Afrikaans is groot u2026 in Nederland
Afrikaans is groot u2026 in Nederland

Afrikaans is groot … in Nederland

Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis - "Elke lang reis begin met 'n eerste stap"

Danksy taalkundiges met 'n passie vir Afrikaans word ons moedertaal nou in Nederlandssprekende skole bevorder.

Die afgelope tien jaar geniet Afrikaans baie aandag in Nederland. Daar is nou 'n tweejaarlikse kultuurfees vir Afrikaans in Amsterdam en die “Week van die Afrikaanse roman” is ook onlangs gebore.

Die volgende stap was om Afrikaans as verwante taal in hoërskole te bevorder. Om dié inisiatief van stapel te stuur, is 'n gratis digitale leerplan vir studente tussen die ouderdomme van 15 tot 17 beskikbaar gestel.



DIGITALE LEERPLAN

Die projek word van stapel gestuur by sekondêre skole in lande waar Nederlands 'n amptelike taal is.

“As deel van Nederlandse, Vlaamse en Surinaamse hoërskoolleerlinge se algemene taalvaardighede, vind ons dit belangrik om hulle op 'n beskeie en realistiese wyse te leer van die oorsprong en bestaan van Afrikaans en van variante van Nederlands buite Europa soos Surinaams. Die meerderheid gaan egter oor Afrika,” sê mnr. Joris Cornelissen, een van die baasbreine agter dié inisiatief.

Die leerplan gee studente voldoende insig in die geskiedenis, die sosiale konteks en die sprekers en verspreiding van Afrikaans.

Daarbenewens sal aandag geskenk word aan die belangrikste kenmerke van Afrikaans en studente moet vertroud raak met die uitspraak van Afrikaans.

Hoewel Nederlands die amptelike taal van Nederland en Vlaandere is, met altesaam 24 miljoen sprekers, is die breër taalgebied nie net in Europa nie, maar ook in Suid-Amerika en Afrika.

In Suriname in Suid-Amerika en enkele kleiner lande in die Karibiese eilande – Curaçao, Aruba en Sint MartIn – is Nederlands die amptelike taal.

Die taalgebied kan egter nog breër beskou word – as die Nederlands-Afrikaanse taalgebied, waarin Afrikaans 'n volledig onafhanklike taal is met sterk wortels in 17de eeuse Nederlands. Só verduidelik om Afrikaans by Nederlandse skole te integreer.

“Vir Nederlandssprekendes is Afrikaans 'n fantastiese ontdekking en deels 'n viering van erkenning vanweë die sterk oorvleuelende woordeskat. Taal bied 'n wonderlike geleentheid om mense in Afrika en Nederlands oor verskeie vastelande te verbind. Ons vind dit spesiaal en waardevol. Ons wil in die komende jare die samewerking tussen Afrikaans en Nederlands, en veral die sprekers daarvan, stimuleer,” sê Cornelissen.



INTERNASIONALE SPAN

Die digitale leerplan is deur 'n internasionale span kundiges op die gebied van taal en literatuur, onderrigmetodologie en nuwe media ontwikkel. Hulle kom uit Nederland, Vlaandere, Suriname en Suid-Afrika. Professor Adri Breed, 'n taalkundige en dosent by die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom, is onder andere deel van dié span.

Die leerplan is 'n inisiatief van die organisasie VECTIS, onder leiding van Cornelissen en mnr. Marc le Clercq. Hulle poog om samewerking tussen Afrikaans en Nederlands en sy sprekers te bevorder. Le Clercq het jare as beleidsadviseur in die buiteland by die Nederlandse Taalunie gewerk, waar hy 'n groot rol gespeel het in die versterking van universiteitsamewerking tussen Afrikaans- en Nederlandssprekendes.

VECTIS werk nou saam met die Afrikaanse Taalraad in Suid-Afrika en Namibië. Cornelissen is die stigter van die Festival for Afrikaans in Amsterdam, waar vername Afrikaanse kunstenaars soos Laurika Rauch, Antjie Krog, Chris Chameleon, Jack Parow, asook die Namibiese kunstenaar Wambüseun opgetree het.



BEKENDSTELLING

In 2019 is die eerste bekendstelling van die leerplan gehou met 20 verskillende klasse wat in Nederland aangebied is. Meer as 400 onderwysers en studente het deelgeneem en die terugvoering was volgens Cornelissen positief. Sommige klasse het ook via Skype kontak met Suid-Afrikaanse klasse en studente gehad, sodat hulle mekaar kon leer ken. Met enkele aanpassings aan die leermateriaal, werk nuwe skole weer aan die leerplan in 2020.

TOEKOMSPLANNE

“Dit is lank gelede dat jong mense in Europa en Suid-Amerika in aanraking kom met 'n taal wat 'anders, maar ook naby aan hulle s'n is.' Ons doelwit is om in die toekoms struktureel aandag aan Afrikaans te gee en 'n plek in die onderrigkurrikulum in hoërskole te verseker,” sluit Cornelissen af. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer