Baba jongste Covid-19-geval
Baba jongste Covid-19-geval

Baba jongste Covid-19-geval

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ’n Nege maande oue baba is saam met sy pa die nuutste twee gevalle van Covid-19 in Namibië. Dit bring die nasionale totaal nou op 13 te staan.

Die baba se ma het reeds positief vir die virus getoets en was Namibië se negende geval. Die familie woon op Swakopmund in die Erongostreek, wat nou vier gevalle het. //Kharas het een en die Khomasstreek agt gevalle.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het die enigste pasiënt wat in die hospitaal opgeneem is, negatief getoets tydens twee opeenvolgende toetse en is op 31 Maart uit die hospitaal ontslaan. Tien ander gevalle is in ’n stabiele toestand.

Shangula het tydens ’n aankondiging by Staatshuis gesê tot op hede is 306 weefselmonsters gestuur om plaaslik en in Suid-Afrika getoets te word. Hiervan was 150 by die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP), terwyl 156 deur Pathcare na Suid-Afrika gestuur is. Uit al die monsters wat ontvang is, is 265 getoets en al die resultate ontvang.

Volgens Shangula is 22 weefselmonsters sedert Sondag en tot en met gisteroggend geneem, waarvan 19 negatief getoets en drie weer herhaal moet word.

Hy het ook gesê die ministerie gaan in die komende weke toetsing vir Covid-19, veral by inwoners met lugweginfeksies, verhoog. Die omvang van gesondheidswerkers in gemeenskappe se pligte gaan ook uitgebrei word om die omvang van gemeenskapsoordrag in Namibië te bepaal. Die fokus sal op die drie streke met bevestigde gevalle naamlik //Kharas, Khomas en Erongo wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer