Maart.

“Belastingbetalers moet hul gelde betaal,” sê sy.

Hoewel die stadsraad die impak van Covid-19 op die plaaslike en nasionale ekonomie verstaan, moet inwoners hul verpligtinge nakom omdat versuim daartoe sal lei dat die munisipaliteit ook nie sy diensverskaffers kan betaal nie, waarsku sy.

Die maandelikse stadsraadvergadering het op 25 Junie ’n nuwe ruimte betree toe verrigtinge vir die eerste keer regstreeks deur die hoofstad se sosiale media uitgesaai is.

Byna sewe duisend belanghebbers het teen gister die drie uur lange regstreekse uitsending gekyk, met heelwat kommentaar en reaksie op die geleentheid.

Die burgemeester se amptelike toespraak was effens vertraag deur die laat aankoms van die waarnemende hoof uitvoerende beampte, mnr. Reckliff Kandjiriomuini, wat vir mnr. Robert Kahimise ingestaan het.

Kahungu se poging om verdere openbare deelname van Windhoek se inwoners ten toon te stel, was ook gepootjie toe Kandjiriomuini nie ’n inwonerspetisie oor die verwydering van die Curt von Francois-standbeeld in die hoofstraat gereed vir voorlegging gehad het nie.

Volgens hom moet dié item steeds aan prosedures onderwerp word voordat dit op die agenda vir raadsoorweging geplaas kan word. Dit ondanks ’n dekbrief wat Kahungu by ontvangs daaraan geheg het.

Die burgemeester se boodskap van samewerking het nogtans danksy moderne tegnologie meer ore as normaalweg bereik.

“Ek is aangemoedig deur die samewerking wat my kantoor in die afgelope weke ondervind sedert ons die heropening van Windhoek se ekonomie (ná die hoktyd) hervat het, veral vanaf die klein en medium ondernemings en handelaars by die openbare markte,” het sy gesê.

Die munisipaliteit het die parkeerterrein in Werner Liststraat skoongemaak en ontsmet, waar sowat 40 plekke vir straatsmouse voor Shoprite uitgemerk is, sê sy. Aan smouse in Otjomuise is ook onlangs plekke naby aan Deli Park toegeken. Bouwerk van die nuwe informele mark op erf 1006 Ongangastraat in Okuryangava is byna voltooi, sê sy.

Windhoek se onlangse prestasies in terme van grondontwikkeling en opgradering van informele nedersettings is ook in die burgemeester se toespraak uitgelig. Die hoofstad beoog om vanjaar 20 000 woningsertifikate uit te reik, wat aan vele inwoners hul eerste verblyfreg sal toeken.

Kahungu noem ook dat die stadsraad die Namibiese regering gevra het om uitgawes van verskaffing van watertoegang gedurende Covid-19-inperking terug te betaal.

“Die verskil tussen wat die regering die raad sal vergoed en die werklike koste moet deur die Windhoekse belastingbetalers gedra word,” sê sy.

Die hoofstad het ook die opstel van 30 kommunale toilette gedurende die afgelope maande gesien. Hiervan is 25 deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling gefinansier en vyf is deur die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) geskenk.

In komende maande moet nog 225 kommunale toilette (geskenk deur die SSC) opgerig word, sê sy.

Die stadsraad wil ook voor einde Oktober 1 200 huise in Windhoek se nedersettings aan die kragnetwerk koppel, sê sy. Vordering word ook gemaak met die uitbreiding van stedelike landbou en drie gemeenskapstuine (by Olof Palme, Greenwell Matongo Community Gardens en plaas Okukna) bevoordeel reeds soveel as 550 gemeenskapslede.

- [email protected]

Soortgelyk

 

Fishrot: Geen borg, eis ACC

4 minute gelede | Howe

Jemima Beukes Die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) is vas oortuig betrokkenes by die Fishrot-skandaal het op ‘n uitgebreide wyse saamgespan om honderde miljoene dollar te steel.Sowat...

Air Nam se vlerke geknip

4 minute gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer - Die nasionale redery is met sy rug teen die muur en het nie beweegruimte om langer die kwessie oor sy bankrotskap en...

Weer vir 9 Julie 2020

4 minute gelede | Weer

WEERWAAK: Koue en nat toestande word Vrydag en Saterdag in die Suide en Weste verwag. Baie koue toestande word oor die suidelike, sentrale en oostelike...

Munisipale werkers betoog oor kontrakte

4 minute gelede | Regering

Kristien Kruger – Sowat 600 skoonmakers het gister tydens middagete na die Windhoek munisipale hoofkantore opgeruk om ‘n klagskrif aan die burgemeester, me. Fransina Kahungu,...

Itula se partyplanne op dreef

4 minute gelede | Regering

Denver Kisting – Die hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), mnr. Theo Mujoro, sê dié nasionale kiesliggaam het nog nie dr. Panduleni Itula se...

Pasgebore baba toets twee keer negatief

4 minute gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - 'n Pasgebore baba wat die naweek aanvanklik as Namibië se geval 362 van Covid-19 aangemeld is, het twee keer daarna negatief vir...

Bibbernaweek, reën voorspel

4 minute gelede | Weer

Elvira Hattingh – Die Namibiese weerkantoor het ‘n weerwaak uitgereik vir koue weer wat reeds van vandag af in die Weste verwag word.Terselfdertyd sal koue,...

Staat wil appelleer teen uitspraak oor arbeidsreëls

4 minute gelede | Regering

Ronelle RademeyerDie staat is voornemens om appèl aan te teken teen die volbank-uitspraak twee weke gelede waarin bevind is die Covid-19-arbeidsregulasies is ongrondwetlik en gevolglik...

Windhoek se vullis drom op

4 minute gelede | Regering

Denver KistingDae nadat die Windhoek-munisipaliteit (CoW) moes toegee hy is sy inkomste uit parkeermeters kwyt, het dié plaaslike owerheid erken hy het ook tans geen...