Bibberkoue duur voort

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Namibiërs het die afgelope naweek op talle plekke lae temperature, asook reën ervaar, met die Namibiese weerkantoor wat sê nog koue is op pad.

“Dit was die naweek baie koud op die plaas Karium in die Khomas Hochland. Die bokke se kripwater het gevries. JP en Linn Lambert was verstom oor die ys,” het Hybrie Hayes laat weet (foto).

Intussen voorspel die weerkantoor frontale reën, asook baie koue dagtemperature môre in die verre Suide. Verder word teen Dinsdag baie koue toestande oor die ||Kharas-, Hardap- en Omahekestreek, asook dele van die Khomasstreek verwag.

Op die Facebook-blad Reën in Namibia het foto’s van ’n natgereënde Suide ingestroom en hiervolgens het dit onder meer op Solitaire, Warmbad, Rosh Pinah, Aus, Lüderitz, Oranjemund en Helmeringhausen gereën.

Me. Adell Malan het Saterdagoggend foto’s van ys op motors en in waterkrippe gedeel en gesê dit was oornag baie koud by hulle op die Dordabis-pad, terwyl soortgelyke foto’s ook uit Windhoek ontvang is.

Terselfdertyd is daar ook talle foto’s van sneeu in die Wes-Kaap in Suid-Afrika gedeel – die tweede keer die afgelope seisoen.

Plaaslik het temperature op Finkenstein en in Suiderhof Saterdagnag tot so laag as -1°C gedaal, terwyl Jan Schwarting laat weet het die kwik op Harmony, sowat 15 km suid van Windhoek, het tot -2 °C gesak.

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer