Blameer ons skole as Dyantyi skuldig is
Rugby
Stephen Nell
Dit het my geskok toe ek verlede week in ’n berig deur my kollega Wim Pretorius lees dat skoolhoofde selde versoeke aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye sport (Saids) rig om kinders vir verbode middels te toets.
In die Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap is die algemene opvatting dat die opkikkerkultuur op skolevlak begin.
As jy dit dis dáár hokslaan, los jy ’n groot deel van die probleem op. Waarom is baie van ons skole dan só skugter om deel van die oplossing te wees?
Dis iets om aan te herkou, veral met die nuus dat die Springbok-vleuel Aphiwe Dyantyi in Februarie verhoor gaan word vir die gebruik van verbode middels.
Met Dyantyi is dit die eerste keer dat ek ’n geval sien van ’n Suid-Afrikaanse rugbyspeler wat sommer vir drie verbode middels op dieselfde tyd positief toets.
Maar of dit nou een of drie is, is die gemene deler dat die betrokke speler altyd kniediep in die moeilikheid (daar is ’n meer gepaste woord wat deur my redakteur verbied word) is en byna altyd geskors word.
Dis nie vir my om ’n uitspraak oor Dyantyi se skuld of onskuld te lewer nie, maar die geval van drie verbode middels maak dit bitter moeilik om summier te ontken dat jy enigiets geneem het.
Indien Dyantyi volhou dat hy niks verkeerd gedoen het nie, sal dit baie interessant wees om te hoor wat sy verweer in ’n verhoor gaan wees.
’n Mens kan nie oorbeklemtoon hoe verfoeilik ’n oortreding deur ’n sportman is om doelbewus opkikkers te neem nie. Gestel Dyantyi het dit in sy debuutjaar vir die Springbokke gedoen, het hy deur sy prys as Wêreldrugby se Deurbraak Speler van die Jaar in 2018 effektiewelik ’n ander speler se plek in die son gesteel.
Wat ek daar skets is bloot hipoteties, maar gegewe die beginsel van streng verantwoordbaarheid wanneer dit by opkikkers kom, is sy lot vir ’n skorsing van vier jaar waarskynlik verseël.
Dit sal egter bloot die simptoom van die probleem wees, want die obsessie met die wortel van alle kwaad – geld – begin in spelers se tienerjare posvat.
Die skolerugby-monster in Suid-Afrika voer die probleem. Daar is geen morele regverdiging daarvoor om kinders te “koop” nie en in die geval van “beurse” vir behoeftiges doen skole dit uit eiebelang.
Terug na Dyantyi se speelgrond: Op senior vlak is een van die groot voordele wat uit anaboliese steroïdes geput kan word ’n vinniger herstel van beserings.
Indien ’n speler in ’n wedloop teen tyd sou wees om byvoorbeeld betyds fiks te raak vir ’n groot kompetisie soos die Wêreldbeker-toernooi of o.20-Wêreldkampioenskap, kan die versoeking daar wees om verbode middels te gebruik.
Nóg méér so in ’n rugbynasie met ’n kultuur van verbode middels op junior vlak.
Voorspoed aan Dyantyi. Hy is ’n talentvolle speler met geweldig baie om aan SA rugby te bied. Ek hoop van harte hy is onskuldig, maar dis ’n moeilike pad uit die moeras wat ’n beweerde opkikker-kelkie jou in laat beland. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie