Beesvleisforum vorder met abattoirplan

‘Sonder nismarkte sal beesbedryf kwyn’

04 June 2021 | Landbou
Ronelle Rademeyer – ’n Groep bekommerde beesprodusente wat ten alle koste Namibië se nismarkte in die buiteland vir die voortbestaan van dié bedryf wil beskerm, vorder met hul plan om ’n nuwe abattoir te vestig.

’n Verkoopbare sakeplan kan reeds binne ses weke gereed wees.

Aanvanklik het hulle dertien moontlike plekke ondersoek om dit te bou, maar dit is intussen gehalveer, sê mnr. Mecki Schneider. Hy is voorsitter van die forum vir die beesvleiswaardeketting.

Dié forum het op 17 November verlede jaar ’n taakspan van sewe aangewys nadat besluit is om uitvoering te gee aan ’n studie oor die beesvleiswaardeketting in die land.

Sowat 250 produsente het hulle reeds hierby aangesluit en elk N$5 000 betaal om dié voorlopige uitvoerbaarheidstudie wat verlede jaar deur die Namibië Landbou-unie (NLU) gedoen is, aan te pas en die mees onlangse verwikkelinge in die vleisbedryf by te werk.
Hulle geld word ook aangewend om ’n verkoopbare sakeplan te laat opstel waarmee die forum plaaslike en internasionale instellings om finansiering kan nader, sê Schneider.

Hy sê die produsente wat deel is van die forum, is nie ’n eksklusiewe groep nie, maar sluit beesboere van oraloor in. “Ons is nie ’n Meatco-wegbreekgroep nie. Ek persoonlik het in Mei by Meatco laat slag en het slagbeurte vir Junie. Ons is wel bekommerde boere wat voel ons kry nie die regmatige prys nie wat ons behoort te kry nie.

“Ons weet ons kan beter pryse betaal as ons (die nuwe abattoir) meer vaartbelyn (as Meatco) is. Dit is net deur beter pryse dat ons ’n ommekeer in die waardeketting kan bewerkstellig.”

Hy sê die forum “het mense gekoöpteer wat hom verteenwoordigend maak van alle produsente in die land”. “Dit gaan oor die vleisbedryf; dit gaan nie oor enige politiek nie. Dit gaan oor die welvaart van landbou.

“Al die landboubedrywe in Suider-Afrika wat goed presteer, soos die wol-, wyn-, sagtevrugtebedryf in Suid-Afrika en die jagbedryf hier by ons, steun op buitelandse valuta.

“Ons bedryf kan nie floreer as ons nie ons buitelandse uitvoermarkte beskerm nie. Ons moet in dollar en euro vir ons vleis betaal word,” sê Schneider.Volgens hom kan die beesvleisbedryf nie net op die voerkraalmark in Suid-Afrika staatmaak nie, want dit verhoog sy kwesbaarheid. “As daar nie ’n slagbedryf is nie en ons word net ’n speenkalfland, is ons uitgelewer aan die Suid-Afrikaanse mark.

Hy benadruk die ekonomiese groei en ontwikkeling van dorpsekonomieë op die platteland is afhanklik van ’n florerende vleisbedryf.

SAMEWERKING

Hy het egter gister in ’n onderhoud met Republikein beklemtoon die forum “kyk na alle moontlikhede”.

“Ek wil dit baie duidelik stel ons bou nog nie. Daar kon daagliks nuwe moontlikhede na vore en ons het na bestaande abattoirs gekyk. As daar ander moontlikhede vir samewerking en toegang is, sal ons dit baie, baie verwelkom.”

Hy sê hul oogmerk is om deur beter slagpryse te betaal, jaarliks 50 000 speenkalwers in die land te hou.

Die forum het reeds na ’n bemarkingstrategie gekyk en gedetailleerde infrastruktuurplanne opgestel.

Indien hulle nie ’n samewerkingsooreenkoms kan bereik nie en ’n nuwe abbatoir bou, sal dit iewers langs die B1-hoofroete tussen Windhoek en Kombat opgerig word.

Die beskikbaarheid van water, elektrisiteit, die vestiging van woonkwartiere vir personeel en die grootste geografiese gekonsentrasie van beeste sal ’n rol speel wanneer besluit word watter van die moontlike terreine die beste sal werk.

Schneider sê die forum en sy taakspan sal binnekort amptelik gekonstitueer word.

“Ons sal ons lede ingelig hou en op ’n gereelde basis met hulle vergader.”
[email protected]


FOTO
Mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die Beesvleiswaardekettingsforum. Foto Ronelle Rademeyer

Soortgelyk

 

Profeet TB Joshua sterf

1 uur gelede | Mense

Die bekende evangelis en filantroop, past. Temitope Balogun (TB) Joshua, is dood.Is het Saterdagaand, 'n week voor sy 58ste verjaardag, in Lagos, Nigerië gesterf, berig...

Polisieman in Kuisebmond doodgesteek

2 ure gelede | Misdaad

'n Konstabel wat by die polisiekantoor in Kuisebmond diens doen, is in die vroeë oggendure Saterdag dood nadat hy naby sy meisie se huis deur...

Ses sterftes stoot syfer oor 900, 480 nuwe gevalle

17 ure gelede | Gesondheid

Ses nuwe sterftes stoot die totale syfer vir Namibië oor die 900-kerf tot 905. Die sterftes is vier in Windhoek en een elk in Outjo...

Covid-19: Gevalle styg in 24 uit 35 distrikte

22 ure gelede | Gesondheid

Namibië bly in die kloue van ‘n nuwe brander Covid-19-infeksies.Gedurende die sewe dae tot Donderdag het nuwe gevalle in 24 van die land se 35...

22 sterftes, 596 nuwe gevalle

1 dag gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftesyfer vir Namibië skiet met nog 22 - 12 in Windhoek, twee in onderskeidelik Rehoboth en Walvisbaai, drie in Mariental en een elk...

Rehoboth soek strenger aandklok-monitering teen Covid

1 dag gelede | Gesondheid

Die United People's Movement (UPM) het die streeksbevelvoerder van die polisie in die Hardapstreek, komm. Andries van der Byl, gevra vir polisieversterkings op Rehoboth sodat...

Beesvleisforum vorder met abattoirplan

2 dae gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer – ’n Groep bekommerde beesprodusente wat ten alle koste Namibië se nismarkte in die buiteland vir die voortbestaan van dié bedryf wil beskerm,...

Avonturier verdrink byna tydens riviervaart

2 dae gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – ’n Suid-Afrikaanse avonturier wat verlede week ná 55 dae en 2 200 km in sy geel roeiboot die Oranjerivier se monding by...

Harmse on unlimiting the future

2 dae gelede | Mense

Barney Harmse was born in Mafikeng in South Africa in 1970 and his family moved to Namibia when he was just four years old. From...