Alles vir Afrikaans

31 May 2019 | Kuns en vermaak
Bank Windhoek het sy toewyding aan Afrikaans opnuut bevestig deur verskeie projekte van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) te ondersteun.

Oudergewoonte borg die bank die Bank Windhoek/ATKV Pluimpies en die gewilde Bank Windhoek Idiomestryd, vir leerlinge van oraloor Namibië. Bykomend sal die Bank Windhoek-skryfskool ook deel van die borgskap wees.

Vir die 23ste agtereenvolgende jaar ondersteun Bank Windhoek die ATKV Pluimpie-toekennings, wat op 19 Julie vanjaar plaasvind.

Die doel van hierdie toekennings is om erkenning te gee aan individue, instansies, uitgewers en maatskappye wat spesiale bydraes tot Afrikaanse lewer om dit modern en eietyds te hou.

Die ontwikkeling van die geskrewe taal is uiters belangrik, en daarom gee die ATKV erkenning aan bydraes in die kategorieë drama, poësie, letterkunde, lirieke, koerante, uitsaaiers, publikasies en sangers.

Die kandidate in elke kategorie sal die volgende toekennings ontvang:

· ’n Donsie vir nuwe en opkomende talent

· ’n Pluimpie vir bydraes van uitstaande gehalte

· ’n Veertjie as die hoogste toekenning.

· ‘n Oorkonde word aan iemand toegeken, wat oor ’n sekere tydperk ‘n besondere bydrae tot die gemeenskap gemaak het.

Idiomestryd

Die uitdagende Bank Windhoek-idiomestryd het ten doel om die Afrikaanse taal te bevorder en om leerlinge vertroud met Afrikaanse uitdrukkings en idiome te maak. Daar is meer as 8 000 idiome en uitdrukkings in die Afrikaanse taal, wat die leerlinge moet memoriseer en tydens die kompetisie reg gebruik.

Tussen 20 en 25 skole neem jaarliks aan die Bank Windhoek-idiomestryd deel. Dit is so gewild dat van die skole twee spanne inskryf. Die skole neem dan teen mekaar deel en word tot die finaal uitgedun, waar twee skole mekaar die stryd aansê.

Die Idiomestryd word elke Woensdag ná 14:00 op Hartklop FM uitgesaai.

“Die ontwikkeling van die Afrikaanse taal is van kardinale belang in 'n tyd wat uitwissing baie Afrikatale in die gesig staar. Dit is dus die verantwoordelikheid van elke Namibiese burger en Afrikaan om seker te maak hul onderskeie tale sterf nie uit nie, deur die gebruik van hul moedertaal aan te moedig – veral onder die jonger geslag,” sê Ansa Ellis, ATKV-tesourier.

“Dit is belangrik om kulture en tradisies in Namibië te behou. ’n Taal weerspieël ’n belangrike skakel tussen die verskillende bevolkingsgroepe en hul tradisies en agtergronde in ons land, en dit is vir Bank Windhoek ’n eer om hierdie toekennings en ’n kompetisie te ondersteun,” sê André le Roux, skakelbeampte by Bank Windhoek.

Teatertegnologiekursus deur Bank Windhoek-skryfskool

Ná ‘n blaaskans word die Bank Windhoek/ATKV-skryfskool vanjaar weer hervat.

Die eendagkursus het ten doel om hoërskoolleerlinge in die skryf van opstelle en gedigte met die nodige kundigheid toe te rus.

Leerlinge asook nieskoolgaande mense kan die kursus bywoon. Die keurders van Noordwes-universiteit (NWU) wat jaarliks die Pluimpie-inskrywings beoordeel, sê daar is baie potensiaal by Namibiërs, en dat hulle oor 'n ongelooflike skryfvermoë en talent beskik wat meer ontwikkel kan word.

Dié eendagkursus sal op verskeie dorpe oraloor Namibië aangebied word.

Teatertegnologie

Die eerste Bank Windhoek-teatertegnologiekursus vind op 26 en 27 Julie in Windhoek plaas.

Dit is die eerste keer dat die kursus in Namibië aangebied word. Elke kursusganger sal 'n sertifikaat van NWU ontvang.

“Die ATKV wil graag ons jeug bemagtig om teatertegnologie in hul skole te kan aanbied. Met die geleentheid wil ons leerlinge graag uitnooi om van die teatertegnologiekursus gebruik te maak,” sê Leoni van Rensburg, voorsitter van die ATKV Namibië

Die aantal kursusgangers is tot 25 beperk en koste sal N$350 per persoon beloop.

Vir meer inligting oor die Pluimpie-toekennings en Idiomestryd, kontak gerus vir Ansa Ellis by 081 122 5552 of Leoni van Rensburg by 081 127 1193.

Soortgelyk

 

Selfdegeslaghuwelike ly neerlaag … vir nou

4 ure gelede | Howe

Jana-Mari Smith – Drie hoërhofregters het hulle gister sterk ten gunste van die wetlike erkenning van selfdegeslaghuwelike in Namibië uitgespreek, maar het nietemin die aansoeke...

Elisenheimrivier sleep motors weg

4 ure gelede | Weer

Augetto Graig – Die Elisenheimrivier het Woensdagaand motorvoertuie saamgesleep toe dit verby die Farmers Kitchen restaurant by Gastefarm Elisenheim oorstroom het. Me. Rentia van der...

Hardap loop gou vol

4 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Die Hardapdam sou na verwagting laat gisteraand 70% van sy kapasiteit bereik, wat beteken dié suidedam se sluise sou oopgetrek moes word....

kykNET se ‘Wat Dit Vat’: Hier’s die kunstenaars

4 ure gelede | Byvoegsels

Dit was pret, dit was plesier en dit was ’n malligheid op note. Toe die briljante musikant en musiekvervaardiger Loki Rothman gesê het hy gaan...

Fees van klassieke musiek ten bate van kanker

4 ure gelede | Byvoegsels

Een van die mees begaafde pianiste in Namibië, Johann van der Merwe, bied môre (22 Januarie) 'n uitvoering aan om geld in te samel om...

Die weer Vrydag 21 Januarie 2022

4 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die noordooste met ’n paar buie in die Kavango, Otjozondjupa se ooste en die Omahekestreek; andersins gedeeltelik bewolk...

Hardap loop gou vol

4 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Die Hardapdam sou na verwagting laat gisteraand 70% van sy kapasiteit bereik, wat beteken dié Suidedam se sluise sou getrek moes word....

Covid-19: 20 sterftes, 151 nuwe gevalle

11 ure gelede | Gesondheid

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het twintig nuwe Covid-19-sterftes aangemeld, die meeste daarvan op Gobabis (13 sterftes), wat dié sterftesyfer op 3 884...

Hardap se sluise dalk vanaand getrek

13 ure gelede | Omgewing

Die Hardapdam kan dalk laat vanaand 70% van sy kapasiteit bereik, wat beteken dié suidedam se sluise sal getrek moet word. Die dam was om...