Bankwerkers sal oor staking stem
Standard Bank meen sy voorgestelde salarisverhoging is voldoende, terwyl die vakbond sê die bank kán 6,2% bekostig.
Elvira Hattingh - Lede van die Bankwerkersvakbond van Namibië (Bawon) gaan binnekort stem oor of hulle aan ’n staking wil deelneem ná salarisonderhandelinge met Standard Bank glo ‘n dooiepunt bereik het.
Mnr. Thomas Muchima, sekretaris-generaal van die vakbond, het gister tydens ‘n nuuskonferensie gesê die vakbond en die bank sal die stemproses vandeesweek uitpluis.
Muchima sê die bank volstaan by ’n 5,2%-salarisverhoging vir werkers, terwyl die vakbond 7,2% eis en die bank gevra het om hulle “in die middel te ontmoet” op 6,2%.
“Dit is nie Bawon of sy lede se doel om te staak nie, maar dit is ons laaste uitweg nadat ons alle ander opsies probeer het,” het hy gesê en bygevoeg die staking sal vreedsame optogte insluit.
“Ons wil die publiek in kennis stel dat ons lede nie tydens die staking sal werk nie. Dit mag klink of ons onredelik raak, want dit is amper soos wanneer die nasionale kragverskaffer besluit om die elektrisiteit af te skakel. Dit is egter nie die bedoeling nie.”
Muchima sê werknemers staan slegs op hul regte omdat daar nie op hul “billike eise” ag geslaan word nie.
Hy sê dié proses volg nadat die vakbond en die bank “sekerlik agt of nege keer rondom die onderhandelingstafel gesit het” en selfs ná ‘n bemiddelingsproses by die arbeidskommissaris nie op ‘n verhoging kon ooreenkom nie.
Hy sê ‘n verhoging van 6,2% sal beteken altesaam N$40 miljoen word in die plaaslike arbeidsmark ingestoot, wat tot die stimulering van die sukkelende ekonomie kan bydra.
“Vergelyk dit met die N$400 miljoen wat die bank onlangs gemaak het – die salarisverhoging sal die bank steeds met ‘n wins van N$360 miljoen laat!”
Muchima meen aandeelhouers kan een enkele jaar van hul winste opoffer omdat werknemers dit jaarliks moet doen.
BANK BIED 5,2%
“Ons vra slegs dat hulle hul aanbod met ‘n verdere 1% opstoot. Ons veg vir net 1%. Is daar enige aanduiding dat Standard Bank bankrot sal wees as hy so ‘n verhoging toestaan?”
Hy meen die bank kan die voorgestelde salarisverhoging bekostig omdat dit voortdurend ’n wins toon ondanks die uitdagende ekonomie.
“Ons is selfs bereid om ‘n 6%-verhoging te aanvaar. Ons wil net hê hulle moet ons halfpad ontmoet,” het Muchima gesê en bygevoeg Bawon verteenwoordig sowat 1 300 lede by Standard Bank, terwyl die bank sê hy verskaf werk aan 1 700 mense.
“Ons verstaan die ekonomie vaar nie goed nie, maar as instansies oor die ekonomie kla, dink net hoeveel te meer raak die omstandighede die werknemers,” het Muchima gesê.
Hy het ook gesê lede moenie toelaat dat dreigemente van afleggings hulle intimideer nie, omdat besighede sekere prosedures moet volg en eers “aan die regering sal moet bewys hulle maak nie winste nie”.
Muchima het ook gesê Standard Bank se werknemers het verlede jaar ‘n 6,8%-verhoging gekry.
BANK REAGEER
Intussen het Standard Bank se bemarkingshoof, me. Magreth Mengo, in ‘n nuusverklaring gesê die bank hét oor die afgelope vyf jaar salarisverhogings toegestaan wat mededingend, markverwant en hoër as inflasie was.
Sy sê werknemers se salarisse, asook behuisings- en vervoertoelae vergelyk goed of is bo bedryfsgemiddeldes.
Sy sê die vakbond het aanvanklik vir ‘n 9%-verhoging gevra, maar kon nie gronde vir so ‘n hoë eis verskaf nie, terwyl inflasie net op 4,1% staan.
Sy sê die bank het hul aanvanklike aanbod van 4,5% eindelik na 5,2% verhoog nadat die vakbond sy eis na 7,2% verlaag het.
“In werklikheid sal meer as 60% van Standard Bank se werknemers ‘n verhoging van tussen 5,5% en 6% kry op grond van hul werksprestasie in 2018,” het sy gesê.
Die bank het bygevoeg die proses behels slegs Bawon se bedingingseenheid omdat werknemers op bestuursvlak reeds ingestem het op salarisverhogings van onderskeidelik 0% en 3%.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie