'Drenkelinge’ skitter op die ATKV-verhoog

Dié toneelstuk het die gehoor laat lag, vrae vra, op die punt van hul stoele laat sit en het goud losgeslaan by die nasionale ATKV-Tienertoneel in Windhoek.
Denése Tromp
’n Eindelose donker oseaan, vyf kinders vasgevang op ’n skip, geen kos of water, en ’n fyn lyn tussen die werklikheid en jou verbeelding.

Dít is die wêreld van Drenkelinge, geskryf deur IC Engelbrecht, AHC Uys en IC van Graan. Dié toneelstuk het die gehoor laat lag, vrae vra, op die punt van hul stoele laat sit, en het goud losgeslaan by die nasionale ATKV-Tienertoneel in Windhoek.

Op 22 Julie het Windhoek Afrikaanse Privaatskool se hoërskoolleerders die verhoog betree met ’n spannende toneel. Duan Schiele, Mira Theron, Lisa le Roux, Schalk Bester, Arina van Wyk en Jessné Swart het onder leiding van Ria-Leen Louw en Mareth van Schalkwyk – albei onderwysers by Windhoek Afrikaanse Privaatskool – harde werk ingesit en die vrugte daarvan gepluk.

Drenkelinge neem die kykers op ’n spanningsvolle reis saam met die vyf kinders wat gestrand is op ’n skip in die middel van die oseaan. Die kaptein van die skip, Dirk (gespeel deur Duan Schiele), probeer leiding neem om die groep veilig huis toe te bring, terwyl Karen (Mira Theron) die vrede bewaar en vir Lisa versorg. Lisa (Arina van Wyk) is die jongste van die klomp, het die kortste strootjie getrek en die slegste geluk in hul avontuur.

“Ooglopende ervaring. Dit was nostalgies en het herinner aan mens se kinderjare. Ons hoop regtig om weer iets soos hierdie te kan doen,” sê Duan Schiele.

Die reguit een, en soms die boelie van die spul, is Murray (Lisa le Roux), wat die glas half leeg sien en gereeld die kaptein uitdaag. Murray se grootste aanhanger is Pedro (Schalk Bester), wat dikwels op Murray staatmaak as beskermer wanneer hy en Dirk begin baklei.

Net toe die toneelspel sy hoogtepunt bereik, word die kyker geskok deur die dramatiese verskyning van Ma (gespeel deur Jessné Swart), en die gehoor moet self probeer bepaal waar die lyn tussen werklikheid en verbeelding lê.

’n Uitstekende toneelstuk wat ’n grappige storie vertel, terwyl daar iets dieper en donkerder onder die kinders se avontuur skuil. Drenkelinge het definitief hul eerste plek op die podium verdien.

“Hulle was ’n wonderlike span; hulle het uitstekend saamgewerk. Dit was ’n voorreg om saam met só ’n briljante jong groep te kon werk,” sê regisseur Ria-Leen Louw.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer