'Beplanning by venster uit'
Dit was 'n week vol gebeurlikhede vir die Namibiese kandidate.
Andrew Poolman - Gemengde gevoelens is aan die orde van die dag onder die Namibiese presteerders wie se kwalifisering vir die Olimpiese Spele reeds 'n uitgemaakte saak is, sedert die nuus van die uitstel van die Spele in Tokio tot aanstaande jaar.
“'n Ekstra jaar van oefening en voorbereiding is welkom, maar sonder enige wedrenne binnekort om na uit te sien, is dit ook moeilik om die motivering te vind om werklik hard te oefen,” erken Vera Adrian, die padfietsryer.
Die 26-jarige nasionale titelhouer en gewese Afrika-kampioen is deesdae in Switserland gevestig, waar sy pas getroud is met haar jarelange vriend en medefietsryer Konny Looser.
“Switserland is nie tans volledig in 'n staat van inperking (teen die verspreiding van die coronavirus) nie.
“Talle winkels en restaurante is gesluit, maar ons word wel toegelaat om in die buitelug te oefen – net nie in groepe van groter as vyf nie.
“Hopelik bly dié riglyn in plek dat 'n mens wel in die buitelug mag oefen. My oefenprogram is omtrent 15 tot 20 ure per week op die fiets en om dit net binnenshuis te doen, sou my doodmaak. Dit sou regtig moeilik wees.”
Adrian sê wysigings sal aan haar oefenprogram aangebring word om by die nuwe werklikheid aan te pas.
“Ek is seker my afrigter het reeds gedagtes hieroor en ons sal daaroor praat en sal sake van daar af neem.
“Die uitstel van die Olimpiese Spele is sonder twyfel die korrekte besluit. Dit bring natuurlik meer administrasie teweeg in terme van besluite oor die proses van kwalifisering, maar ek glo dié prentjie sal met verloop van tyd duideliker word.”
Dan Craven, haar eweknie as Namibiese kwalifiseerder in die mansresies, het gisteroggend vanaf die familieplaas naby Omaruru gesê hy en sy gesin handhaaf ook tans fisieke afsondering.
“Dit was net laas week dat amptelik bevestig is dat ek as Namibiese verteenwoordiger gekwalifiseer het. Hierdie week was ons veronderstel om in Algerië te wees vir die Afrika-padfietskampioenskap, maar die geleentheid is gekanselleer. Die virus het reeds almal se planne by die venster laat uitvlieg. Niemand weet werklik wat volgende gebeur nie.
“In die groter prentjie tref Covid-19 se impak op atlete egter nie naastenby so erg as op die hele Namibiese ekonomie nie. Ons hou dus maar net tans ons geliefdes veilig en hoop dat dit alles spoedig iets van die verlede kan wees.”
Die roeier Maike Diekmann, die land se eerste Olimpiese kwalifiseerder in dié sport, sê die Internasionale Olimpiese Komitee en Japan as gasheerland se uitstel tot 2021 was “absoluut” die regte besluit.
“Daar was soveel onsekerheid in die lug of die Spele vanjaar sou voortgaan, uitgestel of gekanselleer sou word namate die virus wêreldwyd veld gewen het. Al die twyfel om elke oggend op te staan en te wonder, is nou uit die weg geruim.”
Diekmann, wat normaalweg in Pretoria studeer en oefen, sê sy sal Suid-Afrika se afgedwonge periode van afsondering vir die volgende twee weke met haar kêrel en sy familie op Port Alfred deurbring.
“Ek het my roeimasjien, fiets en gewigte saamgebring om die oefenproses voort te sit, al is dit vir nou nie meer so intensief nie.
“Ek is steeds opgewonde om volgende jaar my land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig en ek sien daarna uit om in die oorblywende maande sterker en vinniger te word om my allerbeste te gaan lewer.”
Die marathonatleet Helalia Johannes het aan 'n Engelse dagblad gesê sy oefen tans op haar eie en nie soos normaalweg in 'n oefengroep onder leiding van afrigter Robert Kaxuxuena nie.
Johannes, 'n gedugte mededinger as Statebondkampioen in 2018 en bronswenner by die 2019 wêreldkampioenskap, was onlangs in Japan waar sy haar titel by die Nagoya-marathon gaan verdedig het.
Sy moes egter ná sowat 22 km tou opgegooi toe 'n dyspier begin pla het, maar Johannes sê dié ligte besering is darem intussen iets van die verlede.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie