Blik op Erongo se kwarantyn-fasiliteite
Blik op Erongo se kwarantyn-fasiliteite

Blik op Erongo se kwarantyn-fasiliteite

• 72 vroue deel een toilet in Hentiesbaai • Storte is buite werking • Tientalle in agterplaas-self-isolasie • Pasiënte sonder kos dwaal in die strate
Jemima Beukes
Jemima Beukes – ’n Krisis is besig om in die Erongostreek te ontwikkel waar verskeie Covid-19 pasiënte self-isolasie moet toepas in agterplaas-vertrekke, terwyl staatsfasiliteite oorvol is met pasiënte wat geriewe moet deel wat soms nie behoorlik funksioneer nie.

Die situasie is naby breekpunt. Soveel só dat die voorsitter van die Walvisbaai-rampbestuurskomitee, raadslid Knowledge Ipinge, in ’n brief aan die regering sy vrese gedeel het dat honderde inwoners wat positief getoets het in die strate kan rondloop.

Dít weens ’n skynbare voedseltekort in sommige fasiliteite.

Die minister van gesondheid, dr. Kalumbi Shangula, het gesê hy wag op ’n amptelike verslag van die Erongo-gesondheidsdirekteur, me. Anna Jonas, se kantoor.

“Ek kry my verslae nie by mnr. Knowledge nie. My verslae kom van die gesondheidsdirekteur in die streek. Enige iets wat geldig is, sal deur ’n amptelike kanaal kom, van ons verteenwoordiger in die area. Dit is ons streeksdirekteur en sy het dit nog nie onder ons aandag gebring nie.

“Wat ek weet, en wat aan my gekommunikeer is, is dat daar operasionele probleme is,” het Shangula gesê.

TEKORT AAN FASILITEITE

Die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Neville Andre, het bevestig daar is ’n tekort aan fasiliteite en het gesê hulle is besig om meer persele vir isolasie-doeleindes voor te berei.

Dít terwyl die Covid-19 gevalle in die dorp teen ’n snelle pas styg, met vier sterftes wat reeds op Walvisbaai aangemeld is.

Ipinge sê die geïnfekteerdes stel ander mense aan die potensieel dodelike virus bloot omdat die gesondheidsministerie nie gehoor gee aan sy pleidooie vir dringende ingryping nie.

Die brief, gedateer 14 Julie, het Shangula reeds die volgende dag bereik. Hy het egter destyds aan Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, gesê hy moet dit nog lees.

SELF-ISOLASIE IN PLAKKERSHUTTE

Ipinge het Shangula ingelig dat sommige inwoners noodgedwonge in ongemoniteerde self-isolasie geplaas word waar hulle geriewe soos toilette en storte met omtrent 50 ander mense moet deel.

Ipinge het bygevoeg sommige van dié geïnfekteerdes het niks om te eet nie en moet noodgedwonge hul wonings verlaat om kos by hul bure of by plaaslike kruideniers te bedel.

“Met ’n oorvol Walvisbaai-distrikshospitaal voer dokters en verpleërs reeds ’n verlore stryd. Van die Covid-pasiënte is al sedert Donderdag, 9 Julie, baie siek.

“Daar is een ventilator, maar geen intensiewesorgeenheid (ICU), geen ICU-verpleegsters, geen medikasie, geen spesialiste en geen moontlikheid om kritieke gevalle te skuif nie,” het hy bygevoeg.

Volgens Ipinge was die militêre hospitaal wat onlangs toegerus is bloot ’n reklamefoefie. Die hospitaal is glo steeds nie toegerus met mediese personeel nie en daar is slegs twee beddens met suurstoftenks.

Hy het Shangula ook ingelig die skoonmakers by die Walvisbaai-distrikshospitaal werk sonder die nodige beskermende drag.

GEEN MEDIKASIE

’n Pasiënt in ’n isolasiegerief in Hentiesbaai vertel 72 vroue is tans in kwarantyn in ’n fasiliteit met net een toilet, en dat 20 van dié vroue positiewe uitslae vir die virus ontvang het.

Dié bron, wat op 2 Julie positief getoets het, het glo nog geen medikasie of vitamiene van die gesondheidswerkers ontvang nie.

“Ons is net op ons eie gelaat. Ons koop nou ons eie toiletpapier en medikasie. Ons gesinne vat dit na die hospitaal in Walvisbaai,” het die bron gesê.

Volgens die persoon is hulle soos “diere” in die middel van die nag van Walvisbaai na Hentiesbaai vervoer.

“Ons deel een toilet tussen vyf vroue en ons moet dit self skoonmaak. Ons kos word ver van ons afgelewer en ons moet 400 meter loop om dit te gaan haal. Party dae het ons geen elektrisiteit of warm water om te stort nie,” het die bron gesê.

SWAK VOORBEREIDING

Intussen het verpleërs by die isolasiegerief in Hentiesbaai gekla oor 56 mense wat die een toilet moet gebruik.

Volgens ingeligtes kon verpleërs hulself vyf dae lank nie was nie omdat daar geen storte beskikbaar is nie.

“Hulle het ons na ’n fasiliteit gebring wat nie medies toegerus is nie. Hier is nie eens suurstofsilinders nie.

“Ek voel as ek met pasiënte werk, moet ek voorbereid wees vir enige iets wat kan gebeur. Die direkteur is van hierdie dinge bewus, maar niks word gedoen nie. Hulle het ons in ’n huis sonder elektrisiteit gesit,” het ’n bron gesê.

Daar is ook al aangemeld dat vir sommige pasiënte weke verbygaan sonder dat hulle getoets te word, terwyl hulle drie weke lank op toetsuitslae moet wag.

“Pasiënte kla dat hulle oproepe ontvang wat hulle inlig hulle het negatief getoets, maar hulle word steeds tussen die positiewe pasiënte gehou met wie hulle ook ’n toilet moet deel. Hulle is tans besig om klaskamers op te knap wat die negatiewe pasiënte sal huisves, maar dit gaan tyd neem.”

KRISIS

Namibian Sun is ingelig dat ’n Covid-19-pasiënt wat op 10 Julie in die Walvisbaai-distrikshospitaal opgeneem is, verskuif is na die Welwitschia-hospitaal weens ’n gebrek aan ICU-fasiliteite by eersgenoemde.

Volgens ’n vertroulike brief wat aan minister Shangula gerig is, het die pasiënt wel ’n mediese fonds, maar die voordele is reeds uitgeput. Planne is dus gemaak om hom na ’n toegeruste staatshospitaal in Windhoek of Oshakati te skuif.

Volgens die brief is ’n plaaslike lugredery genader om die pasiënt te skuif, maar dié versoek is van die hand gewys.

“Die skuif is na bewering in die afwesigheid van ’n ondertekende diensvlakooreenkoms tussen die staat en die Welwitschia-hospitaal gedoen,” lui die brief.

Shangula het dié saak bevestig, maar het gesê die pasiënt sal by Welwitschia behandel word totdat hy herstel het.

“Mense met Covid-19 word nie geskuif nie. Hulle ontvang behandeling waar hulle is,” het hy gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!