Boereverenigings rol moue op teen Covid

Boere, gemeenskap veg skouer aan skouer

07 July 2021 | Byvoegsels
Ronelle Rademeyer - Terwyl die derde Covid-golf krisisafmetings aanneem en die aandag grootliks op Windhoek as episentrum gefokus is, spring die landbou- en sakegemeenskap op plattelandse dorpe in om die nood te verlig omdat die staat se gesondheidsorgstelsel ontoereikend is.

Net ‘n handjie vol dorpe het private hospitale en staatshospitale kan nie naastenby al die siek mense verpleeg en van suurstof voorsien nie.

Nadat agt pasiënte sowat twee weke gelede op Mariental gesterf het omdat suurstofvoorraad nie aangevul kon word nie, het Mariental se streekslandbou-unie (MSLU) onder leiding van voorsitter Chris Smith sowat N$24 000 se suurstof aangekoop.

“Die voorsorgmaatreëls wat die staat oor tyd moes tref, is nie gedoen nie. Die gevolge van dié agtelosigheid en die staat se ontduiking van sy verantwoordelikheid verhoog druk op die gemeenskap met betrekking tot sy gesondheidstatus asook die sosio-ekonomiese en emosionele welsyn van die ganse samelewing,” sê Smith.

Hy sê Namibië beleef “‘n gesondheids- en humanitêre katastrofe van die ergste graad” en doen ‘n beroep op mense in die Hardapstreek om die MSLU se suurstofveldtog te steun.

Net so het die Grootfontein-, Nurugas- en Veldduin-boereverenigings meer as N$50 000 bestee om suurstofkonsentreerders te bestel om aan dokterspraktyke op Grootfontein beskikbaar te stel. Ongelukkig het die onderneming in Windhoek deur wie dit bestel is, ‘n produk gelewer wat minderwaardig is.

“Ons probeer nou ons geld terugkry,” het Johan Enslin, voorsitter van die Grootfontein se streekslandbou-unie (GSLU), by navraag gesê.

Op Okahandja het die boereverening, kerke, munisipaliteit en sakeondernemings saamgespan en ’n tydelike lykshuis in ’n verkoelde vraghouer hy die staatshospitaal aangebring omdat daar nie genoeg bergingsruimte vir menslike oorskot is nie.

Verder is ‘n veldhospitaal op die parkeerterrein by ‘n dokterspraktyk ingerig en van beddens en suurstof voorsien, terwyl dié boerevereniging ook suurstofmasjiene en oksimeters aangekoop het om beskikbaar te stel vir die verpleging van Covid-pasiënte op plase.

“Ons as boere het vroeg besef ons sal moet inspring en help, veral toe van ons boere begin siek word het. Ons lede het geld gegee om toerusting te koop en voorsien vleis en groente aan ‘n sentrale kombuis op die dorp waar etes vir mediese personeel voorberei word. Die plaasvroue lewer ook voorbereide pasteie, boboties en sop by dié kombuis af,” sê Annette Kotze, sekretarisse van die boerevereniging.

“Verder versprei ons soveel moontlik inligting oor Covid-10 en die basiese medikasie aan ons lede. Wanneer iemand siek is, maak ons kontak en hoor hoe ons kan help. As hulle iets uit die dorp nodig het, lewer ons hulle pakkies op die plaas af,” sê sy.

“Mense leef in vrees en daarom probeer ons ook ligter oomblikke skep. Ons het onlangs ‘n naweek lange stoomaksie gehad en boere kon foto’s stuur van waar hulle besig is om te stoom,” vertel Annette.

“As boerevereniging sal ons aanhou hulp verleen solank as wat die gemeenskap dit nodig het,” voeg sy by.

Ds. Johannes Maritz van die NG-gemeente op Okahandja sê dié gemeenskap is die afgelope weke hewig getref.

“Ons het die nood gesien en besef die mediese personeel op die dorp kan nie die las alleen dra nie. Ons moet hulle ondersteun anders gaan hulle halfpad deur die proses uitbrand,” vertel Hardus Maritz, ‘n sakeman op die dorp.

Hy sê daarom het die gemeenskap die veldhospitaal ingerig sodat Covid-pasiënte daar op ‘n drip geplaas kan word en suurstof en medikasie kan ontvang.

Ds. Maritz en Hardus sê hulle sien daagliks toe dat die private dokters genoeg suurstof het en hulle monitor ook saam met die munisipale raad die behoeftes by die staatshospitaal. Buiten die tydelike lykshuis by die staatshospitaal, het hulle ook toetshokkies daar ingerig waar mense vir Covid-19 getoets kan word.

Hulle bedien ook koffie en toebroodjies aan mense wat by toetspunte in rye wag.

“Daar is baie angs en vrees. Daarom sien ons toe dat almal wat tuis versorg word, suurstof het indien nodig, kos kry en ook die regte inligting het. Daar is ook ‘n gebedsgroep wat vir die siek mense en mediese personeel bid,” sê ds. Maritz.

“Ons veg skouer aan skouer,” sê Hardus en moedig ander dorpe aan om dieselfde te doen.

KASSIE

NLU gee raad oor die aankoop van suurstof-toestelle

Die kantoor van die Namibië Landbou-unie (NLU) het ná talle navrae deur boereverenigings oor die aankoop en verskaffing van suurstofmasjiene en -silinders vir gebruik in hospitale en vir tuisversorging op dorpe, die volgende riglyne saamgestel.

Volgens ’n kliniese tegnoloog wat spesialiseer in suurstofvoorsiening aan intensiewesorgeenhede by hospitale en ’n kenner oor suurstofvoorrade, was dit duidelik daar is ‘n aantal opportunistiese “verskaffers” wat tans daarop ingestel is om die noodsituasie in die land uit te buit en vining geld te maak. Kleinhandelaars en entrepreneurs verkoop soms klein silinders aan kliënte. wat net 'n uur of twee uur se voorraad van mediese suurstof lewer en dan hervul moet word. Weens hoë veiligheidstandaarde en spesifikasies vir hoëdruksilinders kan van hierdie silinders nie plaaslik hervul word nie en moet dit na Suid-Afrika gestuur word, wat meebring dat 'n kliënt vir ’n onbepaalde tyd sonder mediese suurstof sal wees.

Die beste opsie is om 'n silinder by een van die mediese gasverskaffers te huur, sodat leë silinders enige tyd vir vol silinders omgeruil kan word op dieselfde grondslag as wat gewone huishoudelike gassilinders omgeruil word.

Vir tuisverpleging, wat slegs van toepassing is op Covid-pasiënte wat onafhanklik kan asemhaal, is daar twee opsies:

'n Suurstofsilinder wat by enige van die verskaffers van mediese gasprodukte bekom kan word, is die eerste opsie. So 'n toestel verskaf 100 persent suiwer suurstof vir 'n beperkte tyd. Die koste van die hervulling hang af van die inhoud van die silinders. Mediese suurstof word per kilogram verkoop. Hoe kleiner die silinder, hoe hoër is die kilogramprys van mediese suurstof.

‘n Dokter moet ‘n voorskrif uitreik wat mediese suurstof teen 'n sekere vloei voorskryf, byvoorbeeld 2 tot 3 liter per minuut of 5 liter per minuut met 'n aanduiding van die ure wat die pasiënt die mediese suurstof moet inneem.

Hiervolgens kan die grootte van die silinder wat benodig word, bereken word om te verseker dat dit vir 'n paar dae gebruik kan word voordat dit hervul moet word.

Indien die dokter ’n vloeitempo van 5 liter per minuut vir ’n groot deel van die dag voorskryf, word daar ’n groter silinder benodig wat moontlik nie prakties vir tuisgebruik is nie. Die beste opsie dan is om ’n suurstofkonsentreerder te oorweeg. Dit is ’n toestel wat suurstof uit die atmosferiese lug onttrek en deur 'n kompressor lewer om ’n vloei van suurstof te reguleer, verkieslik teen ’n kapasiteit van 93-95% suurstof teen 5 liter per minuut. So ’n toestel se toevoer kan volgens individuele behoeftes gestel word.

Die NLU maan sy lede om seker te maak die kwaliteit van die produk voldoen aan die voorgeskrewe standaarde. Konsentreerders van swak gehalte word soms deur kansvatter-verskaffers teen hoë pryse aan onkundige Namibiërs verkoop.

Die volgende kriteria geld wanneer toestelle bekom word:

Om 'n minimum van 5 liter suurstof per minuut met 'n vereiste minimum van 93-95% suurstof vir tuisversorging te genereer, moet kopers ‘n konsentreerder aanskaf wat 5, 7 of 10 liter suurstof per minuut lewer. ‘n Toestel klein as 5 liter per minuut blyk nie voldoende te wees in die behandeling van Covid-pasiënte met asemnood nie.

Die internasionale riglyn is dat suurstof tuis tot tot slegs 5 liter per minuut toegedien kan word. Enigiets bo dit moet onder mediese toesig toegedien word. Die 7 en 10 liter-eenhede word vir hospitale, klinieke en die sorgeenhede van ouetehuise aanbeveel.

Dit is belangrik om vas te stel wat die persentasie suiwerheid van die suurstof is wat die konsentreerder lewer. Verskille tussen 1 tot 5 liter per minuut word aangedui en hoe hoër die vloei, hoe laer die suiwerheid van die suurstof – dit behoort tussen 92% tot 98% te wees.

Let ook op die gewig van 'n masjien Hoe swaarder die toestel, hoe groter is die compressor en hoe beter waarskynlik.

Die geraasvlak sal ook ’n aanduiding van die kwaliteit van die masjien wees. Let op die geraasvlak wat aangedui word, aangesien dit belangrik is as die masjien langs 'n pasiënt se bed staan. As dit te veel raas, kan die pasiënt nie behoorlik rus nie.

As ’n duimreël word aanvaar 5 liter per minuut is voldoende vir die tuisverpleging van ’n Covid-pasiënt.

Dit is ook belangrik om ‘n goeie gehalte oksimeter te hê om die suurstofversadigingsvlakke in die bloed te meet, aangesien dit van kritieke belang is wanneer inligting oor ‘n pasiënt se toestand met ‘n dokter bespreek moet word wat nie die pasiënt tuis kan besoek nie. Die dokter moet op hierdie gegewens staatmaak wanneer hy of sy oor die behandelingsprotokol besluit.

Let daarop ‘n 10 liter-masjien kan aan twee mense gelyktydig suurstof voorsien.

Laastens is dit belangrik om te onthou slegs 'n mediese praktisyn kan diagnoses maak en behandeling voorskryf. Praat asseblief met jou dokter of mediese praktisyn om die geskikste toestel vir jou of jou gesin se behoeftes te vind.

Soortgelyk

 

Pfizer vandag in Namibië verwag

4 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-entstof Pfizer word vandag in Namibië verwag. Volgens die hoof van die Namibiese taakspan vir die land se immuniseringsveldtog, me. Petronella Masabane, kom 100...

Forklifting failure

15 ure gelede |

Natasja ByleveldAre you OK thinking about unconventional ideas that could uplift society and norms to a higher standard? Do you like a challenge, or do...

Big thinker who is not afraid of taking risks

15 ure gelede | Mense

Contrasting with his considered, analytical, and steady approach to life, Rolf Mendelsohn is an undisputed adventurer. Together with the other founders of Paratus, Rolf...

'Polisiebeampte' pers dokter glo af

15 ure gelede | Howe

Henriette Lamprecht – ’n Windhoekse dokter is glo afgedreig totdat hy N$30 000 opgedok het nadat hy na bewering deur ’n klaarblyklike polisiebeampte van die...

Miss Aston dra die kroon

15 ure gelede | In beeld

Cobus van der Merwe van St. Blaize Brahman & Sussex Studs gister by die Gobabis Skou saam met sy “Kampioen van kampioene”, Miss Aston 134-12....

Plaaslike skatte nou aanlyn ­beskikbaar

15 ure gelede | Kuns en vermaak

Kuns- en kunsvlytliefhebbers kan nou handgemaakte Namibiese produkte aanlyn via die nuwe Namibia Craft Shop-webwerf aanskaf. Dié platform sal as die aanlyn katalogus van die...

An easy ride-hailing platform

15 ure gelede |

Wetumwene Shikage The everyday experience for many Namibians of getting a taxi to from different locations has been made more convenient. TaxiConnect provides an easy...

A knack for things that are pleasing to the...

15 ure gelede | Mense

Wetumwene Shikage Madeline Heyman, who trained as a fashion designer, has turned her many years of experience to interior design. She says...

Sacrifices worth making

15 ure gelede | Mense

Tunohole MungobaBorn in Windhoek, Leokadia Jacob is a finance administrative officer of Dolomite Camp, which is part of Namibia Wildlife Resorts (NWR).After completing her studies...