AfriForum na Amerika met dié 'beleggersgids'

‘Groot wantroue’

20 February 2020 | Ekonomie
Hanlie Stadler – Suid-Afrika het buitelandse beleggers “nodiger as ooit”, maar hulle moenie blindelings kom belê nie.

Hulle moet bewus gemaak word van die regering se beleid oor grondonteiening sonder vergoeding en moet hul stem daarteen dik maak in ’n poging om die regering van sy “ekonomies destruktiewe” beleid te laat afstand doen.

Dis die kruks van AfriForum se nuwe “beleggersgids”, wat die organisasie Maandag uitgereik het toe ’n afvaardiging na Amerika vertrek het op die eerste been van die burgerregte-organisasie se veldtog #DieWêreldMoetWeet.

Die beleggersgids lig probleme uit met die verslag oor onteiening wat pres. Cyril Ramaphosa se adviesraad oor grondhervorming verlede jaar die lig laat sien het. AfriForum beskou die voorstelle in die verslag onder meer as ongrondwetlik.

“Die onderliggende feit is dat die Suid-Afrikaanse regering hom met destabiliserende beleidsidees besig hou, wat reeds groot wantroue onder beleggers skep,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.

“Beleggersvertroue kan nie volhoubaar geskep word deur mense ’n rat voor die oë te draai en perdemis as roomys te wil verkoop nie, maar eerder om potensiële beleggers met die nodige inligting te bemagtig en hulle toe te rus om hul stem te laat geld deur druk op die regering toe te pas om van dié destabiliserende beleidsidees afstand te doen.”

Ramaphosa het op 13 Februarie in sy staatsrede bevestig die kernaanbevelings van die adviespaneel sal in werking gestel word sodra art. 25 van die Grondwet verander is.

Benewens dat AfriForum reken die plan is ongrondwetlik en het “rassistiese ondertone”, en is “ekonomies naïef”. Dit is ook onkundig oor die vereistes van kommersiële landbou, soos blyk uit die voorgestelde perke op plaasgroottes.

Die verslag “moedig potensiële beleggers aan om hul invloed te gebruik deur in die openbaar standpunt in te neem en hul voorvereistes vir beleggings in Suid-Afrika met die regering op te neem, eerder as om bloot hul beleggings te onttrek sonder om standpunt in te neem,” sê AfriForum.

Ook op Maandag het die Vryemarkstigting (FMF) teen grondonteiening sonder vergoeding te velde getrek. Die organisasie sê dis “onnodig vir grondhervorming, gevaarlik vir die ekonomie en rampspoedig vir armes”.

“Die belangrikste slagoffers sal arm swart mense wees, wie se grondwetlike beskerming vir hul swaar gewonne reg tot eienaarskap sal verdwyn.”

Martin van Staden, die FMF se hoof van regsbeleid, sê wêreldwyd is die enigste geval waar eiendom sonder vergoeding onteien mag word, wanneer dit vir misdaad gebruik word. “Die wysiging (van die Grondwet) sal Suid-Afrika nader bring aan ’n posisie waar eiendomseienaars dieselfde beskerming van hul eiendom geniet as veroordeelde misdadigers: niks.”

Die FMF sê in alle ander lande waar onteiening ingestel is, was daar rampspoedige gevolge, soos die ineenstorting van landbou en die finansiële sektor. “Al daardie samelewings is nou baie armer.”

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel het al herhaaldelik gesê onsekerheid oor grondonteiening ondermyn sakevertroue en dus investering. Die internasionale kredietgradeerders Moody’s Investors Service, Fitch Ratings en Standard & Poor’s Global Ratings het die afgelope jaar herhaaldelik gewaarsku dit skep onsekerheid, wat ekonomiese groei knou.

Die ekonoom Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-groep, sê vanuit ’n vryemark-perspektief is die opsomming van AfriForum se besware teen onteiening “waterdig”.

