Eerste minister Elijah Ngurare. Foto Kantoor van die eerste minister
Eerste minister Elijah Ngurare. Foto Kantoor van die eerste minister

‘Almal moet die vrugte pluk’

Ngurare ondersteun ekonomiese demokrasie
Die eerste minister meen nasionale hulpbronne moet billik tussen alle Namibiërs verdeel word.
STAFF REPORTER
Die eerste minister, Elijah Ngurare, sê die nuwe administrasie wil verseker dat Namibië se hulpbronne alle Namibiërs oraloor die land bevoordeel, wat die persepsie in die stof wil laat byt dat slegs sekere streke of diegene met politieke bande die vrugte pluk.

In ’n onderhoud op NTV se geselsprogram, The Agenda, wat hierdie Sondag uitgesaai sal word, het Ngurare ’n beroep op “ekonomiese demokrasie” gedoen met nasionale hulpbronne wat billik tussen alle Namibiërs verdeel moet word.

Bewerings van nepotisme – waar familielede of vriende voorkeur kry vir ekonomiese geleenthede ongeag meriete – teister Namibië al lank.

Ngurare meen hierdie praktyk hits korrupsie aan, ondermyn ontwikkeling, marginaliseer gekwalifiseerde individue en vestig ’n beskermingstelsel (patronage system).

Ngurare het gesê ware, breë ekonomiese bemagtiging – ’n boodskap wat hy sedert sy dae as sekretaris van die Swapo-jeugliga (SPYL) voorgestaan het – is onmoontlik, tensy natuurlike en ander hulpbronne billik versprei word.

“Wat ons moet hê, is ekonomiese demokrasie – in die sin dat hulpbronne van die land almal moet bevoordeel. Hulle moet nie iemand bevoordeel as gevolg van hul nabye verhouding met my of jou nie,” het hy gesê.

“Toe ons gedurende ons jeugliga-dae van ware ekonomiese bemagtiging gepraat het, het ons bedoel wanneer jy armoede in sommige dele van die land sien, jy nie hoef te wag vir Jesus om vir jou te sê dat daar billikheid is wat daar toegepas moet word nie.”

Hy het bygevoeg: “Wanneer ons sien dat daar geen water of ander basiese geriewe vir ’n waardige lewe is nie, moet ons vinnig op daardie uitdagings reageer.”

Ngurare het gesê die billike verspreiding van hulpbronne sal ook nasionale eenheid versterk.

Ngurare, eens ’n prominente jeugleier, is terug in die politieke kollig gebring deur president Netumbo Nandi-Ndaitwah wat hom as eerste minister van haar administrasie aangestel het.

Oor die jare heen is hy geprys as ’n skoon leier, onbesmet deur die korrupsieskandale wat baie van sy eweknieë binne en buite die regerende party verswelg het. Sy aandrang op beginsel – insluitend die verdediging van Swapo se grondwet toe ander dit na bewering geïgnoreer het – word wyd gesien as die rede vir sy politieke marginalisering wat daartoe gelei dat hy in 2015 saam met mede-aktiviste Job Amupanda, Dimbulukeni Nauyoma en George Kambala uit die party geskop is.

Die kwartet het hul skorsing in die hof betwis en hul lidmaatskap suksesvol herstel.

Gegewe president Nandi-Ndaitwah se eie reputasie vir integriteit, is Ngurare gevra of hul skoon rekords Namibië kan help weglei van diepgewortelde korrupsie.

“Om ’n leier van integriteit te wees, is nie ’n guns nie – dis ’n moet. Selfs wanneer jou beginsels jou lewensbestaan kos, slaap jy snags goed. Ek is gelukkig om ‘mutete’ of ‘Top Score’ te eet terwyl ek my integriteit handhaaf,” het hy gesê.

Ngurare het onthul dat een van sy take as eerste minister is om die impak van die regering se Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleid (BEE) te beoordeel – aanvanklik ontwerp om vorige ongeregtighede teen swart Namibiërs reg te stel – en of dit die beoogde ontvangers breedweg bevoordeel het of bloot ’n paar uitverkorenes met politieke bande verryk het.

“Dit is belangrik om te verseker dat diegene wat bemagtig is, voorbeeldig is in hul gedrag, want op hul skouers rus die hoop van ander wat dieselfde geleentheid soek. Wanneer jy droogmaak, benadeel jy ’n generasie.”

Hy het gewaarsku dat kritici van swart ekonomiese bemagtiging geregverdig sou voel as die begunstigdes daarvan nie hul geleenthede verantwoordelik gebruik nie.

“Jy moet jou uiterste bes doen met die geleentheid wat jou gegun word om aan die teenstanders te bewys dat ja, dit kan gedoen word.”

BEE het kritiek in die gesig gestaar omdat dit deur individue met noue politieke bande uitgebuit word, met beperkte voordele aan die breër bevolking wat dit veronderstel was om op te hef.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer