'Apartheid met entstof' laat Geingob teleurgesteld

Kwessie van globale veiligheid

08 April 2021 | Gesondheid
Henriette Lamprecht – Sou die verskaffing van entstowwe teen Covid-19 aan Afrika nie onmiddellik verhoog word nie, gaan die vasteland se gesondheidswerkers totaal oorweldig word.

Tans dra gesondheidswerkers die grootste las van die pandemie en is 3,5% van Covid-19-gevalle in Afrika gesondheidswerkers.

In 'n verklaring onder die vaandel “Hoekom entstowwe in Afrika 'n kwessie van maatskaplike sekuriteit is” maan die Mo Ibrahim-stigting dit is baie moontlik dat die vasteland 'n “perfekte broeikas” vir variante kan word.

“As die virus nie orals doeltreffend verslaan word nie, sal dit voortgaan om te versprei en te muteer. Om gelyke en gebalanseerde toegang tot entstowwe te verseker, is nie net 'n kwessie van geregtigheid nie, nog minder liefdadigheid. Dit is 'n kwessie van globale veiligheid en daarom van gedeelde belang,” lui die verklaring.

Dit sê voorts onmiddellike en verenigde pogings is nodig om die uitdaging te takel.

“Ons moet entstowwe vinniger na Afrika kry, bykomende finansiële hulpbronne ontsluit vir die lande wat dit die meeste nodig het en die kapasiteit vir openbare gesondheid en die vervaardiging van entstowwe in die lang termyn bou.”

Ook is 'n duidelike en veilige “land-vir-land Covax-afleweringskedule vir Afrika” vir die tweede kwartaal van die jaar noodsaaklik.

Met 'n bevolking van meer as 1,3 miljard is Afrika een van die mees onbeskermde en weerlose streke. Dit sal daarom volgens die stigting 'n “fatale fout” wees om te dink die pandemie is hier minder ernstig en “Afrika kan daarom wag”.

Die jongste data dui aan 4,28 miljoen gevalle is op die vasteland aangeteken wat dui op 'n verhoging van 9% binne 'n maand, hoewel dit 'n beduidende onderberaming van die werklike syfer kan wees.

Teen 2,7% is die sterftekoers in Afrika nou hoër as die globale koers van 2,2%. Met verwysing na die be­skikbaarheid van entstowwe, sê die verklaring toegang is nie net ver onder die doeltreffendheidsdrumpel van 60% van die bevolking nie, maar beduidend laer as die 20% wat deur Covax beloof is.

Teen 15 Maart is net 23,6 miljoen entstowwe in Afrika versprei, genoeg vir sowat 1,7% van die vasteland se bevolking. Dit is skaars 0,5% van die huidige globale entstofverspreiding, terwyl die vasteland meer as 17% van die wêreldbevolking verteenwoordig.

Covax het 16 miljoen dosisse aan 28 Afrikalande verskaf, met 16 lande wat afhanklik van skenkings en bilaterale ooreenkomste is. Tien lande is totaal buite enige verskaffingstelsel.

Volgens die stigting sal 'n onmiddellike oplossing wees vir ryker lande om 'n deel van hul entstofvoorrade met minder gevorderde lande te deel.

“Om eenvoudig oorskotte weg te gee, is ver van genoeg.”

Intussen het president Hage Geingob sy teleurstelling uitgespreek in die manier waarop entstowwe in Afrika teen Covid-19 versprei word. Volgens hom dui dit op 'n tipe van “entstof-apartheid”. Geingob het ter viering van Wêreldgesondheidsdag gesê Namibië is een van die lande wat vroeg vir die entstowwe betaal het, maar die land het dit nog steeds nie ontvang nie.

“Ons moes op Covid-19-entstowwe van vriende soos Indië en China staatmaak,” het Geingob gesê.

[email protected]

Soortgelyk

 

79 nuwe gevalle, een sterfte

11 minute gelede | Gesondheid

Die Covid-19-verwante sterftesyfer skuif met een, die van 'n 53-jarige vrou van Swakopmund, op tot 609. Vandag is 79 nuwe gevalle aangemeld waaronder 15 leerlinge...

LPM ruk op na NV

57 minute gelede | Politiek

Ondersteuners van die Landless Peoples Movement (LPM) is voor die hekke van die parlementstuine waar hulle 'n optog hou teen die verbod op hul leiers,...

RMB Song Night vier ’n dekade

3 ure gelede | Kuns en vermaak

Die RMB Song Night-inisiatief wat op die been gebring is met die doel om Namibiese klanke te laat groei en ontwikkel, vier vanjaar sy tiende...

Europese Unie verwelkom besending entstowwe van Covax

3 ure gelede | Gesondheid

Die Europese Unie se adjunkhoof, mnr. Gosia Lachut, het die besending van 24 000 dosisse AstraZeneca-entstof teen Covid-19 van Covax aan Namibië verwelkom. Lachut...

Kavango-Oos kry eerste besending Covid-19-entstowwe

5 ure gelede | Gesondheid

Kavango-Oos het sy eerste besending Sinopharm en AstraZeneca-dosisse deel van die immuniseringsveldtog teen Covid-19 ontvang. Die streek het 7 983 Sinopham- en 2 880 AstraZeneca-dosisse...

Vincia Cloete aangestel as hoof van korporatiewe bestuursinsituut

6 ure gelede | Mense

Die Namibië Instituut vir Korporatiewe Bestuur (NICG), wat in 2016 gestig is om gesonde korporatiewe bestuursbeginsels en -praktyke in die land te bevorder, het aangekondig...

Floyd-moordverhoor: Skuldig!

6 ure gelede | Internasionaal

Derek Chauvin (45), gewese polisielid van Minneapolis, is skuldig bevind aan die moord op George Floyd (46).’n Jurie het gisteraand laat (Namibiese tyd) dié beslissing...

FlyWestair brei binnelandse vlugte uit

16 ure gelede | Vervoer

FlyWestair voeg van volgende Woensdag 28 April 'n ekstra vlug by sy Ondangwa-roete en het ook by die Vervoerkommissie van Namibië aansoek gedoen om vlugte...

Sprinkane nou in 11 streke

16 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer – Die verwoestende sprinkaan­plaag het nou na elf van die land se 14 streke uitgekring en dit is net in die Omaheke-, Khomas-...