“Die feit is dat die ANC met vuur speel. Venezuela en Zimbabwe is onlangse voorbeelde van lande waar die ekonomie ineenstort weens die nasionalisering van eiendom.

“Nog ’n feit is dat kapitaalvorming, wat broodnodig is vir werkskepping en sneller groei, nie behoorlik sal herstel solank daar onsekerheid bestaan oor eiendomsreg nie – dit is immers een van die hoekstene waarop suksesvolle en welvarende gemeenskappe gebou is.”

Botha sê die gesloer om duidelikheid te verskaf oor hoe grondonteiening gaan werk, “het ongetwyfeld bygedra tot die swak ekonomiese groeiprestasie sedert 2018”.

Hy sê daar is wel hoop: “Indien art. 25 van die Grondwet egter net gewysig word om die onduidelikheid (wat tans bestaan) uit die weg te ruim, hoef beleggers (binnelands en buitelands) min te vrees.”

Hy reken nie AfriForum se veldtog sal beleggers afskrik nie. “Solank die regering waarborge verskaf dat wesenlike oorsese maatskappye (soos die motorvervaardigers) kan aanhou om sake in Suid-Afrika te bedryf en selfs subsidies ontvang, sal hulle beslis nie disinvesteer nie.”

Toyota het onlangs aangekondig hy gaan nog R4,28 miljard in Suid-Afrika belê. Isuzu het ook einde verlede jaar aangekondig hy gaan nog R1,2 miljard belê om sy Struandale-fabriek in Port Elizabeth te verbeter ten einde ’n nuwe generasie bakkies plaaslik te vervaardig. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Oliesoektog: D-dag vir besware om die draai

8 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer – Die olie- en gasmaatskappy Reconnaissance Energy Namibia (ReconAfrica) moet teen Vrydag 5 Februarie sy aansoek vir ’n omgewingsklaringsertifikaat (ECC) by die ministerie...

Inhaal deel van leerplan

8 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Die nasionale leerplan is tot 70% gerasionaliseer en ’n herstelperiode is ingebou wat vandeesmaand met die opening van skole vir die nuwe...

Haihambo terug in hof

8 ure gelede | Howe

Kristien Kruger – Die moordbeskuldige mnr. Philipus Hafeni Haihambo (55) se verhoor het hierdie week in die hoërhof in Windhoek hervat.Die verhoor was verlede jaar...

Weer vir 20 Januarie 2021

8 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Swaar reënneerslae met kitsvloede sal waarskynlik by Tsumkwe en die streke van die Kavango, Zambezi, Oshikoto, Ohangwena en Oshana voorkom en na die Omusati-...

Die Neckartaldam se 'beker loop oor'

8 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl 'n weerkenner meen swaar reën is moontlik in die tweede deel van Februarie en Maart vir Namibië op pad, het Neckartal...

Vuilspel in Shoprite/Nafau-staking beweer

8 ure gelede | Arbeid

Augetto Graig – Beskuldigings van vuilspel aan beide kante sal volgende Dinsdag in die hof draai, wanneer prokureurs vir Shoprite en die Namibiese Unie...

3 sterftes, 242 nuwe gevalle

16 ure gelede | Gesondheid

Drie nuwe Covid-19-verwante sterftes, een elk van Eenhana, Oshakati en Oshikuku, het die totaal vir die land op 296 te staan gebring. Vandag is 242...

Neckartaldam: Tot oorlopens toe vol

1 dag gelede | Weer

Elvira Hattingh – Teen saktyd gisteraand is verwag dat die Neckartaldam vanaf middernag sou begin oorloop en tot 1 100 m³ water per sekonde sou...

Video versprei soos ’n veldbrand

1 dag gelede | Gemeenskap

Tanja Bause – ’n Video wat deur me. Bertie de Villiers gemaak is toe haar man, Kiewiet, met haar en sy Land Cruiser deur ’n...