Afknouery lei glo tot mesdood

14 October 2020 | Misdaad
Denver Kisting op Rehoboth – 'n 14-jarige seun met spesiale leerbehoeftes het glo gisteroggend breekpunt bereik ná herhaalde afknouery en het 'n medekoshuisinwoner met een hou doodgesteek.

Die 15-jarige Ivan Zamuee is na wat verneem word sowat 'n uur ná die voorval in die koshuis van Laerskool St. Joseph's in die aangrensende St. Mary's-hospitaal dood.

Republikein verneem op goeie gesag skorsing het Zamuee en 'n groep seuns in die gesig gestaar nadat hulle glo by onder meer diefstal en beskadiging van koshuiseiendom betrek is.

Sy ouers is glo van dié verwikkelinge ingelig en is gevra dat hulle hom Dinsdagaand by die koshuis moes kom haal.

Na wat verneem word is 'n oom afgevaardig, maar “het nie kans gesien nie” om Dinsdagaand die seun in sy sorg te neem.

Zamuee het glo die seun wat na bewering vir sy dood verantwoordelik was, afgeknou.

Dit word vermoed die tenger seun wat gister kaalvoet en in 'n kortbroek by die polisiekantoor op Rehoboth was, het gisteroggend vermoedelik breekpunt bereik en vir Zamuee doodgesteek. “Die mes het heel ingegaan. Daai is woede. Daai is 'ek kan nie meer nie',” het 'n bron na aan die ondersoek gesê.

Dié bron het gister gesê dié tragedie kon verhoed gewees het as die oorledene uit die koshuis verwyder is.

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het gistermiddag by monde van sy uitvoerende direkteur, me. Sanet Steenkamp, skok en hartseer oor die voorval uitgespreek.

Zamuee was 'n graad 8-leerder by Rehoboth Hoërskool.

Omdat daar glo nie plek vir hom in dié hoërskool se koshuis was nie, is hy in die laerskoolkoshuis gehuisves.

Steenkamp sê: “Die verlies aan lewe, veral op so 'n tragiese en ongelukkige manier, het ons diep getref. Ons heg waarde aan die lewe van elke kind.

“Die ministerie benadruk weer dat skole plekke van veiligheid moet wees (vir beide leerders en onderwysers) waar ouers en voogde die opvoeding van hul kinders in die sorg van onderwysers plaas. Dié voorval word diep betreur.”

Die uitvoerende direkteur het voorts gesê die inwerkingstelling van die nasionale veilige skool-raamwerk moet opnuut afgedwing en versterk word om sistemiese afknouery en geweld in skole te verhoed.

Steenkamp sê die onderwysministerie sal psigomaatskaplike steun aan alle geraakte partye verleen.

Oor die voorval het adj.komm. Eric Clay, die koördineerder van misdaadondersoeke in die Hardapstreek, gister gesê die voorval het tussen 06:30 en 07:00 plaasgevind.

Volgens hom het die verdagte vir Zamuee een keer in die bors met 'n kombuismes gesteek.

Zamuee is dood terwyl hy mediese behandeling ontvang het, sê Clay.

Die tienerverdagte sal na verwagting vandag in die landdroshof op Rehoboth op aanklag van moord verskyn.

Hy is gisteraand in 'n enkelsel by die polisiekantoor op dié dorp aangehou.

– [email protected]

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

9 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

9 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

9 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

9 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

9 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

9 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

9 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

9 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...