Die groep Delta-leerders wat na Belgrado reis. Foto verskaf
Die groep Delta-leerders wat na Belgrado reis. Foto verskaf

Delta na 'Joy of Europe' in Serwië genooi

Die leerlinge sal die land en streek verteenwoordig met tradisionele danse en sangoptredes.
Desmarius Hansen
Delta Hoërskool in Windhoek gaan van 1 tot 6 Oktober 2025 deelneem aan die 56ste Internasionale Byeenkoms van die Kinders van Europa, beter bekend as “Joy of Europe”, in Belgrado, Serwië.

Die skool sal nie net die Khomasstreek verteenwoordig nie, maar ook Namibië by die 27ste Internasionale Teken- en Skilderkompetisie.

Die groep leerders vertrek op 26 September en keer op 10 Oktober terug.

Dit is die tweede keer dat Delta genooi is na Belgrado, waar die leerders tradisionele danse en sangoptredes sal opvoer. Voorts is dit reeds die derde deelname van die skool aan die kunskompetisie.

Hulle deelname word gefasiliteer deur Draga Boskovic, eggenote van die erekonsul van Serwië in Namibië en ook onderwyseres by Delta.

“Ek is baie opgewonde, want dit sal my eerste keer in Europa wees,” sê Aiva Buckley, een van die deelnemende leerders.

In 2024 het Delta internasionale erkenning verwerf toe een van hul leerders ’n prys in die “Joy of Europe”-kunskompetisie gewen het.

Namibië se deelname beklemtoon die sterk kulturele en opvoedkundige bande wat oor die jare tussen Namibië en Serwië opgebou is, en dra by tot die bevordering van vriendskap en samewerking onder jong mense.

“Ek is bly en bevoorreg om my land Namibië te verteenwoordig,” voeg Aiva by.

Vir vanjaar se byeenkoms kry ’n nuwe groep leerders die geleentheid om hul land in die buiteland te verteenwoordig. Aangesien die toer self befonds word, doen die skool ’n beroep op borge en weldoeners. Enige finansiële bydraes sal met groot dankbaarheid aanvaar word.

Kommentaar

Republikein 2025-08-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer