‘Bosslagters’ by Otji vasgetrek
Uitstekende samewerking tussen boere, plaas- en kolewerkers, lede van ’n teenstropingseenheid, die polisie en ’n hond het die naweek tot die inhegtenisneming van vermeende bosslagters en ’n ietermagôsmokkelaar gelei.
Volgens Campbell Connan, bestuurder van die plaas Phantom, sowat 30 km suid van Otjiwarongo, het die buurvrou, Niena Dieckmann, verlede naweek twee paar spore op haar plaas, Okatjemunde, gevind en sy het die spore gevolg tot waar hulle Phantom binnegegaan het. Phantom behoort aan die president van die Namibië Landbou-unie, Thinus Pretorius.
“Ons het Maandag in een van ons kampe ’n spoor gekry, maar dit verloor. Daar was beeste in die kamp en ons het hulle na ’n kamp geskuif waar die kolestasie is,” het Connan gister aan Network Media Hub (NMH) gesê.
Volgens hom was daar twee beeste te min en verlede Donderdag het hy twee plaaswerkers uitgestuur om die beeste te soek.
“Vrydagoggend het ons twee vars spore gekry wat dieselfde spore is. Ons het vyf manne van die kolestasie gelaai om ons te help spoorsny.
“Die plaaswerkers, Chris Boois en Mathias Almas, en ’n kolewerker het die spoor gesny en ons ander het voor gaan spoorsny teen die grens van die ander buurplaas, Laconia, waar die eienaar sy toestemming gegee het dat ons hulle kan volg,” het Connan vertel.
Hulle het die hele dag die voetspore tot diep in die plaas in ’n moeilike beboste terrein gevolg en ’n strik gekry.
Volgens Connan het hulle omstreeks 15:40 op die verdagtes se kampplek afgekom waar die rook nog gedraai en die vleis wat aan ’n draad gehang het.
“Ons het die kamp probeer omsingel. Hulle was besig om ’n siësta te neem en een het opgevlieg toe hy ons gewaar en gehardloop. Die tweede een het ook gehardloop.”
Hy sê nie een het skoene aangehad nie en hulle het die naaste ene agtervolg.
“Die hond Malie was agterna en 100 m verder toe hardloop die verdagte hom in ’n digte bos vas.
“Met Malie se hulp het ons hom vasgekeer. Hy het ’n slagmes by hom gehad en ons moes vinnig wegspring. Ons het geen wapens by ons gehad nie, maar een van die kolemanne het ’n lang boomtak gevat en hom ’n hou toegedien.”
Connan sê die verdagte het oorgegee en sy mes laat val, waarna hulle hom terug na die kamp geneem en sy hande met tou vasgebind het.
“Daar was geen sein om die polisie te bel nie en ons het foto’s van die kamp geneem en hom ondervra. “Ons was ses manne wat vanaf 16:00 met hom moes terugstap omdat ons nie die polisie kon bel nie. Ek het drie manne met ’n radio by die kamp met vleis, slaapgoed, pot en skoene agtergelos.”
Hulle het glo twee uur lank gestap om terug by die pad te kom waar daar uiteindelik opvangs was waar hulle die polisie en Dieckmann kon bel, wat op haar beurt weer die teenstropingseenheid gebel het.
SLAGPLEKKE UITGEWYS
“Die polisie het uitgekom en die verdagte het nog slagplekke uitgewys. Een bees is by Phantom geslag waar ons die vel en kop gevind het. Ons maak die ander troppe beeste bymekaar om te sien of daar nog kortkom. By die kampplek van die buurplaas was ’n gemsbokkop en -vel, maar die vleis was nie meer daar nie,” het Connan gesê.
“Toe ons terugkom by ons karre, was dit al 21:50. Saterdag het die polisie weer uitgekom om ander tonele te ondersoek.”
Hy sê die Nyime-teenstropingseenheid het hulle goed ondersteun wat volgens die polisie intussen die ander verdagte se kaalvoetspoor gevolg het.
“Iewers buite Otjiwarongo het hulle hom agternagesit en hom in die oggendure van Saterdag gevang. Hy was glo in besit van ’n lewende ietermagô in ’n sak,” wat deur die bestuurder van Nyime op Otjiwarongo, Renier van Zyl, bevestig is. Die Namibiese polisie het bevestig dat 'n 28-jarige verdagte om 11:24 in verband met die besit van 'n ietermagô sonder 'n permit in hegtenis geneem is.
Volgens Connan het een van die polisiebeamptes genoem die 49-jarige vermeende bosslagter is ’n “bekende ou kalant” wat in die verlede glo al tronkstraf vir dieselfde oortreding uitgedien het.
“Niena en die teenstropingseenheid het ook verlede Donderdag verdagtes by haar op Okatjemunde gevang.”
Die twee verdagtes verskyn na verwagting vandag in die landdroshof op Otjiwarongo.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie