Android vervang gou SMS, maar hoe veilig is dit?
Petrus Malherbe - Staan opsy, SMS. ’n Nuwe manier van kommunikeer wink vir Android-gebruikers, maar kommer heers reeds oor hoe veilig dit is. ’n Nuwe funksie, bekend as Chat, sal eersdaags die bestaande Messenger op Android-toestelle vervang. Messenger gebruik nog standaard-SMS-tegnologie om boodskappe te stuur. Chat sal dit vervang met ’n nuwe universele stelsel genaamd RCS, oftewel Rich Communication Services.
Volgens die webtuiste The Verge kom RCS met die vermoë om langer boodskappe en groter foto’s en video’s te stuur. ’n Standaard-SMS kan net ’n sekere hoeveelheid karakters hanteer, en multimedia, insluitende foto’s en video’s, se lêergrootte word erg verklein.
Byna elke vervaardiger van Android-toestelle, insluitende Samsung, LG en Huawei, het reeds aangedui hulle sal Messenger met Chat vervang in toekomstige fone. Die vangplek is dat kenners bekommerd is oor hoe veilig Chat as kommunikasiemiddel is.
Anders as WhatsApp en Apple se immergewilde iMessage, word boodskappe op Chat nie gekodeer nie. Dit beteken as ’n boodskap onderskep word, sal booswigte dit kan lees.
RCS ten sterkste veroordeel
Enkele ure nadat The Verge die koms van Chat aangekondig het, het Joe Westby, ’n navorser in menseregte en tegnologie by Amnestie Internasionaal, ’n verklaring uitgereik waarin hy Google se planne ten sterkste veroordeel.
“In die nadraai van Facebook se onlangse dataskandaal, is Google se besluit (om nie boodskappe te enkodeer nie) nie net gevaarlik nie, maar ook onvanpas gegewe gebruikers se huidige houding oor privaatheid.
“Dit dui daarop dat Google Android-gebruikers nou aktief aanraai om hul privaatheid prys te gee om ’n diens te gebruik waar hul kommunikasie in wese blootgelê is vir almal om te sien.”
Westby voer aan dit is moeilik om te glo dat enige Android-gebruiker willens en wetens sal oorskakel na Chat. “Google moet dit in sy huidige formaat onmiddellik skrap en eerder vir gebruikers ’n produk gee wat hul privaatheid beskerm.”
'Nie ’n Google-produk'
Die tegnologiereus hou vol dat Chat nie as sodanig ’n Google-produk is nie aangesien RCS ’n nuwe kommunikasiestandaard verteenwoordig, nes SMS destyds. Die onus lê by die vervaardiger van die toestel, jou Samsungs, Huawei’s en LG’s, om die funksionaliteit te inkorporeer in sy toestelle.
Google moedig wel die skuif van SMS na RCS aan.
Nes Apple se iMessage word boodskappe met Chat oor die internet gestuur.
Sou ’n Android-gebruiker ’n boodskap met Chat na ’n gebruiker daarsonder stuur, word dit outomaties na ’n gewone SMS omgeskakel, soortgelyk aan iMessage.
Hoewel Chat teoreties net die data kan kos wat dit benodig om die boodskap oor die internet te stuur, kan diensverskaffers ’n bykomende bedrag daarvoor vra, berig die BBC.
Samsung het reeds aangedui dat hy RCS-tegnologie by sy nuwe kletsapp gaan insluit en Microsoft ondersteun dit ook.
Apple het op sy beurt aangedui hy stel nie daarin belang nie.
Dit beteken dat Apple- en Android-gebruikers steeds ander kletsdienste soos WhatsApp sal moet gebruik om gratis met mekaar te kommunikeer.
Google het reeds in 2016 sy eie kletsdiens, genaamd Allo, bekend gestel, maar kon sedertdien nie daarin slaag om veld te wen teen die reuse in die bedryf soos WhatsApp en Facebook se Messenger nie. Die maatskappy het aangedui dat verdere ontwikkeling aan Allo gestaak word ten gunste van Chat.
Bronne: The Verge, Business Insider, BBC/Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie