Beloning vir vakansiefoto’s uitgeloof

Toeriste se rugsak gesteel

17 August 2017 | Misdaad
Tanja Bause - Sowat 1 200 Namibiese vakansieherinneringe van Duitse toeriste is skoonveld.

’n Beloning van byna N$10 000 is uitgereik vir enigiemand wat dié toeriste se twee gesteelde kameras aan hulle kan terugbesorg.

Die kameras was in 'n rugsak wat op 3 Augustus uit 'n voertuig in Walvisbaai gesteel is en sowat 1 200 foto's is op die SD-kaarte geberg.

“Al die foto’s van ons toer deur dié mooi land was op die SD-kaarte. Om al dié herinneringe te verloor, maak baie seer. Dit maak seerder as die verlies van die kameras. Hulle kan die kameras hou, want ek kan dit vervang, maar die foto’s kan ons nie vervang nie. Ek sal US$700 vir die twee SD-kaarte betaal - sonder enige vrae,” het mnr. Bernd-Rudolf Oldengott gesê.

Volgens Oldengott het hy en sy vrou op Walvisbaai verdwaal op soek na hul reisagentskap. Hulle het ’n groep van sowat 20 mans wat hulle dopgehou het op die sypaadjie gewaar. Oldengott het besluit om voor die gebou van die ministerie van finansies te stop om hulp en aanwysings te vra.

“Nadat ons gestop het, het ons agtergekom die jong mans volg ons. Ek het my voertuig met die afstandbeheerder gesluit en ons is die gebou in. Ná sowat drie minute het ons uitgekom en ek het besef ons rugsak met die kameras is van die agterste sitplek af gesteel.”

Die polisie is dadelik geskakel en hul toergids het intussen opgedaag. Die groep mans het in twee verdeel met van hulle wat nog in dieselfde straat gestaan en kyk het en ander wat in 14de Straat gestaan het.

“Ek het onmiddellik vir die toergids N$2 600 (US$200) as beloning vir die gesteelde goedere aangebied. Hy het met die mans gaan praat en teruggekom en gesê hulle sê dit is nie genoeg nie.”

Volgens Oldengott het die polisie intussen ook by die toneel opgedaag.

Ook húlle het met van die mans in 14de Straat gaan praat en die egpaar aangesê om na die polisiekantoor te gaan.

Hier is die egpaar gevra om ’n lys van die gesteelde goedere op te stel.

Dit het onder meer twee kameras, ’n GPS (globale posisioneringstelsel), teleskoop, ’n beursie met kontant, kaarte en dokumente, asook klere ingesluit.

“Die polisiebeampte het alles neergeskryf en ’n saaknommer op ’n stuk papier neergeskryf. Ek het hom ingelig ek sal US$700 vir die SD-kaarte betaal.”

Die egpaar het met hul toer voortgegaan en vier dae later ’n aanklaer op Outjo gevra om die polisie in Walvisbaai te skakel om oor hoe die saak vorder.

“Die polisie het gesê geen saak is aanhangig gemaak nie en hulle kon gevolglik nie die voorval ondersoek nie.

"Ek was onder die indruk die saaknommer wat ek ontvang het, beteken daar is wel ’n saak aanhangig gemaak. Hoekom het die polisiebeampte nie gesê ek moet ’n saak maak nie, dan het ek dalk my goed al teruggekry? Wat is die punt van ’n saaknommer as dit niks beteken nie? As hulle niks gaan doen nie?” het Oldengott gesê.

“Daar was so baie jong mans wat op die sypaadjie gestaan en kyk het. As die polisie met hulle gepraat het en die bedrag genoem het, sou iemand gepraat het. Dit is immers baie geld en ek wil net my herinneringe terugkry sonder enige vrae.

“My raad aan toeriste wat Namibië besoek en iets soortgelyk ervaar, is geniet jul oorblywende tyd soveel as julle kan en moenie jul tyd met die polisie mors nie. Hulle skryf net iets in ’n boek neer en verder gebeur daar niks.”

Indien ’n lid van die publiek in besit van die SD-kaarte is, kan dit by Republikein se kantore op Swakopmund, Walvisbaai of in Windhoek ingegee word waarna Oldengott die beloning in die persoon se rekening sal betaal.

Soortgelyk

 

Sewe sterftes, 121 nuwe gevalle

6 ure gelede | Gesondheid

Die totale getal Covid-sterftes styg met sewe tot 3 821. Vier was tuissterftes en een geval was ten volle ingeënt. Gister is 121 nuwe gevalle...

Motor deur water meegesleur

1 dag gelede | Gesondheid

Berigte word ontvang van verskeie riviere in die Suide wat loop nadat swaar reën op plekke geval het. Die foto's van 'n motor wat deur...

10 sterftes, 309 nuwe gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes styg met tien tot 3 814. Vier was tuissterftes en geen van die sterfgevalle was ingeënt nie. Gister is 309 nuwe gevalle aangemeld,...

Trein ontspoor tussen Aus en Goageb

1 dag gelede | Ongelukke

TransNamib het bevestig 'n trein het tussen Guibes en Schakkalskuppe naby Aus in die Suide van die land ontspoor. Volgens die woordvoerder, Abigail Raubenheimer, het...

Oorvol Oranje sorg vir skade

2 dae gelede | Omgewing

Toerismebestemmings geleë op die oewers van die Oranjerivier in die Suide van die land, is aan die ontvangkant van die oorvloei van water. Monique Adams...

21 sterftes, 373 nuwe gevalle

2 dae gelede | Gesondheid

Covid-19-sterftes styg met 21 tot 3 804. Geen van die gevalle was ingeënt nie. Gister is 373 nuwe gevalle aangemeld, 'n positiwiteitskoers van 13,4%....

Landless People's Movement onttrek twee raadslede van Keetmanshoop-munisipaliteit

2 dae gelede | Regering

Twee raadslede van die Keetmanshoop-munisipaliteit wat die Landless People's Movement verteenwoordig het, is met onmiddellike effek verwyder en hul verteenwoordiging opgehef. Sydney Skakana en Willie...

Drie van Okahandja se bestuurskomitee vas vir korrupsie

2 dae gelede | Misdaad

Die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) het drie lede van die bestuurskomitee van die munisipaliteit op Okahandja vir korrupsie vasgetrek. Die drie, Gideon Uwu-Khaeb (voormalige voorsitter),...

Graad 11- en 12-uitslae middel Februarie verwag

2 dae gelede | Gesondheid

Die uitslae van voltydse kandidate vir die Nasionale Senior Sekondêre Sertifikaat Gewone Vlak (NSSCO) en Gevorderde Vlak (AS) sal in middel-Februarie vrygestel word. Volgens 'n...