Die voortvlugtige Suid-Afrikaanse misdadiger, Ferdi Visser (45). Foto verskaf
Die voortvlugtige Suid-Afrikaanse misdadiger, Ferdi Visser (45). Foto verskaf

SA voortvlugtige ook in Namibië gesoek

Beloning van N$100 000 uitgeloof
Ferdi Visser het verlede jaar uit aanhouding by die Barberton-gevangenis in Mpumalanga ontsnap.
Francoise Steynberg
Namibia Investigating Services (NIS) het bevestig die soektog na die Suid-Afrikaanse voortvlugtige word ook na Namibië uitgebrei.

’n Beloning van N$100 000 word uitgeloof aan enigiemand wat inligting verskaf wat sal lei tot Thomas Frederick (Ferdi) Visser (45) se inhegtenisname.

Die hoofondersoeker van NIS, speurder Michael Nieuwoudt, het gister aan Network Media Hub (NMH) gesê hy waarsku by voorbaat dat Visser hom in Namibië kan bevind en gevaarlik is.

“Daar is niemand so gevaarlik soos iemand wat honger is of niks het om te verloor nie.”

Visser het verlede jaar uit aanhouding by die Barberton-gevangenis in Mpumalanga ontsnap nadat hy in verband met die verdwyning ter see van John (Matambu) Dercksen (68), ’n skipper van Sodwana, in hegtenis geneem is.

Foto’s van Visser en kennisgewings dat hy gesoek word, is in November verlede jaar in Suid-Afrika en Mosambiek versprei nadat hy ontsnap het. Hy het nooit teruggekeer na die gevangenis nadat hy gemeenskapsdiens buite die tronk verrig het nie.

Dercksen het op Saterdag 16 Maart verlede jaar tussen Sodwana en die Mosambiekse grens verdwyn toe hy Visser, ’n kliënt, op ’n visvanguitstappie op sy boot geneem het. Die uitgebrande boot is die volgende dag aan die kus by Ponta Dobela in Mosambiek gekry, maar daar was geen teken van Dercksen of Visser nie. Visser is ’n week later ná ’n uitgebreide soektog in Maputo in hegtenis geneem.

Visser, ’n veroordeelde misdadiger wat tronkstraf van drie jaar uitgedien het, was pas uit op parool toe hy in Maart verlede jaar na bewering vir Dercksen gevra het om hom see toe te neem om vis te vang.

Die vermoede is Visser wou hê Dercksen moes hom oor die grens na Mosambiek neem en dat Dercksen geweier het.

Visser het verskeie kere in die landdroshof in Mbazwana in KwaZulu-Natal verskyn op aanklagte van bedrog, of alternatiewelik, diefstal. Die aanklagte teen hom is later teruggetrek.

Visser het egter in aanhouding gebly omdat hy sy paroolvoorwaardes in verband met ’n vorige bedrogsaak oortree het. Hy was veronderstel om tot Augustus vanjaar agter tralies te bly.

Vir enige inligting oor Visser, kontak Nieuwoudt by 081 641 5364.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer