‘Baantjies vir boeties’ by NFA ontken

Die nasionale sokkerbaas Ranga Haikali is oor van die vereniging se administratiewe kwessies uitgevra.
NAMPA
Mnr. Franco Cosmos, waarnemende sekretaris-generaal van die Namibiese Sokkervereniging (NFA), kan dalk dié pos opraap wanneer dit geadverteer word.

Mnr. Ranga Haikali, president van die NFA, sê Cosmos kan en mag vir die pos aansoek doen sodra dit in die media geadverteer word. Hierdie aankondiging van Haikali kom ten spyte daarvan dat die sport se wêreldbeheerliggaam Fifa gesê het nie een van die vyf lede van die Fifa-normaliseringskomitee kwalifiseer om in die belangrike pos te dien nie.

Cosmos was die visepresident van die normaliseringskomitee wat verlede jaar Februarie deur Fifa aangestel was om die NFA terug op koers te bring.

Mnr. Véron Mosengo-Omba, Fifa se direkteur vir ontwikkeling in Afrika, het dit duidelik gestel dat die pos as sekretaris-generaal deur ’n buitestander gevul moet word.

Tog het Haikali anders besluit en Cosmos is vroeër vanjaar deur hom en die nuwe verkose bestuur van die NFA as waarnemende sekretaris-generaal aangestel. Cosmos was in die bevoorregte posisie as visepresident van die normaliseringskomitee om kandidate te keur wat vir die posisies in die nuwe NFA-bestuur aansoek gedoen het.

Haikali meen egter daar is niks mee verkeerd om Cosmos voor te trek nie. Haikali is stomgeslaan deur mense se reaksie wat vinnig was om Cosmos se tydelike aanstelling te bevraagteken en te kritiseer. Haikali sê hy het die aanbeveling aan die uitvoerende raad voorgelê alvorens daar op Cosmos besluit was.

“Die sekretaris-generaal is deur my, die NFA-president, in terme van die NFA-grondwet op aanbeveling gekies en aangestel. Ek het geen geheim daarvan gemaak met die aanstelling van Cosmos as waarnemende sekretaris-generaal wat vanaf 22 Februarie vir ses maande in werking getree het nie.

“Ná ses maande sal hy soos enige ander Namibiër vir dié pos kan aansoek doen,” het die NFA-president gesê.

Haikali vertel as lid van Fifa wil die NFA deursigtig wees en sal deur die amptelike keuringsproses gaan. Hy sê enige lid van die uitgediende normaliseringskomitee mag vir dié pos aansoek doen.

Indien Fifa anders aanbeveel en nie met die aanstelling saamstem nie, sal die NFA na die meriete van Fifa se aanbeveling kyk, sê Haikali.

Die NFA-president beweer egter dat lede van die ou normaliseringskomitee nie kiesbaar was as president of as lede van die uitvoerende komitee nie, maar wel vir ander ampte.

“Kom ons neem die Namibiese Verkiesingskommissie (ECN) as voorbeeld. Al die direkteure van die ECN asook kabinetsministers is lede van Swapo. Maar hulle is steeds deur die regerende party aangestel.

“Ek sê nie Cosmos sal die pos as permanente sekretaris-generaal kry nie, want hy sal nie die kortlys vir kandidate keur nie. Ek sê ons wil hom net vir die oorgangstydperk hê,” het Haikali afgesluit.

GELDGHOEROE IN AANVRAAG

Die NFA beplan om binnekort ’n finansiële direkteur vir die volgende vier jaar tot Februarie 2024 aan te stel.

Volgens Haikali beskik nie een van die NFA se bestuurslede oor die vaardighede of kwalifikasie om die NFA se geldsake op koers te hou nie.

Hy sê die NFA beplan om die aanstelling te bewerkstellig terwyl Franco Cosmos tans waarnemend as sekretaris-generaal dien.

Daar is berig dat die NFA se finansiële oudits die afgelope twee jaar nie op aanvaarbare standard vir Fifa was nie. Dit is die rede hoekom Fifa sy fondse aan Namibië weerhou.

“Ons sal beslis iemand met die regte kwalifikasies kry om die werk behoorlik te doen. Niemand by die NFA is tans gekwalifiseer om die geldsake te hanteer nie.

“Elke uitvoerende lid het net ’n termyn van vier jaar om te voltooi. Barry Rukoro het destyds as sekretaris-generaal oënskynlik vir ewig aan sy posisie vasgeklou.

“Ons sal so ’n situasie nie weer toelaat nie. Wie ook al aangestel word, se diens sal nes ons s’n ná vier jaar in Februarie 2024 tot ’n einde kom. Wie ook al ons opvolg, sal sy eie keuse moet maak.

“Die skrif is aan die muur en dit is nie sake soos normaalweg nie. Dinge moet en sal verander; ons moet toerekenbaar wees,” het Haikali gesê. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!