Boer vooruit met min grond, min reën

Johan Bean gesels oor bobaas-boerderyplan

25 November 2020 | Byvoegsels
Elvira Hattingh – ‘n Jaar en ‘n half nadat mnr. Johan Bean met sy intensiewe, maar baie suksesvolle skaapboerdery op sowat 5 ha grond in die dorre Usakos-gebied begin het, het tot 500 mense reeds by hom kom kersopsteek.

Die 72-jarige boer se kennis en ervaring is tans so in aanvraag, dat sy kleinhoewe vanaf volgende jaar as ‘n opleidingsentrum moet dien waarheen landboukolleges hul studente vir ‘n drie week lange praktiese en teoretiese kursus gaan stuur.

Intussen het landbouers wat by hom geleer het, dieselfde intensiewe boerderye op Otavi, Tsumeb en Karasburg begin terwyl daar ook planne is om ‘n grootskaalboerdery, gegrond op Bean se stelsel, by Stampriet te begin.

Nie net is die stelsel droogtebestand nie, maar dit kan goeie wins op ‘n baie klein stukkie grond genereer, juis omdat dit fyn bestuur kan word en veeverliese tot die absolute minimum beperk kan word.

“Dis ‘n manier van boer wat nou eers hier begin posvat het,” sê Bean, wat baie navorsing in die buiteland gedoen het voor hy die stelsel by plaaslike omstandighede aangepas het.

Hy sê boeregroepe is welkom om hom te kontak om hulle touwys te maak. “Ek sal ure bestee sodat ons net hierdie land se vleisprobleme kan oplos sodat families en boere nie so swaar kry wanneer die droogte weer kom nie.”

Bean voer sy skape met groenvoer, ruvoer asook kragvoer teen minder as N$2 per kop per dag, terwyl hy danksy sy stelsel, verliese van lammers tot so min as 0,3% beperk. Hy verkoop hulle reeds op vier maande teen die beste prys, terwyl skape wat in die veld loop, eers op sewe maande markgereed is.

“Op vier maande weeg my lammers reeds 40 kg en verkoop dit vir sowat N$1 600. Dit kos ons N$500 om hom tot by dié bemarkbare ouderdom te kry. Al kom arbeid- en ander koste by, maak jy steeds ‘n goeie wins,” meen hy.

"En dit by Usakos, wat deur talle boere wat daar kom kersopsteek as ‘n 'godverlate plek' beskryf is," sê Bean.

SO WERK DIT

“Solank jy jou kop gebruik, het jy nie ‘n groot stuk grond nodig om te boer nie. Jy kan op ‘n klein stukkie grond net soveel geld maak as enige kommersiële boer,” sê hy.

Bean hou sy skape aan binne ‘n skuur wat sowat 12 m breed en 100 m lank is en wat in netjiese hokke verdeel is, elk met die nodige voerbakke en krippe.

“Binne so ‘n struktuur kan jy tot 500 ooie aanhou. Dit beteken op 1 hektaar (ha) grond, kan jy tot 4 000 skape aanhou.

Hy sê hy het met verskillende skaaprasse en voere geëksperimenteer om vas te stel wat die beste werk. “Om vee te voer, kan baie duur raak. Die oomblik as jy egter jou eie voer begin produseer, raak jou koste minder,” sê hy.

“Die voordeel van die struktuur is dat jou vee in die skaduwee is en hulle beleef nie hitte- of dorsstres nie. Daarteenoor benut ‘n skaap in die veld die eerste 40% van die kos wat hy eet vir energie om na meer kos te soek. Skape onder ‘n dak eet minder en sit veel vinniger gewig aan,” sê hy.

Bean het lammers gewys wat sowat twee en ‘n halwe maande oud is en reeds 32 kg weeg. “Hulle is op twee maande gespeen. Tans sit hulle sowat 2,5 kg per week aan.”

Hy het ook die resultarte gewys van ‘n Meatmasterram by Dorperooie. “Die ooie se lammers word eers gespeen, dan kry hulle vir veertien dae ‘n bietjie minder kos. Wanneer hulle opdroog, kry hulle prikkelvoeding. Dit behels kragvoer en meer voeding behels. Ooie kom vinnig op hitte en binne 14 dae is hulle gedek. Binne nog vyf maande lam hulle, wat beteken ooie lam sowat elke agt maande.

Bean meen dis belangrik om ook jou intensiewe boerdery te diversifiseer.

“Jy moenie op net een boerderybeen steun nie. ‘n Winkel verkoop nie net melk nie, maar ook brood en ander goedere.

“Ons het ook tarentale, waarvan ons die kuikens uitbroei en verkoop. Ons het Rhode Island Red-hoenders waarvan ons die eiers, kuikens of henne verkoop.

“Ons het ook nou met kwartels begin boer, want daar is ‘n aanvraag vir gebottelde kwarteleiers en ons bedryf ook ‘n konynboerdery.”

Hy sê die konyne verkoop hy so ver as Rehoboth en ook aan die Chinese mark. “Dis nuut en ongewoon in Namibië; die vleis smaak soos kalkoen. Die meeste plaasmense ken dit en daar is plaaslike gemeenskappe wat dit benut en geniet.”

Die tarentale waarmee Bean boer, is bont, met wittes en gryses tussen-in en hy span hulle ook in om die skaapkraal te skrop en dit so insekvry te hou.

GROENVOER

Bean het ‘n ou hoenderhok op sy hoewe in ‘n groenvoereenheid omskep. Dit is aan weerskante met skadunet toegemaak teen die son en die dak is wit geverf om dit koel te hou.

“Dit alleen het dadelik die temperatuur binne die eenheid met 17°C afgekoel. As dit buite 41°C is, is dit binne 21°C,” sê hy.

Hy maak ook binne die eenheid van waaiers gebruik om die lug te sirkuleer en dit koeler te hou – beide lugverkoelers, waarvan die kompressor-deel stukkend is, maar die waaier nog werk, asook ou 12 Volt-rekenaarwaaiertjies word gebruik.

“Jy het nie ‘n ingewikkelde waterstelsel nodig nie. As jy jou groenvoereenheid binne klam hou, versprei die waaiers genoeg koel lug.”

Bean dryf die waaiers aan met elektrisiteit afgekomstig van sonpanele gedurende die dag. “Snags is Usakos koel genoeg om sonder die waaiers klaar te kom,” sê hy. Hy maak ook van kragbesparende ultraviolet-ligte gebruik, wat ook met die sonkrag werk en meebring dat die groenvoer snags aanhou groei.

Bean gebruik garssaad in sy groenvoereenheid.

“Ons kry 7 kg groenvoer vir elke kilogram saad en die groenvoer kos my 77 sent per kg. Ons voer dit daagliks vir die skape. Ons totale koste werk uit op N$2 per dier per dag, arbeid ingesluit. Ons sorg dat ons voerkoste nie meer as dit is nie,” sê Bean.

Hy sê hy het agtergekom as hulle ‘n bietjie chloor in die groenvoer se water gooi, het hulle geen probleme met swamme nie.

“Ons gee dit drie maal per dag water, vir een minuut op ‘n slag. Water word met mikrosproeiers toegedien. Die bakke het gate waaruit die water kan dreineer, maar die wortels vang genoeg vog vas.

“Ná sewe dae kan die groenvoer aan vee gevoer word. Aanvanklik plaas ons die saad vir vier ure in water, daarna sit ons dit in ‘n drom met klein gaatjies in sodat die water stadig, vir 12 ure lank, kan dreineer. Dan eers word dit in die laaie geplaas.

“Ons het ook aanvanklik plastiek ontkiemingsbakke teen N$280 per bak gekoop, maar tydens die Covid-inperking kon ons niks daarvan in die hande kry nie. Toe moes ons noodgedwonge ons eie bakke uit sinkplaat maak. Ons het dreineringsgaatjies daarin gemaak en dit met waterdigte verf gespuit.

“Van dié bakke is nou amper ‘n jaar lank in gebruik en ons onderhoud daarop is baie min. Boonop kan jy dit in die son plaas om peste of plae te voorkom, waar die plastiekbakke mettertyd verbrokkel as dit in die son geplaas word.”

Hy sê ‘n groenvoereenheid van 8 m lank kos sowat N$150 000. Bean het egter sy eenheid, wat maklik vier keer groter is, vir net N$35 000 gebou. Hy oes daagliks sowat 300 kg groenvoer en is besig om uit te brei sodat hy eindelik ‘n ton groenvoer per dag kan oes en meer skape kan aanhou.

Die water wat afloop van die groenvoereenheid, word in mishope geplaas waar kompos gemaak en verkoop word. “Ons afvalproduk het ons ook in iets verander wat geld verdien.”

Hy voer die skape ‘n mengsel van ruvoer en kragvoer wat hy aankoop, asook sy eie groenvoer.

“‘n Ooi kry 3% van haar lewende massa. Dus, ‘n ooi wat 40 kg weeg, kry 1,2 kg kos. Ons voer haar 600 g in die oggend en 600 g in die namiddag,” het Bean verduidelik.

Hy maak ook seker al die groepe skape in die onderskeie kraaltjies kry die regte hoeveelheid kos, deur die krale te nommer en hul kos in asdromme met ooreenstemmende nommers op te plaas.

Bean het twee permanente werkers wat die skape asook die groenvoer hanteer, asook ‘n paar tydelike kontrakwerkers.

INTENSIEWE BESTUUR

“Hierdie is nie vir boere wat nie beheer oor hul boerdery het nie. Dit is vir dié wat dit fyn kan bestuur,” sê Bean.

“Hierdie tipe boerdery het baie voordele, maar ook nadele. Die nadeel is dat dit baie bestuursintensief is; jy kan dit nie sonder ‘n rekenaar en intensiewe rekordhouding doen nie.

“Soos met enige ander boerdery, kan jy nie net op die ingewing van die oomblik weggaan nie. Jy moet iemand hê wat kan toesig hou, want jou belegging is baie groot.

“Van die voordele sluit in jy het meer beheer oor jou kontantvloei en jy weet hoeveel lammers gaan aankom. Op ‘n normale plaas het jy tot 20% verlies aan lammers weens roofdiere, maar binne hierdie stelsel is die verlies 0,3%.

“Jy kan ook jou begroting verbeter deur maandeliks ‘n groep ooie te laat oppaar. Dit beteken jy het elke maand van die jaar lammers wat jy kan bemark en dus kan jy jou inkomste baie beter beheer, anders as hulle in die veld loop en jy nie beheer het oor wat met hulle gebeur nie.

“In so stelsel kan jy ook jou plaas laat rus en die drakrag verhoog,” sê Bean.

Hy sê die stelsel kan ook met ‘n ekstensiewe boerdery kombineer word, solank jy die ooie wat moet lam, kan inbring sodat jy nie ‘n 20% verlies aan lammertjies het nie. “So kan jy jou intensiewe stelsel reeds binne ‘n jaar afbetaal, selfs gouer,” sê hy.

BOEREPLANNE

“Toe ek hier gekom het, was hier niks. . . ons moes planne maak,” sê Bean, wie se plaas onafhanklik van die elektrisiteitsnetwerk op sonkrag funksioneer.

Hy is ‘n planmaker van formaat. “Baie boere koop maklik nuwe benodighede, maar daar is baie planne wat jy eers kan maak,” meen Bean.

Hy gee sy skape byvoorbeeld water uit gewone plastiekhouers wat 40 liter water kan hou, met ‘n klein balklep daarin.

“In so intensiewe stelsel drink al die skape nie gelyk water nie, so dit werk.”

Hy wys ook hoe hy self voerkrippe maak van sinkplaat wat hy buig. Aan die onderkant van die krip word ‘n dwarsyster geplaas, sodat dit die gewig kan dra van vee wat binne-in spring.

Hy gooi ook sementblokke onder krippe en waterbakke sodat dit droog bly – iets wat noodsaaklik is teen siekte en peste binne ‘n intensiewe boerdery. Die skape kry bykomend ook gras en klipsout om aan te peusel.

AGTERGROND

“Ons het by Stampriet geboer en ek het besef ons boer vir roofdiere en diewe – elkeen wat op die Dermpad verby ry, help homself. Ons het uiteindelik 50 hanslammers gehad en die abattoir wou ons bykans niks vir hulle betaal nie, want hul kondisie was te swak,” vertel Bean.

“Ek het vir my vrou gesê daar moet ‘n ander manier wees om die besigheid te bedryf. Ons het die plaas verkoop en ek het gaan navorsing doen. Ek het gesien oral in die wêreld beoefen mense die intensiewe boerderye, maar nog nie in Namibië nie.

“Ek het besluit om eers net met een hokkie te begin en ons het verskillende proewe gedoen. Ons het prosopis-bome gekap en boskos gemaak, maar omdat dit droog is, het die prosopis later te duur uitgewerk.

“As die prosopis boonop te nat is, bevat dit terpentyn wat die diere kan siek maak en die vleis ‘n reuk gee. Ons mark het oor die reuk begin kla.

“Ek het toe begin toetse doen en eers geelmielies as groenvoer probeer. Dit het gewerk, maar dit gee net 4 kg groenvoer vir elke 1 kg saad. Dit maak dit te duur.

“Ek het toe na gars gaan kyk. Mense het gesê vir gars sal ek lugverkoeling moet gebruik en dat dit boonop geneig is om swamme te ontwikkel. Ek het gaan kyk wat ek anders kan doen as dit by verkoeling en die bestryding van swamme kom.”

Bean sê sy werkers moes leer om al die prosesse daagliks en stapsgewys te doen, wat soms behels dat dinge baie herhalend raak.

“As die skape ingekoop word, spyt ek vir bloednier en Pasteurella, ek ontwurm en dip hulle. Baie keer doen ons dit twee keer in drie weke om seker te maak hulle het nie bosluise nie.

“Die krale word Maandae en Vrydae skoongemaak. Maandae spuit ons ook vir vlieë en een keer per maand word dit met Jeyes Fluid uitgespuit.

“Ons probeer ook die krale laat rus vir twee of drie weke voor ons weer diere daarin sit.”

Vir sekuriteit laat Bean ‘n hond snags in die kraal se gang slaap, hy sluit die deure met ‘n slot en het ook veiligheidsligte rondom die skaapkraal. Dit is ondanks die feit dat sy eiendom met ‘n geëlektrifiseerde heining toegespan is.

Hy meen dit is nodig omdat hy skaars 3 km buite die dorp woon.

Bean sê dié tipe intensiewe boerdery kan waarskynlik ook vir beeste werk, maar dat hul behoeftes van die van skape verskil en die infrastruktuur dus daarvoor aangepas sal moet word.

Hy meen voor iemand meer boerderybene skep, moet jy ook eers ‘n mark daarvoor vestig. Hy sê hulle het bykomende bene begin nadat van sy kliënte gevra het vir goedkoper diere om te koop, soos hoenders of konyne.

“Tans maak nege families ‘n lewe uit die projek,” sê hy. Bean sê ook hy wil nog nie aftree nie. “Ek wil nie gaan sit en vir die dood wag nie.”

Soortgelyk

 

Gesondheidswerkers, leerlinge en onderwysers deel van 343 nuwe gevalle

1 uur gelede | Gesondheid

Sewe Covid-19-verwante sterftes is vandag aangekondig en wel vier in Windhoek, twee in Swakopmund en een in Grootfontein. Die sterftes in Windhoek sluit 'n 63-jarige...

Moller, Hatuikulipi se belange onder vergrootglas

16 ure gelede | Misdaad

Hoofredaksie – Een van die transaksies wat deur die Teenkorrupsie-kommissie (ACC) as deel van die Fishrot-ondersoek gefynkam word, is 'n bedrag van N$8 miljoen wat...

Rekening van N$151 000 bly toe 'jakkals' gly

16 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – 'n Vermeende glyjakkals wat vir 'n maand saam met sy gesin in 'n gastehuis op Swakopmund gebly en glo nie betaal het...

Mans vas oor vervalsing van Covid-19-toetsuitslae

16 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerTwee Zimbabwiese mans is Saterdag omstreeks 12:00 op Katima Mulilo in hegtenis geneem vir die besit was vervalste Covid-19 laboratoriumtoetsverslae van PathCare Namibië.Die mans...

Reënweer bring groot skade

16 ure gelede | Weer

Kristien Kruger – Terwyl Namibië die derde week van swaar neerslae binnegaan, is groot skade reeds aan paaie, landerye en ander infrastruktuur aangerig. Windhoekers is...

Weer vir 11 Januarie 2021

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Noordweste, verre Weste en dele van die //Kharasstreek. Elders sal dit bewolk en warm tot baie...

Regering slaan toe op klaringsagente

16 ure gelede | Regering

Phillepus Uusiku – Die regering is in die finale fase van die instelling van strenger maatreëls vir die lisensiëring van klaringsagente.Die instellings beoog om die...

Nafau wen in hof teen Shoprite

16 ure gelede | Arbeid

Kristien Kruger en Adolf Kaure – Stakende Shoprite-werknemers was Vrydagmiddag verjuig toe die hoërhof in Windhoek beslis het dat ’n interdik teen die Shoprite-winkelgroep uitgereik...

Op die spoor van Hardapdam se opvangsgebiede

16 ure gelede | Infrastruktuur

Kallie Pauw (gasskrywer)Die onlangse wonderlike reën in groot dele van Namibië en verslae daaroor en foto's van vol riviere en dansende boere het mense (soos...