Bevry ons van onreg en korrupsie
Bevry ons van onreg en korrupsie

Bevry ons van onreg en korrupsie

Dani Booysen
REGGIE DIERGAARDT SKRYF:

As Namibiërs het ons etlike dae gelede saam met die ganse mensdom die aanbreek van ‘n nuwe jaar gevier en daarmee ook totsiens gesê aan ‘n jaar wat nie noodwendig sal herinner aan voorspoed en sukses nie.

Mag ek al my landgenote ‘n geseënde, vrugtevolle en vreedsame 2020 toewens. Mag die goedheid en guns van God met ons wees.

Ons land verkeer in barensnood sover dit eerlike, koersvaste en doelgerigte leierskap betref. Ons huidige leierskap bestaan uit planlose mense omring deur gewetenlose trogvreters wat eiebelang voorop stel. Hulle bied geen inspirasie of uitsig nie aan ‘n nasie sonder hoop.

Die huidige spul regeringsleiers het ons in die steek gelaat. Ons word bestuur deur ‘n absoluut mislukte administrasie wat suksesvol daarin slaag om van ‘n eens welvarende land ‘n piesangrepubliek te maak.

Ons president is al geïmpliseer by talle beweerde korrupte aktiwiteite. Skuldig of nie, sy reputasie het tydens sy ampstermyn eindelose en onherstelbare skade gely. In enige gesofistikeerde demokrasie sou so ‘n gekompromiteerde leier bedank. Maar nie in die “Land of the Brave” nie. Hier swaai die skaal ekonomiese voordele in die guns van sulke leiers.

In ‘n land soos Zimbabwe, wat allerweë as korrup beskou word, en regtens so, word geen landgenoot wat aan bedrog skuldig bevind word toegelaat om lid van die parlement te word nie. In Namibië geld die teenoorgestelde. Korrupsie word beloon. Kyk maar na van die potensiële lede van die regerende party vir die parlement. Daar is heelparty veroordeelde misdadigers. Geen wonder dat die president die “Visvrot”-skurke patriotte noem nie.

Korrupsie vreet aan die siel van ‘n nasie. Dit vernietig ons morele samestel. Die lewens van talle mense is deur korrupsie en skaamtelose diefstal vernietig.

Hierdie skandalige, oneerbare gedrag strek veel wyer. Kyk maar na die boubedryf waar eens waardige en trotse ambagsmanne nou as handlangers vir vreemdelinge (veral Chinese) moet werk net om die pot aan die kook te hou, soms onder uiters vernederende omstandighede. Dit het talle Namibiërs se selfbeeld vernietig.

Ons regering se tallose planne bied geen hoop nie, want die regering kan nie vertrou word nie. Ons regering is deurspek van korrupsie, swak dienslewering, onvervulde beloftes, bedrog en noem dit maar.

Dan word ons vir altyd en ewig herinner daaraan dat die regering die land bevry het. Goed. Maar is die land bevry om te steel, te roof en te plunder na willekeur? Om ons mense in armoede en wanhoop te dompel?

Maar ongeregtigheid kan nie vir altyd seëvier nie. Die waarheid moet oorwin. Dit was altyd so, en dit sal weer so wees. Die God van geregtigheid het nog altyd geheers, selfs tydens die donker dae van ongeregtigheid.

Laat die ongeregtige en onregverdige heersers heers met mag en onreg, maar dit is net nie houdbaar nie. Die God van die eeue heers op Sy troon en so sal dit vir ewig wees.

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer